Swakop-man se stryd met verlore bene
Des Erasmus
'n Swakopmunder, mnr. Herbert Schmidlin (45), is weer op soek na sy linkerbeen.
Hy het dié ledemaat reeds drie keer verloor.
Herbert, onder veral hengelaars bekend as “Hoppie”, het met Republikein gesels oor die 26 jaar sedert hy in 1991 sy linkerbeen in 'n motorongeluk naby die brug net noord van Okahandja op pad na Otjiwarongo verloor het.
Daar was drie insittendes in die motor wat in 'n botsing met 'n tenkvragmotor betrokke was.
Die lewe van nog 'n man in die motor is geëis en 'n meisie is lig beseer.
Hoppie is ernstig beseer en meganiese toerusting is gebruik om hom uit die wrak te kry. Sy regterarm was op twee plekke gebreek en hy het ernstige miltskade opgedoen, en sy been was net onder die heupbeen feitlik aan skerwe.
In daardie stadium was Herbert 'n vakleerling by 'n onderneming op Otjiwarongo en hy en die ander insittendes in die motor was van 'n tegnikon in Windhoek af op pad na hul tuisdorp toe die ongeluk gebeur het.
In 'n Windhoekse hospitaal moes Hoppie sowat twee maande lank om sy lewe veg.
Ernstige kommer oor hartversaking het twee of drie keer bestaan. Gangreen het in die gebreekte been ingetree en dit is geamputeer.
Hoppie het toe sy opleiding as werktuigkundige voltooi en was in diens van 'n mynkontrakteur in die Namib waar personeel afgelê moes word.
Hoppie werk tans as verkoopsman in 'n groot hengelwinkel op Swakopmund.
Hy kom met sy krukke oor die weg, bestuur sy eie motor en is vertroud met hengel as sportsoort. Hy is self 'n verteenwoordigende hengelaar van die klub Hentiesbaai en is op die strande maklik uitkenbaar waar hy soms met sy krukke kniediep in die voorste branders staan. Ander hengelaars sê jy moet jou storie ken as jy teen Hoppie wil ingooi.
Duur proses
Ongelukversekering vir werkers het Herbert se verdere rehabilitasie en sy prostese gedek.
“Ek het maar altyd met die eerste kunsbeen gesukkel,” sê Hoppie. “Omdat my eie been so hoog afgesit is, is daar allerlei gespes aan die onderlyf waarmee ek gesukkel het. Al die meet en pas is wel daarby ingebou. Met die verloop van jare en die normale verandering van die liggaam tree skadeloosstelling (“workers' compensation”) weer met 'n volgende been in. Dit is 'n duur proses met oorsese Duitse tegnologie wat aangewend word.”
Na raming kos so 'n kunsbeen meer as N$100 000.
In die proses is van 'n agent in Windhoek gebruik gemaak. Om die proses te vergemaklik, is die eerste prostese aan die agent beskikbaar gestel. Dit was die tweede been wat Herbert kwyt was.
Daarna het die agent onderneem om sekere metings en afdrukke op Swakopmund te kom maak.
Sover dit Hoppie se kennis strek, is sekere uitbetalings in daardie stadium reeds gemaak om vir die koste in Duitsland in te staan.
Aanvanklik het hy oor die tussenganger se kontakbesonderhede beskik, maar toe die man nie opgedaag het nie, het hy vergeefs geskakel.
Al inligting wat hy gekry het, was dat die telefoonnommers wat hy gehad het, nie bestaan nie. So is Hoppie sy eie been, sy eerste kunsbeen en nou ook sy tweede kunsbeen kwyt.
Hy is onder die indruk dat die ongelukversekering vir werknemers aanvoorwerk vir sy derde kunsbeen doen.
Daar word ook beweer die tussenganger word nie net vir Hoppie se been gesoek nie, maar ook vir ander mense se ledemate.
Hoppie het gesê hy sal nie die naweek aan die ligabyeenkoms van die kus se hengelklubs kan deelneem nie, aangesien hy as verkoopsman op sy pos moet wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie