Vee vrek in Weste

Droog, droër, droogste

11 January 2017 | Landbou
Elvira Hattingh - Boere in die Weste is desperaat.

Hulle loop tans deur onder 'n langdurige droogte en stygende voerkostes terwyl hul vee en wild vrek. Daar was nog geen reën in die omgewing nie.

Buiten hulp van ander boere, ontvang hulle nie veel steun nie.

Mnr. Johnnie van Rensburg van Ongariwanda Hunting Safaris het pas op nóg 'n dooie waterbok by sy dam afgekom. Hy boer sowat 20 km van Kalkfeld af op die Omaruru-pad uit en sê die situasie by hulle lyk sleg.

“Die wild en bees vrek en ek kan net nie meer genoeg voer verskaf nie. Dis astronomies hoeveel diere ons tans verloor; ons het opgehou tel. Ons sal maar dit wat oorbly, tel,” sê hy.

Die Van Rensburgs boer onder meer met eksotiese wild op hul jagplaas.

“In 2013 het ons geen reën ontvang nie en ons was nog besig om te herstel van dié terugslag, toe hierdie droogte ons tref. My pa boer al lank op die plaas en hy sê hy het dit nog nooit so gesien nie.”

Van Rensburg sê hy sit daagliks sowat 30 bale gras of lusern uit, asook voerkorrels. Dit kos hom tussen N$6 000 en N$8 000 per dag sedert April verlede jaar.

“Tans laai ons al ons beeste en kleinvee en verkoop dit. Ons moet moed hou, maar die toekoms lyk nie rooskleurig nie. Afgesien van ander boere wat hul hande en harte oopmaak vir ons wat swaarkry, en gras en lusern geskenk het, kry ons nie enige hulp nie.”



TYD RAAK MIN

Mnr. Wilfred Weise, wat op die plaas Usakos Wes nr. 65 boer, sê die afgelope vyf jaar gaan die gebied onder 'n ontsettende droogte gebuk.

“Ons het in 2012 laas goeie reëns gehad en tans is daar geen weiding oor nie. Die laaste 15 mm het op Kersdag 2014 geval. Daarna het dit nog nie weer hier gereën nie. Dit was ook die enigste reën wat ons vir die hele 2014-reënseisoen gehad het.

“Ek voer my kleinvee al vanaf Februarie vanjaar. Ek het so 130 stuks vee en dit kos my sowat N$10 000 per maand om hulle te voer. Ek kan egter nie so voortgaan nie; dit behels al hoe meer insetkoste terwyl jy niks terugkry nie.

“As ek teen einde Januarie nog geen reën gehad het nie, sal ek die vee wat oor is moet verkoop of myself bankrot aan hulle voer.”

Weise sê egter as die reën nou begin, sal dit 'n welkome uitkoms bied en nie te laat wees nie.

“Ons reënseisoen begin eintlik nou eers. Ons trek egter tans swaar as gevolg van die droogtes van die afgelope jare. Sou dit egter kom reën, sal ons steeds nie voor ná minstens drie weke of selfs nie voor einde Februarie genoegsame weiding hê nie.”

Weise sê Usakos grens aan Damara­land, waar kommunale boere al tot 500 beeste die afgelope tyd verloor het. Hy sê 'n groot klomp wild vrek veral by Omaruru en Kalkfeld.

“Die hele Weste trek swaar – van Usakos, Karibib, Omaruru, Kalkfeld en Khorixas tot by Kamanjab,” het hy gesê.

Mnr. Braam Saaiman, wat 30 km suid van Usakos saam met 'n vennoot boer, sê ook hy het nog nie 'n druppel reën gehad nie en is nou dringend op soek na huurweiding vir sy koeie – al is dit net om hulle weer in so 'n kondisie te kry dat hy hulle kan bemark.

“Tans is hulle te skraal en verkoop hulle nie op vendusies nie. As daar boere in die Noorde of Ooste is wat sowat 45 tot 50 koeie, of selfs minder, vir sowat drie maande kan akkommodeer, sal dit soveel help.

“Dis swaar om te sien hoe die koeie en kalwers vir kos agter die motor aanhardloop. Wat baie sal help, is weiding. Bid ook maar vir ons.

“Ons het verlede jaar in totaal net 26 mm reën gehad en tot dusver het drie van my boorgate en twee putte opgedroog. Tans is daar net 'n bietjie kos in die berge oor en die koeie wei daar. Dis egter ook waar die luiperds is en hulle het al nege van my kalwers gevang.”

Saaiman sê hy koop lek en lusern vir tot N$140 per baal aan, wat slegs ­ongeveer drie dae lank vir een koei hou. Hy voer sy koeie en kalwers reeds drie maande lank, terwyl die res lek kry. “Ek kan nie bekostig om almal te voer nie. Ek is verplig om beeste te verkoop omdat die veld hier minstens twee goeie reënseisoene nodig het om te herstel.”



OMARURU WORD WOESTYN

Op die Facebook-blad Namibië Boere sê mense dat geen reën nog by Omaruru geval het nie.

“Droog, droër, droogste - Omaruru. Dis besig om 'n woestyn te raak,” skryf me. Anika Mostert.

Mnr. Louis Steenkamp sê die Weste kry net kol-kol reën.

“Verder net stofnat buie. Ons kort 40 dae en 40 nagte se reën. Die onder­grondse waters begin ook opdroog. Die groot bome het al gevrek,” sê hy.

Mnr. S.P. Tjombonde het foto's geplaas van 'n droë Karibib. “En dis hoe dit lyk hier by ons agter Karibib. Mense, bid asseblief vir reën, my diere dood.”

Mnr. Gerhard Byleveld sê die swart polle rondom Usakos is hartverskeurend. Ander sê Khomas, Hochland en die Gamsberg-gebied is ook nog bitter droog.

Mnr. Johan Oberholzer het onlangs foto's geplaas van wild wat in die Usakos- en Omaruru-omgewing vrek. Dit sluit gemsbokke, koedoes en sebras in.

Soortgelyk

 

Huis brand op Bethanie

5 ure gelede | Ongelukke

'n Huis in die Riverside-woonbuurt op Bethanie in die //Kharasstreek het aan die brand geslaan. Rookwolke het hemelhoog gestaan, het 'n leser via WhatsApp laat...

Werk stop op Windhoek-Okahandja-pad

8 ure gelede | Infrastruktuur

Catherine Sasman - Teenstrydige antwoorde is gegee of die werk op die tweede fase (oftewel seksie 4A) van die dubbelpad tussen Windhoek en Okahandja opgeskort...

Verdrinkingsaak: Dagmoeder skuldig

19 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw - 'n Vrou in wie se sorg 'n 11 maande oue baba vier jaar gelede in Pionierspark verdrink het, is gister in...

Bakkie rol by vulstasie

19 ure gelede | Ongelukke

Jessica Botes - Die bestuurder van 'n enkelkajuitbakkie wat Sondagoggend op Walvisbaai gerol en byna op 'n brandstofpomp te lande gekom het, is in hegtenis...

Rundu-ongeluk: Vier sterf, vyf beseer

19 ure gelede | Ongelukke

Saterdag het vier mense in 'n ongeluk 15 km buite Rundu gesterf en vyf is beseer. 'n Bakkie en 'n vragmotor het gebots nadat die...

Weer vir 17 Januarie 2017

19 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm tot bloedig warm in die //Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm tot bloedig warm wees...

Weer vir 16 Januarie 2017

19 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm oor die suidelike helfte. Elders sal dit warm tot baie warm wees met enkele donderbuie, maar...

'Onderwysstelsel grootste oorsaak van werkloosheid, misdaad'

19 ure gelede | Onderwys

Estelle de Bruyn - Die Namibiese onderwysstelsel is nog vér van die verwesenli­king van sy gestelde doelwitte van gelykheid en gehalte in onderrig.So sê die...

Omgewingsgroep besoek Chinese ambassade

19 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - 'n Sterk-bewoorde brief van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) wat op 21 Desember aan die Chinese ambassadeur oorhandig is, het...