Steiers tuimel onder boubedryf
Die situasie in die land se konstruksiebedryf raak by die dag meer benard.
Ronelle Rademeyer - Die Namibiese bou- en konstruksiebedryf lê met sy gesig in die grond en 63% van ondernemings het óf reeds hul deure gesluit, óf hul bedrywighede aansienlik afgeskaal en selfs dormant geraak.
In die sewe maande tussen 1 September 2016 en 31 Maart vanjaar is sowat 30% van werkers in die bedryf uit hul poste ontslaan.
Dié inligting blyk uit 'n opname wat die Federasie vir Namibiese Konstruksiebedrywe (CIF) in April onder sy lede gedoen het om die impak van die regering se besnoeiing op kapitaalprojekte en die agterstallige betalings aan kontrakteurs te bepaal.
“As nuwe tenders nie toegestaan word nie, sal 67,4% van die ondernemings wat aan die opname deelgeneem het, genoodsaak wees om toe te maak of af te skaal. Digby 40% van al die werknemers in die konstruksiebedryf sal dan op straat sit,” sê me. Bärbel Kirchner, konsulterende hoofbestuurder van die CIF.
“Tensy die regering ingryp, gaan die situasie net al erger word.”
Sy sê die impak word dwarsdeur die waardeketting gevoel. Dit is nie net die bou- en siviele kontrakteurs wat mense moet aflê nie, maar ook sub-kontrakteurs soos elektrisiëns, loodgieters, vloer- en dakspesialiste, verwers en lugversoringstegnici.
Professionele lui soos argitekte, ingenieurs en bourekenaars sit ook sonder werk, terwyl die vervaardigers en verskaffers van boumateriale ook sal moet afskaal en mense afdank.
Kirchner sê dit is belangrik dat die regering aandui wanneer die N$1,8 miljard wat vir die huidige boekjaar opsygesit is vir agterstallige betalings deur die staat, diensverskaffers gaan word. Verder moet ook bekend gemaak word hoeveel van dié geld na die konstruksiebedryf gaan.
“Daar heers ook groot onsekerheid oor watter projekte, wat reeds toegeken is, voortgesit gaan word en watter gekanselleer gaan word. Die bedryf moet voorsien word van 'n lys van al die projekte wat in 2017-'18 geadverteer gaan word en waarvoor tenders toegeken sal word. Daarsonder kan die bedryf nie strategiese beplanning doen nie,” sê sy.
Verder wys sy daarop dat die plaaslike ekonomie deur bou- en konstruksieprojekte gestimuleer kan word, mits dit toegeken word aan Namibiese kontrakteurs wat belasting betaal, gehoor gee aan die Arbeidswet en plaaslike boumateriaal koop, pleks van dit invoer.
Me. Magreth Kazondunge, uitvoerende direkteur van die Namibiese Vereniging vir Klein Kontrakteurs (NSCA), het vroeër in 'n onderhoud gesê as die regering nie bou- en konstruksieprojekte aan plaaslike maatskappye toeken nie, is Namibiërs nie in staat om aan die Namibiese Huis te help bou nie.
Mnr. Panashe Daringo, besturende direkteur van MPP Civils Namibia en visepresident van die CIF, het tydens dieselfde onderhoud gesê konstruksiemaatskappye is met hul rûe teen die muur en het een van drie opsies.
“Hulle kan afskaal, hulle kan diversifiseer en vennootskappe aangaan, of hulle kan water trap en wag tot die ekonomie verbeter.”
Intussen verwag IJG Securities die konstruksiebedryf sal vanjaar en moontlik langer steeds in 'n resessie vasgevang bly.
“Dit is 'n bron van kommer, aangesien dié sektor altyd 'n groot werkverskaffer was en afleggings 'n negatiewe uitwerking op werkloosheid sal hê,” sê dié ontleders in hul verslag oor April se bouplansyfers vir Windhoek. (Sien ook die berig op bl. 15.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie