Stigma jeens lorriedrywers kwel

Nog twee glip uit kwarantyn

27 May 2020 | Vervoer
Ronelle Rademeyer en Francoise Steynberg – Lorriedrywers wat Namibië van noodsaaklike lewensmiddele voorsien en seker maak produkte bly op winkelrakke, bevind hulle terselfdertyd aan die skerp kant van agterdog en stigmatisering as moontlike virusdraers.

Mnr. Harald Schmidt, sekretaris-generaal van die Namibië Logistiekvereniging (NLA), sê dit is ’n tweesnydende swaard waarvan die voorgestelde oplossing is om vragmotorbestuurders te alle tye in die kajuite van hul vragmotors te hou en om hul kontak met mense te beperk.

Hy sê die logistiek- en vervoerbedryf hou juis tans asem op om te sien of sy voorstelle aan die ministerie van werke en vervoer vir wysigings aan die standaardprosedure vir die veilige handeling van vragmotorbestuurders aanvaar word.

In ’n dokument wat sowat ’n week gelede aan die ministerie gestuur is, beveel die bedryf aan dienste by grensposte en padblokkades moet na lorriedrywers geneem word, sodat hulle nie nodig het om uit te klim nie.

Die mees doeltreffende manier om die verspreiding van die coronavirus te voorkom, is om die bestuurders van vragmotors in die kajuite te hou, sê hy. “Hulle moet nie nodig hê om by grensposte uit te klim en vorms in te vul nie. Die immigrasie- en gesondheidsbeamptes moet hulle by die vragmotors besoek,” sê Schmidt.

Hy het by navraag gereageer op die jongste gebeure aan die Covid-19-front in Namibië, met geval nr. 21 wat ’n 47-jarige vragmotorbestuurder is.

Boonop het dit gister bekend geword twee vragmotorbestuurders het in Windhoek uit kwarantyn geglip.

Volgens die Namibiese polisie se streeksbevelvoerder van die Khomasstreek, komm. Joseph Shikongo, het twee lorriedrywers wat in die kwarantyngeriewe by Brakwater noord van Windhoek was, die naweek uitgeglip.

“Een het na sy huis in Goreangab-nedersetting gegaan, glo om ’n kombers teen die koue te gaan haal,” het Shikongo gesê.

“Die ander een het die nag by sy meisie in die Hakahana-nedersetting oornag.”

Shikongo sê die twee Namibiese lorriedrywers wat in Windhoek woonagtig is, is albei terug in die kwarantyn-fasiliteit.

“’n Span dokters van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is dadelik gekontak en die opsporingsproses is aan die gang om almal op te spoor met wie hulle in kontak was.”

Shikongo het lorriedrywers en die eienaars van vragmotors gemaan om aan die Covid-19-regulasies te voldoen ten einde die plaaslike oordrag van die virus te voorkom.

“Ons weet ook van vragmotorbestuurders wat nadat hulle deur die Kapps Farm-padblokkade is, in Klein-Windhoek met lede van die publiek in kontak was.”

Shikongo waarsku dat diegene wat kwarantynregulasies oortree, ’n boete van N$2 000 of ses maande tronkstraf opgelê kan word, of beide.

BEPERK INTERAKSIE

Schmidt sê die bedryf se voorstel is verder dat vragmotorbestuurders by grensposte en toegelate stopplekke onder begeleiding van die polisie of weermag na toilette gaan indien hulle nodig het om ablusiegeriewe te besoek.

“Die belangrikste maatreël om ons lorriedrywers te beskerm, is om te verhoed dat hulle met ander mense in kontak kom.”

Hy sê as hulle beskerm word en nie die virus opdoen nie, is hulle ook nie ’n gevaar om dit oor te dra nie.

Schmidt wys daarop dat lorriedrywers emosionele druk beleef aangesien hulle nie toegelaat word om met hul families en geliefdes in aanraking te kom nie. “Hulle kan nie saam met hul gesinne vir ’n ete aansit of met hul kinders kontak hê nie.”

Mnr. Dries Oberholzer, ’n bekende in vervoerkringe en kenner van die logistiekbedryf in Namibië en buurlande, stem saam die oplossing is om lorriedrywers in die kajuite van vragmotors te isoleer. “Dit verg dissipline, maar dis die mees praktiese manier om hulle te beskerm.”

Oberholzer, ’n Namibiër, is die bedryfshoof van Tswana Fuel in Botswana. Volgens hom is toestande by grensposte nie sodanig dat dit prakties is om Covid-19-toetse daar uit te voer nie. “Daar is nie genoeg parkeerplek vir vragmotors nie en ook nie genoeg ablusiegeriewe of plek om kos te koop terwyl hulle moet wag nie. Hulle kom ook só in noue kontak met ander lorriedrywers, wat ’n gesondheidsrisiko skep.”

Verder, sê hy, veroorsaak dit “massiewe vertragings” in die aflewering van vrag, wat op sy beurt koste verhoog en meebring dat die eindverbruiker duurder vir produkte sal moet betaal.

Volgens hom is termiese koorsmetings terwyl die bestuurder binne die kajuit van sy vragmotor is, van uiterste belang.

Botswana het sowat tien dae gelede begin om lorriebestuurders by grensposte vir Covid-19 te toets deur deppers te neem en vir die aanwesigheid van die virus te laat ontleed.

Soortgelyk

 

Fishrot: Geen borg, eis ACC

5 ure gelede | Howe

Jemima Beukes Die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) is vas oortuig betrokkenes by die Fishrot-skandaal het op ‘n uitgebreide wyse saamgespan om honderde miljoene dollar te steel.Sowat...

Air Nam se vlerke geknip

5 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Die nasionale redery is met sy rug teen die muur en het nie beweegruimte om langer die kwessie oor sy bankrotskap en...

Weer vir 9 Julie 2020

5 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en nat toestande word Vrydag en Saterdag in die Suide en Weste verwag. Baie koue toestande word oor die suidelike, sentrale en oostelike...

Munisipale werkers betoog oor kontrakte

5 ure gelede | Regering

Kristien Kruger – Sowat 600 skoonmakers het gister tydens middagete na die Windhoek munisipale hoofkantore opgeruk om ‘n klagskrif aan die burgemeester, me. Fransina Kahungu,...

Itula se partyplanne op dreef

5 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), mnr. Theo Mujoro, sê dié nasionale kiesliggaam het nog nie dr. Panduleni Itula se...

Pasgebore baba toets twee keer negatief

5 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - 'n Pasgebore baba wat die naweek aanvanklik as Namibië se geval 362 van Covid-19 aangemeld is, het twee keer daarna negatief vir...

Bibbernaweek, reën voorspel

5 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die Namibiese weerkantoor het ‘n weerwaak uitgereik vir koue weer wat reeds van vandag af in die Weste verwag word.Terselfdertyd sal koue,...

Staat wil appelleer teen uitspraak oor arbeidsreëls

5 ure gelede | Regering

Ronelle RademeyerDie staat is voornemens om appèl aan te teken teen die volbank-uitspraak twee weke gelede waarin bevind is die Covid-19-arbeidsregulasies is ongrondwetlik en gevolglik...

Windhoek se vullis drom op

5 ure gelede | Regering

Denver KistingDae nadat die Windhoek-munisipaliteit (CoW) moes toegee hy is sy inkomste uit parkeermeters kwyt, het dié plaaslike owerheid erken hy het ook tans geen...