Soweto-joggie glimlag breed ná Storm se sege
Gholf
Die vreugdevure sou Sondagaand hoog in Soweto gebrand het ná die Engelsman Graeme Storm se oorwinning in die Suid-Afrikaanse Ope-gholftoernooi in Johannesburg.
Storm, wat die Noord-Ierse superster Rory McIlroy op die derde putjie van 'n uitspeelstryd op Glendower verslaan het, is bygestaan deur Jeffrey Nkonyane, 'n joggie van Soweto.
Die 51-jarige Nkonyane dra reeds die afgelope 32 jaar gholfsakke, maar sal nou die grootste tjek van sy loopbaan kan wissel.
Die 37-jarige Storm het sowat R2,3 miljoen verdien met sy sege en die gebruik by die meeste gevestigde spelers is om hul joggies met 10% van hul wentjek te vergoed.
“Dit sal gewis die grootste betaaldag van my lewe wees en die geld gaan fantasties wees, maar hierdie is ook die trotsste dag van my lewe,” het Nkonyane ná die dramatiese sege in Edenvale gesê.
“Dit was 'n spesiale gevoel om die SA Ope saam met Graeme voor my tuisskare te wen, want ek ken hom al baie jare.
“Ek was sy joggie in sy amateurdae, toe hy as 'n jongeling in die Suid-Afrikaanse houespel- en SA putjiespeltoernooi kom speel het,” sê Nkonyane.
“Hy gee my altyd 'n luitjie wanneer hy in Suid-Afrika kom speel en laat my weet as hy nie sy eie joggie saamgebring het nie. Dié keer was sy gebruiklike joggie op sy wittebrood en het hy my gevra om hom by te staan.”
Oor die afgelope drie dekades het Nkonyane verskeie groot name se sakke gedra. Van sy gunstelinge sluit Hugh Baiocchi en wyle Wayne Westner in.
Nkonyane sê hy moes sy jare lange ervaring inspan om Storm kalm te hou toe die storm om hom gewoed het in die laaste ronde.
“Graeme het nog nooit saam met Rory gespeel nie, dus het ons geweet dit sou 'n stresvolle dag wees, maar ek moet sê, die Suid-Afrikaanse toeskouers het baie bygedra tot dié oorwinning.
“Op amper elke putjie het hulle ewe luid vir Graeme applous gegee as vir Rory. Graeme het nie eens tyd gehad om senuweeagtig te raak nie.
“My taak was om hom aanhoudend te vertel dat hy moet vorentoe kyk. Ek het vir hom gesê hy moenie kwaad raak of teleurgesteld wees as hy 'n swak hou speel nie. Ons het goed saamgewerk en hy het genoeg selfvertroue gehad om Rory die stryd aan te sê.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie