Tyson-sage herinner aan 'Spud'-boekreeks
Boks
Michael Green
Tyson Fury teen Mike Tyson? Regtig? Ek meen, régtig?
Die Mike Tyson-sage raak nou soos daardie gewilde Spud-boekreeks van John van de Ruit en meer spesifiek die boek Spud: The Madness Continues.
Elke dag is daar 'n nuwe brokkie waansinnige “nuus” – Tyson gaan weer teen Evander Holyfield boks, Tyson gaan teen Shannon Briggs in 'n kaalvuisgeveg optree, ensovoorts, ensovoorts.
Nou het Tyson Fury aan BT Sport gesê hy het óók 'n oproep van “Tyson se mense” oor 'n moontlike geveg teen Iron Mike gekry.
“Ek het 'n telefoonoproep gekry. 'Sal jy daarvan hou om teen Mike Tyson in 'n vertoongeveg te boks?' Ek het gesê: 'Hel, ja!' Maar ek dink nie dit sal gebeur nie,” het Fury volgens ESPN gesê.
'n Paar weke gelede, kort nadat Tyson aangekondig het dat hy aan 'n paar vertoongevegte wil deelneem om geld vir minderbevoorregtes in te samel, het Fury se pa, John, hand opgesteek om self teen Mike te boks.
Mike het duidelik nie eens gedink dis die moeite werd om op John Fury se uitdaging te reageer nie.
Mike mik skynbaar baie hoër. Hy stel nie eens in 'n derde geveg teen Holyfield belang nie, maar is glo bereid om die huidige swaargewigkampioen van die Wêreldboksraad, Tyson Fury, aan te vat.
Al sal dit in 'n vertoongeveg wees, moet 'n mens dan vir Mike se lewe begin vrees.
Op 53-jarige ouderdom is dit moeilikheid soek om teen iemand soos Tyson Fury (31), wat op die kruin van sy boksloopbaan en véél groter en fikser is, in die kryt te klim.
Kykers en toeskouers gaan nie tevrede wees as die twee manne mekaar net liefies tik nie.
Die vraag is in elk geval of Mike weet hoe om nie hiperaggressief in 'n bokskryt te wees nie.
En as hy laat waai, dan gaan Fury terugslaan. Dis nie 'n Rocky-fliek hierdie waarin die omie die jongman afstof nie.
En selfs al raak dit nie 'n straatgeveg nie, kan so 'n vertoongeveg in 'n verleentheid vir Mike ontaard.
Dis een ding om 'n paar sekondes lank soos 'n wilde dier te skynboks en 'n ander ding om selfs net vier rondes regtig teen 'n huidige superster te boks.
Mense vergeet hoe Mike teen die einde van sy boksloopbaan sy “Iron” verloor het en dat minder geroemde vegters soos Danny Williams en Kevin McBride hom oordonder en uitgeslaan het.
Dit sal dalk beter wees as Mike vir sy vertoongevegte 'n bietjie laer mik. Of dan ten minste iemand pak wat nader aan sy ouderdom is.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie