Shanghala vra PG moet sy Fishrot-regskoste dek

‘Kry finansieel swaar’ oor gevriesde rekeninge

29 January 2021 | Misdaad
Jemima Beukes en Mathias Haufiku – Die regering oorweeg tans die voormalige minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, se versoek aan die kantoor van die prokureur-generaal (PG) om regsverteenwoordiging aan hom te voorsien of om sy regskoste te betaal in die voortslepende Fishrot-omkoopsaak.

Shanghala is sedert November 2019 in aanhouding en sy bates, insluitend sy bankrekeninge, is gevries as deel van 'n ondersoek na die beweringe dat hy en sy medebeskuldigdes miljoene Namibiese dollars in omkoopgeld aanvaar het, in ruil vir visvangkwotas.

Benewens die beweringe van omkopery, was hy glo kop in een mus met die destydse minister van visserye, mnr. Bernard Esau, om die land se viswet te verander. Die nuwe viswet is in 2015 bekragtig en het die minister die alleenreg gegee om visvangkwotas uit te reik.

Shanghala was die prokureur-generaal toe die wet bekragtig is, nadat dit as die wondermiddel vir die land se geskarrel na mariene hulpbronne voorgehou is.

Met Esau wat deur die nuwe wet – met sy verskuilde agenda – bemagtig is, het hy na bewering visvangkwotas links en regs uitgedeel, waarna miljoene Namibiese dollars in die rekeninge beland het van maatskappye wat aan Shanghala en sy medebeskuldiges verbind word.

Dit word nou beskou as die grootste korrupsieskandaal in die Namibiese geskiedenis.

‘G’N STANDPUNT INGENEEM’

Die Bank of Namibia (BoN) het verlede jaar gesê hy het Fishrot-verwante transaksies ter waarde van N$10 miljard gewaardeer.

Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, verneem Shanghala se versoek aan die staat om sy regskosterekening te vereffen wat hy in Desember 2020 deur sy prokureur, mnr. Appolos Shimakeleni, gerig het, is gebaseer op ’n redenasie dat die aantygings teen hom uit sy amptelike hoedanigheid as senior regeringsbeampte spruit.

Die hoof-regsadviseur in die kantoor van die PG, mnr. Chris Nghaamwa, het Woensdag bevestig Shanghala het aan sy kantoor geskryf en gevra die staat moet vir sy regskoste pa staan.

"Ons wil u in kennis stel dat die versoek gerig is om regsverteenwoordiging te voorsien of om sy regskoste te betaal," het hy by navraag aan Namibian Sun gesê.

"Ons wil u verder inlig dat geen standpunt nog oor die kwessie ingeneem is nie en geen regsmening is nog gelewer nie," het hy bygevoeg.

Die huidige PG, mnr. Festus Mbandeka, is glo besig om die versoek te hersien en ’n regsmening word tans oorweeg om Shanghala se versoek toe te staan, al dan nie.

HANGENDE BORGAANSOEK

Shanghala is saam met Esau en mnre. James Hatuikulipi, Tamson Hatuikulipi, Ricardo Gustavo en Pius Mwatelulo in hegtenis geneem nadat aan die lig gekom het die Yslandse vismaatskappy, Samherji, het glo toegang tot maasbankerkwotas in Namibië verkry deur tussen 2012 en 2018 ongeveer N$150 miljoen se omkoopgeld aan politici en sakelui te betaal. Die skandaal is in die Fishrot-dokumente op Wikileaks op die lappe gebring.

Van die ses beskuldigdes moet net James Hatuikulipi, Shanghala en Mwatelulo nog aansoek om borgtog doen.

Esau en sy skoonseun, Tamson Hatuikulipi, is steeds in die hoërhof in ’n stryd om borgtog gewikkel ná die eerste poging in die landdroshof misluk het.

Esau het sy totale fortuin van N$23 miljoen as borg aangebied, asook N$50 000 in kontant, terwyl Tamson Hatuikulipi vaste eiendom, wat nie onder verband is nie, ter waarde van N$16 miljoen aangebied het.

OPDRAANDE STRYD

'n Regsbron het aan Namibian Sun gesê hoewel PG’s werk verrig en die regsbelange van die regering verteenwoordig, kan hulle nie beskerming verwag as hulle in hul persoonlike hoedanigheid aangekla word nie.

“Hoewel hierdie funksie uitgebrei kan word tot die voorsiening van regsdienste aan publieke amptenare in hul amptelike hoedanigheid, is die staat nie wetlik verplig om regsdienste te lewer aan dié wat in hul persoonlike hoedanighede teregstaan of iemand dagvaar of gedagvaar word nie," het die bron gesê.

Die grondwetkenner prof. Nico Horn sê dit is al voorheen gedoen, maar Shanghala moet in detail verduidelik wat hy gedoen het en hoe dit regeringsdoelwitte bevorder het.

Selfs al sou Shanghala voorstel dat hy 'n lokval vir die Fishrot-betrokkenes wou stel, moes hy sy direkte hoofde daarvan in kennis gestel het, het Horn gesê.
[email protected]
[email protected]

Soortgelyk

 

Hardap-sluise nóg groter getrek

2 dae gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Hardapdam se sluise is om 10:30 nóg groter oopgetrek sodat dit nou 300 m³ water per sekonde uitlaat – ‘n aanpassing...

La Niña skop dalk nóú in

2 dae gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl die weerkantoor ‘n weerwaak vir vandag vir wydverspreide donderbuie oor die westelike helfte van die binneland uitgereik het, meen ‘n weerkenner...

Selfdegeslaghuwelike ly neerlaag … vir nou

2 dae gelede | Howe

Jana-Mari Smith – Drie hoërhofregters het hulle gister sterk ten gunste van die wetlike erkenning van selfdegeslaghuwelike in Namibië uitgespreek, maar het nietemin die aansoeke...

Elisenheimrivier sleep motors weg

2 dae gelede | Weer

Augetto Graig – Die Elisenheimrivier het Woensdagaand motorvoertuie saamgesleep toe dit verby die Farmers Kitchen restaurant by Gastefarm Elisenheim oorstroom het. Me. Rentia van der...

Hardap loop gou vol

2 dae gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die Hardapdam sou na verwagting laat gisteraand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié suidedam se sluise sou oopgetrek moes word....

kykNET se ‘Wat Dit Vat’: Hier’s die kunstenaars

2 dae gelede | Byvoegsels

Dit was pret, dit was plesier en dit was ’n malligheid op note. Toe die briljante musikant en musiekvervaardiger Loki Rothman gesê het hy gaan...

Fees van klassieke musiek ten bate van kanker

2 dae gelede | Byvoegsels

Een van die mees begaafde pianiste in Namibië, Johann van der Merwe, bied môre (22 Januarie) 'n uitvoering aan om geld in te samel om...

Working with high standards of technology

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Not expecting to find a smooth and easy way of work, Romario Arnat describes his working experience as an eye-opener as to how...

Taking steady growing curves

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Timothy Olivier’s passion and dedication has been a key driver in his success not only within Old Mutual, but throughout his...