Stukkie paradys padlangs

Hier kan ma en pa tydelik van die langpad vergeet.
Tanja Bause
Tanja Bause - Langs die B1-hoofweg by Mariental lê ’n stukkie paradys.

Die Padlangs-padstal, wat in November verlede jaar sy deure oopgemaak het, is nie ’n gewone padstal nie, maar ’n kleurvolle ontspanningsplek vir oud en jonk.

Jaco en Petro van Wyk was jare lank die eienaars van die Bambi-restaurant op die dorp.

“Ons het ’n plek nader aan die hoofstraat gesoek en met die eienaar van River Chalets, Piet Rossouw, begin gesels. Die vennootskap het perfek uitgewerk: Hulle het ’n restaurant vir hul gaste gesoek en ons het ’n plek langs die hoofpad gekry,” het Jaco gesê.

Petro maak nie net die kos vir die padstal nie maar ook vir troues, kinderpartytjies en alle ander funksies wat mense by Padlangs of in die dorp hou.

Van die parkeerarea af lyk dit nes enige ander padstal. Binne word handgemaakte items, ingelegde groente en vrugte, asook verskeie konfyte verkoop. Daar is ook varsgebakte koekies en beskuit om van te kies en keur op die rakke.

“Ons probeer om so veel as moontlik tuisgemaakte goed uit die omgewing en Namibië te verkoop. Dit is nie altyd moontlik nie byvoorveeld omdat die tannie wat die konfyt maak, haar kinders by die see gaan besoek en dan vir ’n paar maande nie kan lewer nie. Dit is nie ideaal nie, maar ons werk daaraan,” het Jaco gesê.

’n Boervrou voorsien al die vleissnitte aan die padstal.

“Sy maak ook al ons wors, sosaties en botter. Ook die room wat ons gebruik, is vars van die plaas af.”

“Dis vir my baie lekker as mense wat ’n paar weke vantevore by ons geëet het, op pad terug weer hier stop en sê ek soek daai bord kos wat ek laas gehad het, want dit was so lekker,” het Jaco gesê.

Wanneer jy deur die padstal loop en by die agterdeur uit, ontdek jy ’n klein paradys. ’n Groen tuin met kleurvolle swaaie, klimrame, ’n Mini, ’n trekker en ’n bromponie vir die kinders. Hier kan ma en pa rustig sit en ontspan terwyl die kinders na hartelus speel en van die lang pad vergeet.

“Mamma en pappa ontspan terwyl ons na die kinders kyk. Die kinders speel en is gelukkig en ons weet dat wanneer die kinders gelukkig is, is die ouers ook gelukkig,” het Petro gesê.

Dieretuin en kinders

Langs die speelpark is die dieretuin met allerhande klein, oulike, vriendelike en snaakse diere.

“Ek is ook ’n boer en dus baie lief vir diere. Met die droogte kry ons diere baie swaar. Ons moes byvoorbeeld die twee springbokkies en die vlakvark met die hand grootmaak. Baie van die klein bokkies en lammers is in die veld deur hulle ma’s agtergelos en ons maak hul groot,” het Jaco gesê.

“Ek het vir Betsie as ’n baie klein varkie gekry en haar met die bottel grootgemaak. Sy sal sommer op jou skoot klim en haarself tuis maak. Baie mense wat al hier by Padlangs tuis wa, kom weer en vra met die intrap slag hoe dit met Betsie gaan en waar sy is,” het Petro gesê.

Daar is van kamele, miniponies en beeste, volstruise, kalkoene, varkies, hase, marmotte en selfs ’n skaap met vier horings en een met vyf. Generaal, die bok met die langste horings en die sagste hart, staan op sy agterbene om mense te verwelkom.

“Ons verkoop bakkies kos sodat die kinders die diere kan voer. Vir hulle is dit ’n belewenis as ’n dier wat nie ’n troeteldier is nie, uit hulle hande eet en hulle daaraan kan vat.”

Volgens Petro is Padlangs baie gewild vir veral kinderpartytjies.

“Ons maak klein worsrolle en hamburgers vir die kinders. Ons versier die plek volgens die verjaardagkind se kleurwense. Jaco het ’n band van ’n laaigraaf in die tuin gesit met ’n sementvloer. Dit is nou Padstal se kinderswembad en ’n groot wenner,” het sy gesê.

Jonk of oud, by Padstal sal jy verfris uitstap - of jy van die plaaslike gemeenskap is of ’n familie wat moeg vir die lang pad is.

Leandra Visser, Jani Spangenberg en Nemone Williams neem ’n selfie met die kamele by Padlangs padstal. Foto Tanja Bause

Jaco en Petro van Wyk saam met Generaal die bok van Padlangs padstal.

Een van die besonders diere wat in die dieretuin gesien kan word.

Kinders geniet die unieke Padlangs swembad op ’n warm somersdag. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer