Tone krul van lekker lees
Francois Bekker - Met ’n Fransi Phillips-verhaal vermoed die leser twee goed uit die staanspoor: Jou tone gaan krul van lekker lees. Met haar aweregse aanslag egter moet jy op jou hoede wees met ’n teks wat verrassend slim werk. Dié skrywer skroom nie om self as karakter in die verhaal in te spring nie!
Hanna is vasgevang in ’n toksiese verhouding waarin sy nie juis meer as ’n seksobjek vir haar minnaar is nie. Daarom is haar minderwaardigheidsgevoel verstaanbaar. Op ’n dag besef sy genoeg is genoeg. ’n Werkgeleentheid in Moskou klink soos iets in ’n feëverhaal. Maar dan maak dié boeremeisie ’n plan.
In Moskou word Hanna deur niemand anders nie as die bekende skrywer (berug selfs), Fransi Phillips, ingewag. Phillips is aanvanklik hulpvaardig, maar Hanna moet ligloop omdat dié skrywer haar as ’n karakter in ’n storie wil gebruik.
Sake verloop volgens plan as Hanna begin met onderrig vir Russe wat Engels onder die knie wil kry. Een van haar studente loop klas via die internet. Sy Skype-naam is Wolf79. Hy is aantreklik, slim en skatryk. Anders as die ploert in Suid-Afrika van wie sy gevlug het, sien hy iets anders in Hanna. Wat volg is ’n virtuele vryery, ouwêreldse romanse en ’n Pretorianer wat die Russe onderskat.
Tipies van ’n Phillips-roman kan dié verhaal op verskillende vlakke gelees word. Verby die tong-in-die-kies humor en stout romanse het Liefde in die tyd van die internet genoeg om die lyf om die ernstige leser groot leesplesier te verskaf.
In hierdie verband is die Belle Époque waarna Hanna graag verwys ’n belangrike sleutel. In Pretoria is sy die slagoffer van wrede seksisme. In Hanna egter skuil ’n gekultiveerde vrou wat smag om ontdek te word. Sy kan baie meer as ’n chauvinis se gebruiksartikel wees. In Moskou breek daar vir haar ’n era van nuwe moontlikhede aan wat haar die moed gee om haar selfbeeld te hersien.
Met ’n lekkerleestrant, humor en heerlike absurditeite word stekies geniepsig uitgedeel om verdwaalde politieke persepsies oor die Weste versus Rusland aan die kaak te stel. Selfs die Clintons loop deur. Onbeskof direk en sonder om doekies om te draai, is die teks gestroop van politieke korrektheid.
Soos met die ontsyfering van Cyrilliese skrif is dit ook die alfabet van die liefde wat Hanna onder die knie moet kry. Phillips weet hoe om met haar stories en karakters te goël. Soms verregaande. Deurgaans vernuftig. Met ’n brein en sy hart op die regte plek is dít mos hoe ’n moderne stadsprokie moet lees.
Leesplesier van die boonste rak.
Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie