Trompop botsing eis vier
Yochanaan Coetzee
Vier mense is gisteroggend omstreeks halfelf op slag dood en twee is beseer in 'n grubotsing 25 km buite die hoofstad waarin twee voertuie mekaar trompop getref het.
Op die toneel is beweer die bestuurder van 'n Volkswagen Passat het glo vinnig en roekeloos ander voertuie op die Okahandja-Windhoekpad verbygesteek. Hy het na bewering beheer oor sy voertuig verloor en teen 'n aankomende Toyota Etios, wat met vyf insittendes uit Windhoek in 'n noordelike rigting op pad was, gebots.
Die bestuurder en drie passasiers wat in die Toyota gereis het, is op die toneel dood verklaar. 'n Vroulike passasier in dié verfrommelde voertuig het oorleef en is saam met die bestuurder van die Volkswagen hospitaal toe geneem.
Volgens die polisie is laasgenoemde lig beseer, maar die ander oorlewende se toestand is kritiek.
Toe Republikein by die toneel opdaag, was die liggame reeds verwyder, maar die skok oor die voorval nog tasbaar.
Padkonstruksiewerkers in die omgewing het gehelp om die verkeer te reguleer terwyl polisiebeamptes die toneel ondersoek het.
Klere en sakke met groente in die Toyota se kattebak laat dit voorkom asof die oorledenes in Windhoek was om inkopies te doen.
Lang remmerke op die toneel toon die bestuurder van die Toyota het die ongeluk probeer vermy. Dié voertuig het sowat 15 m van die plek van impak af eers tot stilstand gekom.
“Ons glo spoed was 'n faktor,” het konst. Edmund Khoaseb, woordvoerder van die Windhoekse stadspolisie, op die toneel gesê.
“Dit is van kardinale belang dat ons as bestuurders die spoedgrense moet gehoorsaam, veral op paaie soos hierdie wat op plekke onder konstruksie is en waar die spoedbeperking afgebring is na 80 km/h, soos hier.
“Hierdie spoedperke is vir 'n rede daar en buiten dit moet ons ons spoed aanpas afhangende van die toestande waarin ons onsself bevind.
“Soos ons die Kerstyd binnegaan, moet ons ons deel doen om veilige paaie te verseker,” het hy gesê.
Die polisie het gistermiddag in 'n verklaring gesê drie mans en 'n vrou is in die ongeluk dood.
Hul name kon nog nie bekend gemaak word nie, aangesien hul identiteite nog nie bekend is nie en hul naasbestaandes gevolglik nog nie in kennis gestel kon word nie.
Die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk duur voort.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie