Suid-Afrikaners in staat van inperking geplaas

23 March 2020 | Gesondheid
Ronelle Rademeyer - Pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika het die buurland pas in ‘n staat van inperking geplaas wat om middernag Woensdag in werking tree.
Suid-Afrikaners sal vir 21 dae tot Donderdag 16 April tuis bly om die verspreiding van die coronavirus te rem en ‘n afplatting in die oordrag van Covid-19 te bewerkstellig.
Die aankondiging is gemaak ‘n week nadat die buurland se president die pandemie tot ‘n nasionale ramp verklaar het en buitengewone maatreëls vir die bekamping daarvan aangekondig het.
Ramaphosa het in sy toespraak aan die nasie gesê Suid-Afrikaners se reaksie op die krisis was merkwaardig.
“Toe ek die nasie verlede Sondag toegespreek het, was daar meer as 160 000 bevestigde Covid-19-gevalle wêreldwyd. Vandag is daar meer as 340 000 bevestigde gevalle.”
In Suid-Afrika het die getal bevestigde gevalle in agt dae sesvoudig toegeneem van 61 gevalle tot 402 gevalle. Ramaphosa het gewaarsku dit sal aanhou styg as buitengewone stappe nie dadelik gedoen word “om ‘n menslike katastrofe van enorme omvang” te voorkom nie.
Hy het gewaarsku dat ‘n vinnige styging in die getal gevalle die buurland se gesondheidsdienste onder meer druk sal plaas as wat dit kan hanteer en daarom is dit belangrik om die oordrag te vertraag en die kurwe van nuwe gevalle af te plat. Volgens Ramaphosa vaar die lande wat vinnig optree, beter in die bekamping van die siekte.
Die 21 dae lange bewegingsinperking sal ingevolge die rampbestuurswet toegepas word. Gesondheidswerkers, nooddienswerkers, sekuriteitsdienste, die weermag en polisie en ander mense betrokke by die bekamping van die pandemie sal daarvan uitgesluit wees.
Alle winkels sal toe wees, buiten vir kruidenierswinkels en apteke, noodsaaklike bankdienste, laboratoriumdienste en instansies betrokke by die lewering van water, elektrisiteit en telekommunikasiedienste.
Mense mag nie hul huise verlaat nie, behalwe om mediese sorg te kry, kos en medisyne te koop of maatskaplike toelaes te ontvang.
Tydelike skuilings sal vir haweloses ingerig word. Plekke sal ook ingereig word vir mense wat nie tuis in self-isolasie kan gaan nie.
Hy het ook gesê maatskappye wat by die produksie en vervoer van kos, basiese goedere en mediese voorrade betrokke is, sal oopbly.
Alle Suid-Afrikaners wat uit hoërisikolande terugkeer, sal vir 14 dae in kwarantyn geplaas word.
Geen buitelanders afkomstig uit hierdie lande sal in Suid-Afrika toegelaat word nie.
Ramaphosa het verder aangekondig maatreëls sal ingestel word om die ekonomiese impak te verminder. Dit sluit in ‘n Solidariteitsfonds waartoe maatskappye en organisasies kan bydrae. Die regering self sal R150 miljoen as aanvangskapitaal gee.
Verder het die Rupert- en Oppenheimer-families elk R1 miljard vir die fonds bewillig om kleinsake-ondernemings en hul werknemers by te staan.
Regulasies sal ook ingestel word om mense wat munt probeer slaan uit die pandemie deur goedere teen buitengewone hoë pryse te verkoop, te verhoed om dit te doen.
Belastingsubsidie van R500 per maand sal betaal word aan mense in die private sektor wat minder as R6 500 per maand verdien. Vier miljoen werkers sal so gehelp word.
Besighede met ‘n omset van minder as R50 miljoen per jaar, sal 20% van hulle PAYE-verpligtinge oor die volgende vier maande kan vertraag, asook ‘n gedeelte van hul inkomstebelasting sonder boetes oor die volgende 6 maande. Altesaam 75 000 SME’s sal so gehelp word.
R500 miljoen sal ook dadelik beskikbaar gestel word om SME’s in nood deur middel van ‘n vereenvoudigde aansoekproses te help.
Die Nywerheidsontwikkelingsfonds sal R3 miljard beskikbaar stel vir kwesbare ondernemings en om maatskappye wat belangrik is in die bekamping van die virus, se werksaamhede te help finansier. R200 miljoen is ook vir die toerismebedryf se SME’s bewillig.
Hy het gewaarsku teen baie streng optrede teen korrupsie en geldmakery uit die krisis.

Foto: Nampa/AFP

Soortgelyk

 

Nog twee Covid-19-gevalle in Namibië

2 ure gelede | Gesondheid

'n Negemaande oue baba en sy pa is die jongste twee Covid-19-gevalle wat in die land bevestig is. Dit bring die totaal op 13. Die...

Skouspel by Victoria-valle

5 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Op 27 Maart het ‘n enorme 3,890 m³ water per sekonde by die Victoria-valle afgestort. Dit is 54% meer as die langtermyngemiddeld...

Covid-19: Albertus Aochamub ontslaan

6 ure gelede | Gesondheid

Denver Kisting – Die Namibiese diplomaat in Parys, Frankryk, amb. Albertus Aochamub, is uit die hospitaal ontslaan.Dit kom nadat hy onlangs met Covid-19 gediagnoseer en...

Hoofstad onder inperking

18 ure gelede | In beeld

Lang rye mense staan Dinsdag voor winkeldeure in die hoofstad se winkelsentrums om een vir een ingelaat te word. Dít omdat hoktydregulasies die getal mense...

Te min Covid-19-toetsstelle, ventilators

18 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Die grootste struikelblokke in die stryd teen Covid-19 in Namibië sluit in ’n gebrek aan ten volle toegeruste isolasiegeriewe in die streke...

Noodmaatreëls geld reeds landswyd

18 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gisteroggend by navraag bevestig die Namibiese regering se Covid-19-noodmaatreëls is reeds op die hele land...

‘Trokdrywers ’n nasionale bate’

18 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – “Ons drywers is nou ons belangrikste bate en ons moet na hul welsyn omsien. Soos dinge nou aangaan, kan dit vir hulle...

Weer, Woensdag 1 April 2020

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en warm weer met verspreide donderbuie in die noordelike en sentrale dele van die land. Geïsoleerde tot verspreide donderstorms word op plekke...

Otjiwarongo reg vir Covid-19

18 ure gelede | Plaaslik

Augetto GraigOtjiwarongo is hard besig met voorbereidings om die nuwe ­coronavirus by die horings te pak. Die sakeleier mnr. Theo Borstlap en plaaslike apteker mnr....