Varser brood is daar nie

Ali Brood bak elke aand en Dawid lewer dit soggens met sy fiets af.
Tanja Bause
Tanja Bause – Elke dag om 09:00 klim Dawid Rooi op sy rooi fiets en laai varsgebakte brood op Gibeon af.

Die wit- en bruinbrode is die vorige aand deur Ali Ouseb gebak, gesny en verpak - gereed om by klein winkels en huishoudings oraloor die dorp afgelewer te word.

In 2014 het Chris en Magda Grobler die Gemsbok General Dealer op die dorp gekoop. Ná vier jaar se afwesigheid het hulle in Mei verlede jaar teruggekeer Gibeon toe.

“Ons is oorspronklik van Rosh Pinah, waar Chris jare lank ’n myner was. Toe ons op Gibeon aangekom het, het hy die eerste brode gebak,” het Magda gesê.

“Ek het geleer om die brood te bak, want die bakker het eendag net nie opgedaag nie. My eerste brötchens was baie groot en het soos brode gelyk. Ek het die tweede baksel kleiner gemaak en daar gaat ons,” het Chris gesê.

“Die bakkery was nog altyd deel van die besigheid en Dawid het die brood elke dag per voet afgelewer. Ons het vir hom ’n fiets gekoop en nou lewer hy die brood baie vinniger af,” het Magda gesê.

Tussen 80 en 90 brode word elke dag so afgelewer.

“Die broodverkope het baie toegeneem vandat ons dit by die winkels en huise aflewer. Mense plaas nou bestellings,” het Magda gesê.

Ali is op Gibeon gebore.

In 1990 het hy by die Spar op Mariental leer brood bak. Hy het later Windhoek toe getrek waar hy mense by verskillende takke van ’n kettingwinkel in die kuns touwys gemaak het.

“Ek het op ’n plaas net buite Gibeon grootgeword en in 2009 teruggegaan om weer te gaan boer. Die droogte het gekom en ek het baie met die boerdery gesukkel. Dit is toe dat Magda my gebel het en gevra het of ek nie vir haar wil kom bak nie. Nou is ek Ali Brood, die bekende bakker van Gibeon,” het hy breëbors gesê.

Ali bak ook gewone brötchens, asook brötchens vir worsrolletjies en hamburgers.

“Die mense hier op Gibeon ken net bruin- en witbrood. Hulle het brötchens net op foto’s gesien, maar nie geken nie, en nou is dit ’n ander storie.”

Ali bak saans tussen 80 en 100 brode en sy droom is om die bakkery uit te brei sodat hy die jongmense van Gibeon kan leer hoe om te bak.

“Ek sal nie vir altyd hier wees nie. Dit is net soos die lewe is. So ek moet nou my kennis aan iemand gee.”

Hy is besig om sy vrou op te lei en nooi jongmense uit om by die bakkery te kom inloer en kyk of hulle belang stel.

Volgens Magda wil hulle die kroeg wat deel is van die winkel en bakkery, sluit.

“Hier is genoeg kroeë en sjebeens op die dorp, maar nie een restaurant nie. Ons wil ’n restaurant begin waar ons etes bedien. Veral die oumense is nie elke dag lus om kos te maak of om in kroeë saam met die jeug te sit nie. In die restaurant kan hulle rustig sit ’n bier geniet en lekker eet,” het sy gesê.

Haar suster Juanita Blaauw is reeds besig met die spyskaart en bedien tans pizzas en hamburgers.

Kommentaar

Republikein 2024-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Brighton 0 vs 4 Manchester City | Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth LaLiga: Real Sociedad 0 vs 1 Real Madrid SerieA: Frosinone 3 vs 0 Salernitana | Udinese 1 vs 2 AS Roma European Championships Qualifying: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City English Championship: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City Katima Mulilo: 16° | 33° Rundu: 16° | 33° Eenhana: 16° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 32° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 18° | 30° Henties Bay: 15° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:03, High tide: 05:02, Low Tide: 23:14, High tide: 17:32 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 05:00, Low Tide: 23:12, High tide: 17:30 Walvis Bay: 16° | 26° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 04:59, Low Tide: 23:12, High tide: 17:29 Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 20° | 34° Keetmanshoop: 22° | 34° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 35° Oranjemund: 17° | 30° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 27° Lubumbashi: 11° | 25° Mbabane: 13° | 17° Maseru: 9° | 23° Antananarivo: 14° | 27° Lilongwe: 14° | 26° Maputo: 18° | 25° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 15° | 27° Durban: 17° | 22° Johannesburg: 15° | 23° Dar es Salaam: 23° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 14° | 26° #N/A #N/A