Toeriste uit Europa land
Die aankoms van die Eurowings-vlug dui op 'n hervatting in toeristebesoeke aan Namibië.
Augetto Graig
Eurowings se vlug LH5434 het gisteroggend net voor sonop vanuit Frankfurt by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland. Die Airbus A330-300 met 280 sitplekke was minder as half vol, met 133 passasiers.
Dit was die eerste Europese vlug na Namibië sedert die internasionale verbod op lugvervoer vyf maande gelede in Maart weens Covid-19 ingestel is.
Eurowings, deel van die Lufthansa-groep, sal voortaan drie keer per week (elke Woensdag, Vrydag en Sondag) Windhoek en Frankfurt direk verbind. Retoervlugte vanaf Frankfurt na Windhoek word reeds vir sowat N$9 500 op lufthansa.com aangebied.
“Namibië is 'n belangrike mark vir die Lufthansa-groep,” sê dr. André Schulz, die groep se hoofbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika. Hy was laas Vrydag reeds opgewonde oor die landing. Die lugredery het die afgelope halfjaar 'n krisis beleef en “ons is werklik bly om na normale kommersiële besigheid te kan terugkeer,” sê hy.
Gister se vlug was bo verwagting vol, as mens die kort aanloop voor die vertrektyd in ag neem, tesame met verskeie reisbeperkinge wat steeds van toepassing is, sê Schulz.
“Dit is vir ons baie positief,” sê hy. Schulz sê egter die gedrag van reisigers het merkwaardig verander weens die globale pandemie.
“Aanvraag het verander,” sê hy. Die reisbedryf sal in die toekoms moet kyk hoe aanvraag reageer en daaruit leer, sê hy.
“Ons sal verwikkelinge in die komende weke noukeurig dophou wanneer om meer aanlooptyd te kan inspan,” sê hy. Volgens hom het die Namibiese Toerismeraad reeds begin om Namibië in Duitsland te bemark en die lugredery sal hom aanpasbaar hou om op enige toename in aanvraag te kan reageer.
Volgens die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se uitvoerende hoof, mnr. Bisey Uirab, is Duitsland een van Namibië se voorste bron-markte vir toeriste.
HERBOU VERTROUE
“Globale aanvraag bly 'n lastige kwessie. Ons glo vir die terugkeer van aanvraag moet ons vertroue herstel en daarvoor is gesondheid, higiëne en veiligheid van uiterste belang. Ons verwag eers teen 2024 dieselfde volumes van besoekers. Die herstel sal tyd neem,” sê Schulz.
'n Mens weet nooit as dit kom by die coronavirus nie, wys hy uit. “Europa is nou in die middel van 'n tweede golf, maar met toetsing en die moontlikheid van 'n entstof is dit moeilik om te voorspel,” sê hy.
Een onverwagte voordeel van die wêreldreaksie op die pandemie is die uitwerking op die aanvraag na vragvlugte, volgens Schulz. Hy sê die kapasiteit van Lufthansa se vragvliegtuigafdeling word vergroot.
“Op die gebied van vragvlugte is daar groot aanvraag,” sê hy.
Volgens Schulz is die grootste kopseer die herwinning van voornemende reisigers se vertroue in die veiligheid van lugvaart. In terme van Lufthansa se langtermynplanne met Namibië sê Schulz die werk aan toename in die aantal vlugte en 'n beter verstandhouding met die mark het reeds in 2017 begin.
Met die sterk bande tussen Namibië en Duitsland beoog Schulz standvastige, gereelde vlugte om die markte en kulture te koppel, met sterk fokus op toerisme en “'n spesiale band met Lufthansa as die voorste keuse van karweier,” sê hy.
Namibië se minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta sê: “Ná soveel maande in die stryd teen die globale pandemie is ons verheug om internasionale besoekers weer in Namibië te verwelkom.”
Volgens hom is Namibië gereed en die plaaslike toerismesektor voorbereid om aan reisigers 'n veilige vakansie te bied.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie