Sterrekalender vir 2019

Verduisterings, meteoorreën en meer op pad

02 January 2019 | Omgewing
Elvira Hattingh - Sterrekykers kan vanjaar uitsien na onder meer ‘n seldsame gebeurtenis waartydens die planeet Mercurius tussen die aarde en die son verby sal beweeg, verskeie sons- en maansverduisterings, asook verskeie meteoorreëns.

Vanjaar sal ook drie supermane en ‘n bloumaan lewer, terwyl die maan en Jupiter náby aan die aarde sal kom.

Die hoogtepunt van die jaar in die sterreruim is waarskynlik Mercurius se vaart van meer as vyf ure lank verby die son – ‘n seldsame gebeurtenis, volgens Nasa.

Mercurius, die kleinste planeet in ons sonnestelsel, beweeg slegs sowat 13 keer ‘n eeu tussen die aarde en die son verby. Dit het in 2016 vir die eerste keer in 10 jaar gebeur en toe was Mercurius sigbaar van die aarde af.

Op 11 November, van omstreeks 14:34 plaaslike tyd af, sal die planeet Mercurius vir die tweede keer in twee jaar voor die son verby beweeg.

Dit sal die planeet meer as vyf ure neem om sy tog tussendeur die aarde en die son te voltooi. Dit sal soos ‘n kol op die son vertoon en sterrekykers sal dit met behulp van ‘n teleskoop en sonfilters ook van Namibië af kan sien. Moet egter nooit met die blote oog direk na die son kyk nie.

JANUARIE SE MAANSVERDUISTERING

Amerikaners is veral opgewonde oor die superbloed- wolfmaansverduistering op 21 Januarie, omdat dit die eerste keer in drie jaar sal wees dat hulle ‘n totale maansverduistering sal kan sien.

Plaaslik sal die maan vroegoggend op 21 Januarie tussen 04:36 en 05:33 slegs gedeeltelik verduister wees. Net voor die totale maansverduistering begin, sal die maan egter oor Namibië ondergaan.

Nasa noem hierdie een van vanjaar se merkwaardigste skouspele omdat die maan ook hiertydens sy naaste punt aan die aarde sal bereik. Dit beteken die maan sal effens groter en heelwat helderder as gewoonlik vertoon – iets waarna daar as ‘n supermaan verwys word.

Totale maansverduisterings word dikwels ‘n bloedmaan genoem omdat die son, aarde en maan ‘n reguit lyn vorm en die sonstrale wat deur die aarde se atmosfeer op die maan skyn, dit dan rooi laat vertoon. Die eerste volmaan in Januarie staan ook in sommige plekke as die wolfmaan bekend – vandaar die benaming van “Superbloed-wolfmaan”.

HALLEY SE STERREREËN

Die Eta Aquarides-meteoorreën sal sy piek tussen 6 en 7 Mei bereik en sal plaaslik tussen 03:00 en 07:00 sigbaar wees.

Na verwagting sal dit tot 50 verskietende sterre per uur lewer. Volgens Sky & Telescope behoort dit een van die beste meteoorreëns van die jaar te wees.

Die meteoorreën is egter van 19 April tot 26 Mei sigbaar. Dit word veroorsaak deur die stof en puin wat deur Halley se komeet agtergelaat is toe dit in 1986 verby die aarde beweeg het.

Dié komeet sal na verwagting weer teen 2061 ons sonnestelsel betree.

Nasa sê ook danksy ‘n nuwemaan sal die naghemel tydens die meteoorreën besonder donker wees, wat vir ‘n selfs beter vertoning sal sorg.

NOG VERDUISTERINGS

Namibië is op die regte plek geleë om die gedeeltelike maansverduistering op die nag van 16 Julie te sien. Dié verduistering, waartydens sowat twee derdes van die volmaan deur die aarde se skaduwee bedek gaan word, sal ook in Suid-Amerika, Europa, Asië en Australië te sien wees.

Plaaslik sal dit tussen 20:43 en 02:17 sigbaar wees.

Geeneen van die grootste sonsverduisterings van die jaar sal egter in Namibië sigbaar wees nie.

‘n Gedeeltelike sonsverduistering sal vroegoggend op 6 Januarie voorkom, maar dit sal nie in Namibië sigbaar wees nie – slegs van noordoostelike Asië en die noordelike Stille Oseaan af.

‘n Totale sonsverduistering op 2 Julie sal ook nie plaaslik sigbaar wees nie, hoewel dit Suid-Asië en Suid-Amerika ‘n dag lank sonder sonskyn gaan laat.

Ook sal 26 Desember se ringvormige sonsverduistering nie plaaslik gesien kan word nie.

Bronne: ww.timeanddate.com, eclipse.gsfc.nasa.gov en www.skyandtelescope.com.

Soortgelyk

 

'n Seder val in Swapo

9 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

9 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

9 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

9 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

9 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...

Water: Hou rekord van elke druppel

9 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh - Tot 90% van die water in Windhoek wat onnodig weens lekkasies of buitensporige waterverbruik verlore gaan, sou gespaar kon word indien huishoudings...

Semifinalis onttrek aan Mej. Namibië

9 ure gelede | Gebeure

Tanja Bause - 'n Semifinalis in die Mej. Namibië 2019-kompetisie, ­Michelle Pretorius, het aan die geleentheid onttrek. Volgens haar ma, me. Anke Pretorius, het Michelle...

'Millenniërs werk anders'

9 ure gelede | Ministeries

Augetto Graig - Werkloosheid onder die jeug is 'n nasionale krisis wat op alle vlakke, nie net deur die regering nie, dringend aangespreek moet word....