Swakop-eiendomsagent skuldig bevind

Voorvonnisverhoor later vandeesmaand

17 September 2020 | Howe
Jana-Mari Smith – 'n Eiendomsagent van Swakopmund wat daarvan beskuldig word dat hy tien jaar gelede US$900 000 van 'n generaal in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) se weermag gesteel het, is skuldig bevind op ses klagte van diefstal en geldwassery.

Hoërhofregter Eileen Rakow het Vrydag vir Erwin Rosalia Ludovic Sprangers skuldig bevind op ses van die sewe strafregtelike klagte wat verband hou met die geld wat generaal Francois Olenga tussen Februarie en Julie 2010 in sy rekening vir eiendomsprojekte in Namibië betaal het.

Sprangers se vrou is aanvanklik ook aangekla, maar sy is verlede jaar vrygespreek.

Buiten die klagte van die staat, het Olenga ook 'n suksesvolle siviele eis teen Sprangers aanhangig gemaak, waarin hy vir die terugbetaling van Olenga se geld gedagvaar is.



ONSKULDIG OP BEDROGKLAG

Rakow het Sprangers op die eerste klag van bedrog vrygespreek en gesê die staat kon nie bedrog “bo redelike twyfel bewys nie”.

Die hof was nie oortuig dat die be­skuldigde 'n “voorneme gehad het om die klaer te bedrieg tydens die gesprek waar die ontwikkeling van die erwe bespreek is nie,” het Rakow gesê.

Sy het hom egter skuldig bevind op aanklagte twee tot ses van diefstal deur toe-eiening aangesien Sprangers die generaal se fondse, wat in sy sorg geplaas is om vaste eiendom in Namibië te ontwikkel of te koop, wanbestee het.

Sy het gesê Sprangers het die geld vir sy persoonlike gebruik aangewend.

Rakow het benadruk die hof het in ag geneem dat Sprangers US$50 000 aan Olenga terugbetaal het.

Wat die sewende klag van geldwassery betref, het Rakow gesê die hof is oortuig daarvan die staat het bo redelike twyfel bewys Sprangers het die grootste deel van die gesteelde geld onwettig na sy huisleningskema oorgeplaas, wat die oorsprong van die fondse en die wettige eienaar daarvan verbloem het.



SLEGTE OOREENKOMS

Tydens die verhoor het die staat aangevoer Sprangers, die eienaar van Kintscher Estate Agents and Auctioneers, ken Olenga al sedert 2003.

Die twee het in Januarie 2010 mondelings ooreengekom dat Olenga U$900 000, of destyds N$6 785 318,76, in Kintscher Estate Agents se trustrekening sou betaal om eiendom in Namibië te ontwikkel en daarin te belê.

Die staat het aangevoer Sprangers het ingestem om die geld slegs met direkte opdragte van Olenga te bestee.

Die geld is tydens vyf verskillende transaksies tussen Februarie en Julie 2010 oorbetaal.

Die staat het toe beweer die beskuldigde het nie die geld volgens die ooreenkoms of soos deur Olenga goedgekeur is, gebruik nie, maar dit eerder vir sy eie doeleindes aangewend het.

Verder het hy glo nie die geld op Olenga se versoek terugbetaal nie.



OUDHEDE

Sprangers het die klagte ontken en aan die hof gesê die geld is in sy rekening betaal as vergoeding vir 'n waardevolle antieke Chinese vaas waarvoor Olenga 'n koper gevind het.

Hy het aangevoer dat Olenga die transaksie gereël het en die geld aan hom verskuldig was. Hy beweer dit was 'n seldsame 18de eeuse Qiaolong Chinese vaas.

Hy het aan die hof gesê die vaas het aan sy oorlede suster behoort, wat dit weer van 'n oorlede tante gekry het.

Hy kon egter nie die bestaan van dié vaas met dokumente staaf nie. Hy kon ook nie foto's daarvan in die hof toon nie.

Hoewel hy getuig het sy vrou en eksvrou en twee oudste dogters weet van die vaas, het hulle nie getuig om die bestaan van die vaas te bevestig nie.

Hy het verder beweer alhoewel hy nie die volle betaling vir die vaas ontvang het nie, het hy dit aan twee onbekende mans oorhandig, hoewel geen dokumentêre bewys van die kopers, die transaksie of die vaas bestaan nie.

Hy het verder beweer die identiteit van die koper, wat anoniem wou bly en die geld in sy rekening betaal het, was onbekend aan hom.

Olenga ontken enige kennis van die vaas se bestaan.



BEWYSE

Rakow het Vrydag gesê die bewyse wat by die hof ingedien is, staaf nie die beskuldigde se weergawe as redelik of moontlik waar nie.

Sy het gesê hoewel daar verskille in die getuienis van die staatsgetuies is, het sy in ag geneem dat die gebeure tien jaar gelede plaasgevind het.

Oor die algemeen het sy gesê die “bewyse wat deur die staat ingedien is, dra meriete en weerspreek die weergawe van die beskuldigde.”

Mnr. Jan Wessels van Stern & Barnard het Sprangers verteenwoordig, terwyl die staat deur staatsadvokaat Erick Moyo verteenwoordig is.

Sprangers is tans in aanhouding in afwagting op sy vonnisoplegging.

Die saak is tot later vandeesmaand uitgestel, wanneer 'n voorvonnisverhoor sal plaasvind.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Min kans vir vlieg na SA

1 uur gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer - Hoewel Suid-Afrika Donderdag sy grense vir besoekers uit goedgekeurde lande, waaronder Namibië, heropen, moet Namibiërs vir eers verlief neem met die feit...

Remaining powerful through education

1 uur gelede | Mense

Ester Kamati With a key interest in space science and the history of science, watching videos on these topics is Hosea Hashili’s favourite pastime. Hasili...

Weer, Dinsdag 29 September 2020

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm, maar baie warm in die Noorde. Enkele wolke sal na verwagting oor die Zambezistreek voorkom.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Vroeggebore tweeling sterk goed aan

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Twee maande nadat hulle te vroeg op 27 weke in die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek gebore is, kan die ouers...

Nuwe Fenata-voorsitter vanuit ontluikende toerismebedryf

1 uur gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Geskiedenis is gemaak toe die nuwe voorsitter van die Namibiese Toerismevereniging (Fenata), me. Netumbo Nashandi, vir die eerste keer uit die geledere...

Onopgeloste verdwynings, moorde stapel op

1 uur gelede | Misdaad

Ellanie Smit – Terwyl die familie van die 22-jarige me. Shannon Darlikie Wasserfall met die trauma van haar verdwyning ses maande gelede worstel, dreig die...

One ­Africa TV ­partners with NMH

1 uur gelede | Onderwys

Distributed through Namibia Media Holdings' (NMH) youth brand, My Zone, the newly added grade zero to seven lessons form part of a ­collaboration with the...

A look at National Readathon, Heritage Week

1 uur gelede | Onderwys

Enzo AmueleThe National Readathon and Heritage Week, which were launched by the minister of education, arts and culture Ester Nghipondoka, took place last week.The Readathon...

Dagboek vir die landbouer

1 uur gelede | Landbou

Agra ProVision se kursusseAgra ProVision bied van 5 tot 8 Oktober 'n kursus oor plaasbestuur in Windhoek aan en daarna van 6 tot 8 Oktober...