Sperrgebiet se flora ’n bekoring

E-boek oor endemiese plante

16 October 2020 | Omgewing
Francoise Steynberg - Dr. Antje Burke spog met die eerste elektroniese boek oor Namibië se inheemse flora, Endemic Plants of the Sperrgebiet.

Dié bekende botanis sê die Sperrgebiet se flora het haar sedert 1988 gefassineer toe sy tussen tussen Rosh Pinah en Oranjemund gereis het.

“Die bekoring het in ’n passie en ’n begeerte ontwikkel om alles oor hierdie manjifieke skeppings van die natuur te leer,” sê Burke.

Volgens haar stel hierdie gids sommige van die skaarsste plante in Namibië voor, “nie dat ek hulle almal gesien het nie”.

Burke se wens is dat die e-boek plantidentifisering meer toeganklik sal maak en ’n saadjie by jong Namibiërs sal plant om Namibië se flora vir die toekoms te beskerm.

Die e-boek fokus op die Tsau //Khaeb (Sperrgebiet) Nasionale Park met sy uitsonderlike biodiversiteit.

“Die suidwestelike hoekie van Namibië is nie net die tuiste van diamante nie, maar ook van iets net so waardevol – die enigste groot stuk sukkulente Karoo-bioom wat nie deur veeweiding belemmer is nie,” sê Burke.

Sy sê dié park het nie net die grootste plantdiversiteit van Namibië se nasionale parke nie, maar het ook die meeste aantal plantspesies wat slegs daar voorkom.

“Hierdie endemiese spesies verdien spesiale aandag, veral danksy hul beperkte geografiese omvang en getalle. Talle is tot baie spesiale habitatte binne hul reeds beperkte geografiese omvang en getalle beperk.”

HOOGS GERESPEKTEERD

Burke is ’n omgewingswetenskaplike wat die afgelope 30 jaar die regering en privaat sektor oor omgewingskwessies adviseer. Sy is ’n hoogs gerespekteerde biodiversiteitsnavorser in haar vakgebied.

As jy vir Burke op die internet gaan soek, sal jy ’n lang lys navorsingspublikasies en veldgidse onder haar naam vind.

Sy fokus tans op biodiversiteit en die rehabilitasie daarvan ná die sluiting van myne. Burke beklemtoon dat rolspelers in die ontwikkeling van mynbou, infrastruktuur en toerisme dit in ag moet neem.

“Afgesien van 'n morele verantwoordelikheid om hierdie spesies teen uitwissing te beskerm – weet ons nie watter eienskappe hierdie endemiese plante kan besit nie? Dit kan dalk die mensdom help in die stryd teen siektes.

Burke meen dit is noodsaaklik om kennis van die park se plantlewe, veral die endemiese plante, en sy habitatte te hê.

“As gevolg van die groot plantdiversiteit in die park is die meeste endemiese plante nie maklik herkenbaar nie. Dit is egter nie nodig om elke liewe plantspesie by sy naam te ken om goeie besluite te neem en omgewingsensitiewe habitatte te herken nie.”

Volgens haar het die park sowat 30 plantspesies wat nêrens anders ter wêreld voorkom nie.

“Parkpersoneel moet dus verseker dat die inheemse plantbevolkings van die park nie deur onbedagsame ontwikkelinge in gedrang gebring word nie.”

MODERNE MEDIA

Waarom ’n e-boek? “Geïllustreerde veldgidse is die toeganklikste vorm om te leer hoe om flora te identifiseer. Boeke het hul plek, maar plantidentifisering het na moderne media verskuif – in die vorm van webtuistes, toeps en toeganklike publikasies.”

Burke sê die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se benadering is om digitale instrumente vir parkbestuur te gebruik, soos digitale tablette en ’n toepassing om data in te samel. Die toepassing is aan elektroniese gidse gekoppel om groepe plante en vreemde spesies te identifiseer.

Die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) het die projek ondersteun om endemiese plante in die park te identifiseer en die e-boek te publiseer.

“Die e-boek sal natuurbewaarders help om die meeste van die beperkte plantspesies in die park te herken.”

Die Nasionale Botaniese Navorsingsinstituut het gehelp om 30 van die park se endemiese plantspesies te identifiseer en nóg 30 plantspesies wat byna net tot die park beperk en in naburige gebiede ook voorkom.

Die omgewingsonderrigsentrum by die ingang van die park naby Lüderitz het onderrigmateriaal, soos plakkate oor endemiese plante ontvang wat bykomende inligting tot die e-boek verskaf.

Die e-boek is beskikbaar vir studente, jong professionele mense, toergidse, omgewingsbeamptes en “enige iemand wat in Namibië se bekorende flora belang stel”.

Burke sê alhoewel dit ’n e-boek oor plante is, “hoef jy nie ’n graad in botanie te hê nie, want ek het dit vir Jan Alleman geskryf en tegniese terme so ver as moontlik beperk”.

Die e-boek bevat foto’s en sketse van meer as 60 spesies.

Gaan laai gerus die e-boek by die Environmental Information Service (EIS) se e-biblioteek by http://the-eis.com/elibrary/search/23084 af.

Die vier plakkate is ook by EIS beskikbaar by http://the-eis.com/elibrary/search/23084.

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

10 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

10 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

10 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

10 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

10 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...