Solidariteit wil Watson voor stok kry
Jana Marx – Die vakbond Solidariteit gaan werknemers van African Global Operations (AGO), voorheen Bosasa, bystaan om Gavin Watson, bestuurshoof, voor stok te kry.
AGO het Maandag aangekondig dat hy vir vrywillige likwidasie aansoek doen. Dit volg nadat twee banke – FNB en Absa – aangedui het dat hulle alle bankrekeninge van die maatskappy teen 28 Februarie gaan sluit.
Na verwagting sal 4 500 AGO-werknemers en 3 100 kontrakteurs hul werk verloor.
“Werknemers aan wie AGO geld skuld, is krediteure van die maatskappy en het ’n reg om kragtens art. 65 van die Insolvensiewet enigiemand, Gavin Watson inkluis, te ondervra om uit te vind wat regtig met AGO en die maatskappy se geld gebeur het,” sê Anton van der Bijl, hoof van die vakbond se arbeidsregafdeling.
In ’n memorandum aan AGO-werknemers wat deur Joseph Gumede, voorsitter, onderteken is, word die
“voortreflike, hardwerkende en lojale werknemers wat ’n onseker toekoms tegemoet gaan,” geprys vir hul diens.
Benewens die werksverliese gaan 108 internskappe beëindig word en ondersteuning aan 32 dagsorgsentrums in Orange Farm gestaak word.
Watson, wat sedert 1999 Bosasa se grootbaas is, se naam is sedert Januarie vanjaar in die nuus nadat Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van dieselfde maatskappy, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.
Plofbare getuienis is gelewer dat die maatskappy onder meer miljoene rande in omkoopgeld en ander geskenke aan amptenare en politici gegee het. Watson se naam het oral opgeduik.
Van der Bijl sê dit is hartseer om te sien “dat dit die norm word dat werknemers moet pa staan vir die wanpraktyke van maatskappye”.
“Hierdie dinge sal eerder vroeër as later moet stop en ons sal hard veg teen enige afleggings by AGO. Die verantwoordelikheid vir geldelike probleme begin en eindig by die besluitnemers.”
In ’n video wat in Januarie 2017 geneem is wat Solidariteit bekom het, verwys Watson op ’n personeelvergadering by die Silverstar-casino in Krugersdorp na die “regte wêreld”, waarin die maatskappy geen punte ingevolge die SEB-kode ontvang om ’n “wit man op te lei nie”.
Hy praat met wit Bosasa-werknemers: “Jy kry nie ’n punt om jou op te lei nie. Jy moet jouself maar oplei. Dis ’n feit,” sê hy en benadruk: “Dis nie Gavin Watson se wet nie, dis die regering se wet.”
“Ons sal moet aanpas volgens die regering se behoeftes.”
Watson sê dan ’n spanlid is die laaste twee weke al besig met ’n plan oor hoe om “ ’n volhoubare maatskappy” vorentoe te neem in die “onstuimige omgewing” waarbinne Bosasa homself bevind.
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond “is gewalg deur Watson se uitsprake” in die video.
“As wit werknemers nie punte kan beteken nie, beteken hulle niks en moet hulle hulself oplei. Hy staan op geen manier op en verdedig sy wit werknemers teen ’n ras-ideologie nie. Hy doen dit net om een rede en dit is om die staat se guns te wen,” meen Hermann. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie