Trots om te sien hoe ons spelers in RSA presteer

15 September 2020 | Rubrieke
Dit is wonderlik om Namibiese sokkerspelers in buitelandse ligas te sien skitter, veral in ons naburige Suid-Afrika.

Hoewel daar weens oneindige tweespalt en onaktiwiteit ’n slegte nasmaak in die “Land of the Brave” se liga is, het bekende plaaslike produkte soos Peter Shalulile en Deon Hotto die maatstaf as twee van die Absa Premiersokkerliga (PSL) se mees uitstaande spelers gestel.

Shalulile het 16 doele vir sy klubspan Highlands Park aangeteken en het sodoende die seisoen as die gesamentlike voorste doelskopper afgesluit, gelyk met Hellings Mhango wat ook 16 keer vir Orlando Pirates die agterkant van die net gevind het.

Sy doele het nie net sy span gehelp om negende in ’n mededingende PSL-seisoen te eindig nie, maar het Shalulile ook in staat gestel om die aandag van die topspanne in die liga, insluitend Mamelodi Sundowns, te trek.

Mamelodi Sundowns – wat pas ’n historiese seisoen voltooi het deur die binnelandse “driekuns” te behaal met titelseges in die premierliga op dramatiese wyse op die laaste dag van die seisoen, die Nedbank-beker uitklopreeks asook die Top Agt – is baie geïnteresseerd in dié Brave Warriors-speler se handtekening.

Verskeie aanloklike aanbiedinge het die talentvolle doelskopper laat huiswaarts keer om sy gesin te raadpleeg om te besluit by watter klub hy moet aansluit.

Nog ’n speler wat sy talent vir Bidvest Wits aangewend het, Deon Hotto, het blykbaar by een van Suid-Afrika se mees suksesvolle spanne, Orlando Pirates, aangesluit. Dit volg nadat hy ook die aandag van bulspanne soos Kaizer Chiefs en Mamelodi Sundowns getrek het.

Hotto, wat op Swakopmund grootgeword het, het ’n merkwaardige seisoen beleef met ’n bydraende rol in sewe doele wat sy span gehelp het om die seisoen in die vierde posisie af te sluit, agter Sundowns, Kaizer Chiefs en Orlando Pirates.

Dit maak my baie trots omdat ek jare gelede die bekwame vleuel by die Swakopmund Football Club (SFC) hier op die kusdorp sien ontwikkel het.

Hotto het so ’n merkwaardige seisoen gehad dat die vervaardigingsreus, Adidas, ’n lonende borgskapooreenkoms vir die speler opgestel het.

Baroka FC is nie een van Suid-Afrika se mees aansienryke klubs nie, maar die linkeragterspeler Ananias Gebhardt het sy afrigter en bestuurder baie trots gemaak toe hy die wendoel in ’n oorwinning van 1-0 oor Mamelodi Sundowns aangeteken het, wat noodsaaklik was om te verseker dat sy span relegasie afweer.

Sy kragtige kopskoot het verseker dat Baroka sy aanspraak lewendig kon hou om.

Op die onvergeetlike laaste dag van die seisoen het sy span vir Kaizer Chiefs tot ’n 1-1 gelykopuitslag beperk om te verseker dat hulle volgende seisoen weer in die PSL mag aantree. In dié wedstryd was Gebhardt se verdediging van kardinale belang was om die noodsaaklike gelykoptelling te verseker.

Nadat Kaizer Chiefs tevore die Namibiese doelwagter Virgil Vries vir verskeie blapse afgeskryf het, is sy kontrak met die Soweto-reus beëindig en Chiefs het begin rondkyk om ’n ander doelwagter aan te skaf.

Vries het die res van die seisoen vir die eersteligaklub Moroka Swallows gespeel en het die verwerping in ’n silwer randjie verander. Toe die spreekwoordelike een deur toeklap, het Vries seker gemaak hy stoot die volgende een oop.

Deurdat hy in 14 wedstryde geen doele afgestaan het nie, het hy gesorg dat Swallows vir die eerste keer in vyf jaar weer tot die Absa Premierliga bevorder word.

Dit gee dié doelwagter kans om sy voormalige werkgewer Kaizer Chiefs verkeerd te bewys, want die twee spanne sal mekaar volgende seisoen op die veld ontmoet.

Hoewel daar al vir soveel maande geen ligasokker in Namibië gespeel is nie, het Namibiese spelers se prestasies vir hul onderskeie klubs in Suid-Afrika my trots gemaak.

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

10 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

10 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

10 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

10 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

10 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...