Van Zyl brand vir nuwe Russiese klub

Rugby

27 March 2020 | Sport
Tielman van Lill - Die 26-jarige Riaan van Zyl behoort binnekort na Rusland te vertrek vir sy tweede seisoen as professionele rugbyspeler daar.

Die onverskrokke Van Zyl het min bekendstelling in plaaslike rugbykringe nodig, want dié ratse buksie het Namibië met onderskeiding as sewesspeler asook in verskeie posisies in die vyftienmankode verteenwoordig.

Van Zyl het as skrumskakel by Hoër­skool Stellenbosch begin naam maak, waarna hy Boland o.19 in die Curriebeker (2012) verteenwoordig het. Hy was ook vir twee jaar as o.21-speler vir die Boland Kavaliers gekies, voordat hy na Namibië teruggekeer het.

Van Zyl is laas seisoen as agterspeler van die jaar aangewys by Kazan Strela (die Arrows), sy gewese klub waar die gewese Blou Bul-spelers en Welwitschias-afrigters JP Nel en Jaco Engels aan die stuur van afrigting is.

Van Zyl het meestal skrumskakel gespeel en vertel dié posisie was vir hom 'n ietwat vreemde ervaring, omdat hy eintlik lanklaas daar gespeel het.

Gemeet in minute was sy 16 ver­skynings vir die Arrows in werklikheid soms maar spaarsamige speeltyd, maar nogtans het hy met tien drieë sy waarde gewys. Hy het ook in twee sewestoernooie opgedraf. As sporadiese stelskopper het hy 'n sukseskoers van sowat 70 persent pale toe gehandhaaf.

“Ek het laas jaar weer in die 9-trui gespeel wat ek eintlik al van jongs af doen. Dit was 'n groot aanpassing omdat ek die sewe jaar van toe af meestal in ander posisies gespeel het, maar ek het met elke wedstryd verbeter. Ek kan nog nie besluit watter posisie ek tussen 9 en 15 verkies nie, want ek geniet beide ewe veel.

“Rusland is baie koud! Die winter was 'n groot aanpassing, want om in minus 6 grade Celsius buite te oefen, is geen grap nie. Gelukkig het ons op sulke dae binnenshuis geoefen.

“Die lewe in Rusland is beslis baie anders as wat ons ken, maar sulke ervarings is wat rugby so spesiaal maak.



BEVORDER

“Vir my gaan dit nie net oor die spel nie, maar oor die mense van ander kulture wat jy ontmoet en leer ken. Ek was verlede jaar by Strela wat in die tweede liga gekompeteer het. Ons het ons streekliga gewen en is met 'n algehele derde posisie tot die nasionale premierliga bevorder. Dus sal ek later vanjaar téén Strela speel.

“My nuwe klub is Bulava in Taganrog, wat 'n kleiner dorp is, maar genadiglik is die weer daar 'n bietjie warmer as in Kazan!

“Van die ouens wat saam by Strela was, verskuif vanjaar saam met my na Bulava, waar Grachev Vyacheslav Ivanovich die hoofafrigter is. Daar is tien spanne in die premierliga, wat elk een tuis- en een wegwedstryd teen mekaar speel.

“Ons sou aanstaande maand afgeskop het, maar weens die coronavirus is die begin van die liga tot Junie uitgestel. Omrede die klubs so ver van mekaar geleë is, vlieg ons die meeste van die tyd. Ons het wel een keer na die naaste klub per bus gereis en ons was vir agt ure op die pad!

“Hier is 'n hele paar Suid-Afrikaners wat in Rusland rugby speel, maar ek en Johann Tromp (heelagter in die 2015 en 2019 Wêreldbeker) was en is steeds die enigste twee Namibiërs wat hier doenig is. Hy is steeds by Strela, dus sal ons mekaar vanjaar op die veld teëkom.

“Klubs in die tweede liga mag ten alle tye net twee buitelandse spelers op die veld hê, terwyl die premierlig se reëls vyf toelaat. Dus sal meer speeltyd vir ons buitelandse ouens moontlik wees, wat beslis 'n seën is.

“Alles word vir ons betaal; dan kan jy lekker spaar en beslis 'n lewe in Rusland as professionele speler maak. Die lewenskoste daar is heelwat goedkoper, maar as jy na restaurante en klubs wil gaan, kos dit min of meer dieselfde as in Namibië.

“Inkopies is 'n fees, want die verbruikersgoedere is rêrig goedkoper,” het hy aan Republikein verduidelik.



TAAI BEDRYF

Van Zyl is daarvan bewus dat die vooruitsigte van 'n beroepspeler baie van sy geluk met beserings afhang.

“Dit is moeilik om te sê hoe lank ek nog in Rusland gaan speel. Die wêreld van beroepsrugby is 'n taai bedryf. Een slegte seisoen of een ernstige besering en dit kan jou laaste wees. Ek sal so lank ek kan in Rusland speel, maar as ek ander opsies soos Engeland of Frankryk kry, sal ek dit onmiddellik oorweeg.

“Rugby in dié twee lande is eenvoudig op 'n ander vlak. Die groot dryfveer is jou familie, want jy wil tog vir hulle 'n toekoms bou waar jy speel. Japan is natuurlik ook 'n groot trekpleister vir geldspelers,” het Van Zyl vertel.

Van Zyl was in 2011 die hoërskoolspeler wat die vierde meeste punte in Suid-Afrika vir 'n eerste span behaal het. Hy het bekende latere Springbokke soos Handré Pollard en Warrick Gelant uitgestof en boonop het sy 19 drieë die meeste oorskadu.

Van Zyl kuier tans nog in Namibië en het reeds sy werkvisum vir die komende seisoen in Rusland ontvang. Sodra die huidige reisbeperkings opgeskort word, sal hy na Rusland vertrek.- [email protected]

Soortgelyk

 

Geld rol vir ramp

9 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Die regering se N$8-miljardvoorskrif teen die ekonomie se Covid-koors is gister deur ekonome verwelkom, veral omdat dit amptelik as die eerste fase...

Baba jongste Covid-19-geval

9 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - ’n Nege maande oue baba is saam met sy pa die nuutste twee gevalle van Covid-19 in Namibië. Dit bring die nasionale...

Só werk landbou in inperkingstyd

9 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Tydens die inperkingstyd mag naweekboere nie heen en weer vanaf hul plase en wonings in dorpe beweeg nie. Voltydse boere en plaaswerkers...

NMH skenk toerusting, kospakkies vir padblokkades

9 ure gelede | Gesondheid

In ’n poging om die vinnige vloei van noodsaaklike vragverkeer by die vier padblokkades na die Khomasstreek te bewerkstellig, het Namibia Media Holdings (NMH) gister...

Noodtoestand: ‘Niks is normaal’

9 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê Namibiërs bevind hulle midde-in ’n buitengewone situasie. “Ons is in ’n noodtoestand. So, niks...

Weer vir 2 April 2020

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm in die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie in die...

Pandemie slaan toerismebedryf hard

9 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Die toerismebedryf gaan heel waarskynlik die hardste deur die Covid-19-pandemie getref word. Só sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië...

Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

9 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Mnr. Jóhannes Stefánsson, hokaairoeper in die internasionale korrupsieskandaal, oftewel die Fishrot-sage, het aan Yslandse verslaggewers gesê hy is al verskeie kere vergiftig...

Fitch gradeer SA banke verder in rommel in

9 ure gelede | Afrika

Nellie Brand-Jonker - Fitch het die vyf groot banke van Suid-Afrika naamlik Absa, FirstRand, Investec, Nedbank en Standard Bank verder in rommel afgradeer.Alle nasionale langtermyngraderings...