Snyman se verhale is graansilo’s op aandag

18 October 2019 | Kuns en vermaak
Koos Kombuis - Ek het een keer gesels met iemand wat nie van Dana Snyman se werk hou nie.

Sy kommentaar was: “Ek kan nie daai ou se boeke lees nie. Dis net die een stowwerige straat op die ander.”

Inderdaad kan ’n mens seker sê dat Dana Snyman vir die afgelope dekade lank dieselfde suksesresep het. Hy skryf oor dinge wat mense nostalgies maak. Hy gee die gevoel dat hy eerlik is, dat hy net ’n eenvoudige mens is wat in eenvoudige taal oor dinge dink en dinge waarneem.

Daar is, en was, al talle kunstenaars van alle nerings – musiek, skilderkuns, fotografie, en die geskrewe woord – wat presies dieselfde doen as Dana. Hulle verpak en verkoop nostalgie. En wie van ons is nie ’n sucker vir ’n lekker dosis nostalgie nie?

Dis egter nie so maklik soos dit lyk nie. Om nostalgie reg aan te bied, om dit as werklike letterkunde te laat werk, moet jy ’n hele klomp baie moeilike tegnieke presies bemeester, of alles vervlak tot kitsch en schmaltz.

Nadat ek Dana se nuutste bundel rubrieke klaar gelees het – dit het my iets soos sewe uur gevat, alles in een dag en aand, want ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie – het ek besluit om ’n lysie te maak van die redes hoekom Soekmekaar vir my uitstaan bo die werke van baie van die ander kunstenaars wat dieselfde probeer doen. Hoekom dit vir my selfs uitstaan bo Dana se vorige boeke.

Kortweg: hoekom dit een van die oorbluffendste boeke is wat ek nog ooit in Afrikaans gelees het.

Aan die onderliggende politiek of filosofie wil ek glad nie raak nie. Dit is ’n baie inklusiewe boek, en slim mense sal dalk baie te sê hê oor paternalisme en/of retrospektiewe apologismes en allerhande sulke goed, but I don’t even want to go there.

Vir wat dit werd is:

Hier is my lysie. Dit het gegroei tot ’n resensie. Maar dis eintlik baie eenvoudig.

Een.

Dana Snyman het ’n oog vir detail wat sand in die oë skop van baie ander skrywers. So skryf hy, in een van die kortste stukkies in die boek (skaars ’n halwe bladsy lank) oor ’n outydse posman wat ’n telegram kom aflewer:

“Koekies wag by die hekkie met ’n leersak oor sy skouer. Sy broekspype is met silwer knippies om sy enkels vas.”

Netso, en daar, in daardie onbenullige detail, kry jy die hele prentjie, ’n prentjie wat wêrelde van verbeelding en herinnering ontsluit.

Twee.

Dana Snyman is die meester van slotsinne. Soos Roald Dahl bou hy, met die een understatement ná die ander, ’n reeks gebeure op wat almal lei tot by die laaste sin, wat jou dan, ten spyte van die onpretensieusheid daarvan – of dalk juis as gevolg van die onpretensieusheid daarvan! – soos ’n vuishou in die maag tref. Hier is ’n paar voorbeelde, buite konteks aangehaal, maar julle kry die idee:

“Met ’n groot pak NikNaks in die hand kom hy van buite gestap.”

“Nog net vyf minute, dan’s happy hour verby.”

“Gaan kyk vir wie blaf Brakanjan so.”

“My en Gert Yster se storie het ’n einde nodig.”

“Dis Moedersdag vandag.”

Drie.

Dana Snyman – of is dit sy editor? – rangskik sy stories perfek.

Baie van hierdie stukke het ek al tevore elders gelees. Dit was almal lekker leesstof. Maar die geheelindruk van die boek is anders.

Die manier waarop die een storie die volgende een inlui en antisipeer – iets wat Dana soms beter doen as Italo Calvino – verander ’n doodgewone bundel versamelde rubrieke in iets wat die intellektuele gewigtigheid het van ’n klassieke roman.

Soos The Fall van Albert Camus, is dit bedrieglik eenvoudig. Die boek vorm ’n geheel. Al verskil die hoofstukke in lengte, is elke hoofstuk op die ou end ewe belangrik. En, soos in die Gestalt-beginsel, is die geheel baie groter as die optelsom van die dele. Dit wil gedoen wees.

Vier.

Dana Snyman doen dekselse goeie navorsing. Hy is fisiek teenwoordig in elke insident, of hy laat jou voel hy was daar. Hy neem ouens op met bandopnemers. Hy sit in die regte kroeg op die regte tyd.

En dan neem hy soms kiekies ook. Nie baie goeie kiekies nie, oukei, as jy daarna sou kyk buite die konteks van die verhale nie – Snyman is geen Goldblatt nie – maar hel, dis genoeg. Daai kiekie van Walter Meyer se laaste skildery, geneem waar dit nog op sy esel gestaan het in die slaapkamer wat hy by ’n vriendin gehuur het, sal by my spook tot in lengte van dae . . .

Vyf.

O ja. Dana Snyman het deernis. Met homself, en ook met die karakters wat hy beskryf. Dis ’n kwaliteit wat nogal moeilik is om te fake, as jy my vra.

Wel, daar het julle dit. Dis al wat ek eintlik wou sê. Dis soort van my hele resensie.

O ja. Enige kritiek?

Hy het die metafoor van graansilo’s wat op aandag staan, dalk een keer te veel gebruik. (’n Volle twee keer. Ek het getel.)

Maar hel, mens kan hom dit seker maar vergewe, want dis nogal ’n donnerse lekker metafoor, is dit nie?

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

Soortgelyk

 

Hof toe oor ECN se bedankingsvereiste

10 ure gelede | Howe

Die Opuwo streeksraadslid en lid van die PDM, mnr. Kazeongere Tjeundo (foto), bring vanmiddag 'n dringende aansoek in die hoërhof in 'n poging om in...

Varser brood is daar nie

23 ure gelede | Byvoegsels

Tanja Bause – Elke dag om 09:00 klim Dawid Rooi op sy rooi fiets en laai varsgebakte brood op Gibeon af. Die wit- en bruinbrode...

Tropiese stelsel bring vog vir Noordooste

23 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - ’n Tropiese vogstelsel kan vir bykans die res van die week reën na die noordooste van die land bring. Dit sal egter...

Verkragting: 651 mans agter tralies

23 ure gelede | Misdaad

Jana-Mari Smith – Terwyl ’n epidemie van geweld teen vroue en kinders in Namibië woed, is 651 mans en twee vroue in die tronk vir...

One jump at a time

23 ure gelede | Mense

Elizabeth JosephEmmanuel Anana Samuntu is a 19-year-old high jumper with a personal best of 2.12m.He also has a long jump personal best of 7.27m. He...

Weer, Dinsdag 12 November 2019

23 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met ‘n paar donderbuie in die noordooste. Geïsoleerde donderbuie word in die Zambezistreek verwag. In die...

Bek-en-klouseer: Verbod op SA-invoere geld steeds

23 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Die Namibiese direktoraat veeartsenydienste (DVS) sê die verbod op invoere van vleis en vleisprodukte van Suid-Afrika af staan steeds, soos ingestel tydens...

Stukkie paradys padlangs

23 ure gelede | Byvoegsels

Tanja Bause - Langs die B1-hoofweg by Mariental lê ’n stukkie paradys. Die Padlangs-padstal, wat in November verlede jaar sy deure oopgemaak het, is nie...

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

23 ure gelede | Politiek

Esther Utjiua MuinjangueNational Unity Democratic Organisation (Nudo)Esther Utjiua Muinjangwe, die leier van Nudo, is die eerste vroulike leier van ‘n politieke party in Namibië en...