Skedelkus dalk wel broeiplek van groenseeskilpad

Vir die eerste keer kan bespie­gelinge dalk as korrek bewys word dat dié bedreigde see­skilpadspesie werklik langs die Namibiese kuslyn broei.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



'n Eerste bevestigde rekord van 'n bedreigde groenseeskilpad (Chelonia mydas) wat langs die Namibiese kus broei, word as van groot wetenskaplike waarde beskou, selfs hoewel die eiers eindelik nié uitgebroei het nié.

'n Navorsingsartikel hieroor is vroeër vandeesmaand deur die navorsers Peter Cunningham en Johan van Rooyen in die Namibian Journal of Environment gepubliseer.

Geskiedenis is op 4 Februarie vanjaar gemaak toe Van Rooyen omstreeks 17:00 'n foto geneem het waar 'n groenseeskilpadwyfie langs die Skedelkus besig was om haar nes toe te maak. Sy was sowat 1 meter lank en was 'n halfuur lank besig voordat sy terug see toe beweeg het.

Van Rooyen skryf hoewel hy haar nie fisiek die eiers sien lê het nie, is die gedrag om 'n nes toe te skrop tipies van groenseeskilpadwyfies nadat hulle eiers gelê het.

“Sy was merkbaar uitgeput en het gerus nadat sy die nes toegemaak het. Hulle lê gewoonlik snags eiers wanneer dit hoogwater is. Dié besigtiging het dus op 'n effens ongewone tyd van die dag plaasgevind,” is geskryf.

Die navorsers sê babaskilpadjies broei gewoonlik ná 54 tot 74 dae uit.

“Die nes is op 3 Mei 2020 – 89 dae nadat die eiers gelê is – gedeeltelik oopgemaak en eiers is daarbinne aangetref. Dit was dus vyf maande later en ­ongelukkig het die eiers nie uitgebroei nie.”

Die navorsers sê nietemin groenseeskilpaaie is bekend dat hulle onder soortgelyke koue toestande in Chili broei. Die koue watertemperatuur langs die Namibiese kus en die feit dat die nes af en toe tydens hoogwater oorspoel en nat geword het, het waarskynlik die ontwikkeling van die eiers belemmer, meen die navorsers.



BESPIEGELINGE OOR JARE

Volgens die navorsingsartikel is dit bekend dat dié soort seeskilpad langs die Namibiese kus voorkom, terwyl talle van hulle reeds by die mond van die Kunenerivier gesien is.

“Daar was egter baie bespiegelinge of hulle werklik langs die Namibiese kus broei. Die meeste navorsers dui aan groenseeskilpaaie is nie daarvoor bekend dat hulle langs die Skedelkus broei nie, maar wel soms hul verskyning op dié strand maak om in die son te bak,” verduidelik die navorsers in hul artikel.

Daar is relatief min broeiplekke vir groenseeskilpaaie langs die oostelike Atlantiese kus, met die mees prominente broeiplekke in Guinee-Bissau in Wes-Afrika, terwyl 'n kleiner aantal groenseeskilpaaie ook op die Bioko-eiland, Gaboen en in die provinsies Cabinda en Namibe in Angola net noord van die Kunenerivier broei.

Hulle broei gewoonlik tussen Desem­ber en Maart.

Wetenskaplikes het tot dusver aangeneem dat Namibië se groenseeskilpaaie van die strande van suidelike Angola en selfs die suidelike Indiese Oseaan afkomstig is.

“Sover ons kon vasstel, is daar tot dusver net twee verwysings dat groenseeskilpaaie wel langs die Namibiese kus broei, maar beide dié bewysstukke is anekdoties, wat beteken dit is nie nagevors nie en berus op persoonlike vertellings deur mense,” het die wetenskaplikes geskryf.

BESKERMD

Groenseeskilpaaie is 'n beskermde spesie in Namibië en word deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) as bedreig geklassifiseer, omdat hul bevolking voortdurend krimp en omdat hul broeiplekke oraloor versteur word.

Om dié rede beskou wetenskaplikes dit as noodsaaklik om dié diere se potensiële broeiplekke te dokumenteer en te beskerm. Verder meen die wetenskaplikes dié gebied teen die Namibiese kus kan dalk 'n belangrike plek vir hul bewaring word, omdat hul broeiplekke verder noord in Angola in die afgelope dekades afgeneem het.

Die wetenskaplikes meen dié vonds beklemtoon opnuut die belangrikheid om die mond van die Kunenerivier te beskerm – 'n gebied wat besonder spesiale ekologiese belangrikheid vir beide seeskilpaaie, asook migrerende strandvoëls het.

Dié rivier is ook die enigste standhoudende rivier in 'n andersins uiters droë wêreld. Die gebied word formeel binne die Skedelkus Nasionale Park beskerm en mag in die toekoms potensieel as 'n Ramsar-gebied kwalifiseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!