Steeds nouer bande met China

Handelsentrums

24 April 2019 | Regering
Augetto Graig



Verlede Vrydag het die Khomasstreekraad sy bande met die plaaslike regering van China se ­Jiangsu-provinsie ­versterk.

Dié twee middelvlak­regerings het 'n dokument onderteken om hul vriendskapsbande te versterk.

Me. Rachel Jacob, voorsitter van Khomas se streekraad, het mnr. Wei Guoqiang, adjunkvoorsitter van China se Jiangsu-provinsie se staande komitee, aan die geskiedkundige verhouding tussen die twee liggame herinner.

Guoqiang het me. Laura McLeod-Katjirua, Khomas se streekgoewer­neur, se waardevolle bydrae tot die verhouding tussen die twee regerings geprys.

“Handel tussen Namibië en China het so vinnig gegroei. China se hoof- uitvoerprodukte na Namibië en die Khomas­streek, Namibië se handels­kern, sluit meganiese en elektroniese toerusting, klere, skoene, ­hardeware, toeriste­produkte en ander alledaagse noodsaaklikhede in, terwyl Namibië grootliks minerale, ­seeprodukte, velle, lewende volstruise en ander ­produkte na China uitvoer,” het Jacob gesê.

Sy het die ­onlangse uit­voer van bees­vleis na Chi­na as 'n myl­paal beskryf. “Sowat 24 ton beesvleis het Windhoek op 28 Maart vanjaar reeds vir Beijing verlaat,” het sy gesê.

Volgens Jacob is Jiangsu en Khomas beide nywerheidsentrums en sal die nuutste verwikkelinge waarde toevoeg en “beide effektebeurse volhoubaar bevoordeel”, het sy gesê.

Omdat Khomas, wat Windhoek insluit, reeds goed ontwikkel is, kan Chinese ondernemings in verskeie geleenthede belê, het Jacob gesê, en veral geleenthede in die verwerking van ­landbouprodukte en ander waardetoevoegingsprojekte uitgelig.

“Vervaardiging in die Khomasstreek behels meestal vleisverwerking, bottelering, inmaak, brou, verkoeling en plastiekvervaardiging. Ook aluminiumprodukte, drankies, sonskerm, blindings, afdakke, matte, ­houtskool, chemikalieë, klere, bakkery, kosproduksie, meubels, staalprodukte ensovoorts. Die verwerking van verf, metaalwerk, plastiekverpakking, veiligheidsklere en sonkrag vind ook plaas, hoewel op 'n kleiner skaal,” het sy gesê.

Jacob het die belang van handel in die Khomasstreek beklemtoon.

“Windhoek het 'n le­wen­dige motormark met nuwe en tweedehandse motors, asook onderdele,” het sy gesê en bygevoeg die streek se telekommuni­kasie-, vervoer-, ­toerisme- en veiligheidsbedryf is gesond.

Jacob wil die Khomasstreek as toeristebestemming sien groei en het gesê die streek se bank-, finansiële en infrastruktuurdienste is van Suider-Afrika se beste.

Samewerking tussen Khomas en die Nanjing Drum Tower Hospital se Nanjing- mediese univer­siteit bestaan amptelik sedert 23 Oktober 2018 om aansteeklike siektes, intensiewe sorg, ­kroniese siektes en nierversaking in die streek beter te hanteer en behandel.

Khomas en Jiangsu se sokkerverenigings het ooreengekom om saam te werk op die gebiede van jeugontwikkeling, klubvennootskappe, geleentheidsbestuur, administrasie, kapasiteitsbou, infrastruktuurontwikkeling, afrigting en opleiding.

Die twee streke se Rooikruisverenigings werk reeds saam, het sy gesê.

Volgens Guoqiang is Jiangsu hoogs ontwikkeld en dra dié provinsie 10% tot China se jaarlikse bruto binnelandse produk (BBP) by.

Hy het belowe om moderne landboumaat­skappye op besoek aan Khomas te bring.

“Ons is ook groot op die gebied van wetenskap, tegnologie en skeppendheid met 'n ­merkwaardige plaaslike vermoë. Daar is meer as 130 universiteite, meer as 100 beroepsopleidingskole, en sowat 1,9 miljoen studente in ons provinsie,” het hy gesê.

“Ons organisasies kan ons nouer verbind en dit is belangrik dat ons die vermoë het om samewerking te bevorder en spesia­le projekte tot ­uitvoering te bring,” het hy gesê.

Soortgelyk

 

Hanse-Himarwa se getuienis vals, sê hof

8 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Nadat die hof al die getuienis in ag geneem het, is die enigste gevolgtrekking die staat het bo redelike twyfel bewys Katrina...

Katrina se toekoms duister

8 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Teen gistermiddag was pres. Hage Geingob nog stil oor een van sy kabinetsministers wat aan korrupsie skuldig bevind is.Katrina Hanse-Himarwa, die minister...

Jessné struts her stuff

8 ure gelede | Mense

Mariselle Stofberg Even though Jessné Swart is only in grade 5, she has already made a name for herself in the modelling industry. Her love...

Weer vir 9 Julie 2019

8 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Ooswindtoestande sal oor die kus vir die res van die week heers, asook stofstorms op plekke.BINNELAND: Koud aanvanklik, andersins mooi weer en warm tot...

Eenjarige brand in sinkhuis dood

8 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause – Twee mense het die afgelope naweek doodgebrand toe hul sinkhuise aan die brand geslaan het. Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het...

Bekentenis was glo vrywillig

8 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner op Swakomund – Mnr. Ernst Lichtenstrasser, wat van die moorde op mnre. Eckhart Mueller en Heimo Hellwig aangekla is, was ten tyde van...

Dragtige ietermagô uit drom gered

8 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - ’n Ietermagô wat dae lank in ’n brandstofdrom gelos is, se verhaal het ’n gelukkige einde.Volgens me. Maria Diekmann, van die Rare...

Pasgebore baba sterf ná val

8 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht - Die Engela-hospitaal in die Ohangwenastreek word van nalatigheid aangekla nadat ’n baba by geboorte op die grond geval en onmiddellik gesterf het.Die...

Interns by staatshospitale uitgeplaas

8 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht - ’n Totaal van 131 leerlingdokters is by verskeie hospitale oraloor die land uitgeplaas om met hul internskap van twee jaar te begin....