SDFN: 65 nuwe huise voltooi

Die Shack Dwellers Federation en Namibia Housing Action Group het beraam daar is 282 informele nedersettings met ongeveer 230 000 plakkers­hutte oraloor die land.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Die droom van huiseienaars wat voorheen in plakkershutte moes bly, is met die voltooiing van 65 volledig toegeruste huise in 'n lae-inkomstewoonbuurt op Otjiwarongo verwesenlik.

Die huise behoort aan lede van die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) se Otjiwarongo-tak wat jare lank gesukkel het om finansiering, grond en die nodige basiese boustene vir die beplande huise te bekom.

“Die gemeenskap is gelukkig en hierdie is werklik 'n droom wat waar geword het,” het mnr. Erenst Muraranganda, die SDFN-voorsitter op Otjiwarongo, gesê.

Die meerderheid van dié nuwe huiseienaars, wat huiswerkers en straatverkopers is of laags besoldigde werkers, het voorheen in plakkershutte gebly. 'n Gedeelte van hul inkomste sal nou aangewend word om die huise oor die volgende tien jaar af te betaal sodat hulle volle eienaarskap kan kry.



HARDE WERK

Om die kostes laag te hou, het die voornemende huiseienaars die oorgrote meerderheid van die werk aan die huise self gedoen, wat ook kenmerkend is van die SDFN se benadering tot gemeenskapsbetrokkenheid.

Hulle het die grond skoongemaak en die slote vir water- en rioolpype self gegrawe. Lede van die organisasie het stene gemaak en hul vaardighede gekombineer om die huise te bou.

Die erwe word deur die munisipaliteit teen bekostigbare pryse voorsien om volle eienaarskap aan die gemeen­skap te gee sodra oordrag voltooi is.

Muraranganda het gesê die suksesvolle voltooiing van die huise het tot 'n toeloop van nuwe lidmaatskap by die Otjiwarongo SDFN-tak bygedra.

“Hulle glo nou jy kan met die program 'n kwaliteit-huis teen 'n goedkoper prys bekom. Die SDFN is die toekoms,” het hy gesê.



BEHUISINGSKRISIS

Die SDFN en sy vennoot Namibia Housing Action Group (NHAG) sê na raming is daar 282 informele nedersettings met ongeveer 230 000 plakkershutte oraloor Namibië.

Sulke informele strukture, wat geen basiese geriewe soos water-, riool- of elektrisiteitsaansluitings bied nie, huisves ongeveer 950 000 mense in gebiede waar ander basiese dienste soos afvalverwydering ook ontbreek. Dié buurte is dikwels dig bevolk en hou die risiko van vloede, siektes en 'n magdom ander probleme in.

Otjiwarongo het vier informele nedersettings, naamlik Obili, Tsaraxa-Aibes, DRC en DB Ombili.

Die dorpsraad het in 'n opname verlede jaar gevind ongeveer 4 700 plakkershuise is in dié nedersettings geleë met ongeveer 22 500 mense.

Me. Adelheid Shilongo, die munisipaliteit se woordvoerder, sê dié projek van die SDFN bied waardevolle lesse vir die gemeenskap. “Dit het beduidend bygedra tot die voorsiening van behuising in die dorp en om die agterstand in behuising te takel,” het sy gesê.

Daarbenewens erken die munisipaliteit dis van kritieke belang om “versnelde grondleweringsprosesse in plek te hê om te verseker die beplande en instandgehoude grond is beskikbaar vir alle inwoners wat kwalifiseer om grond te besit. Slegs deur gewaarborgde eienaarskap kan informele nedersettings en plakkershutte mettertyd uitgeskakel word.”

Die voorsiening van titelaktes “skep ook 'n gevoel van eienaarskap wat 'n positiewe uitkoms het vir die terugbetaling van lenings, sowel as die invordering van munisipale rekeninge.”

Shilongo beklemtoon die pad vorentoe is dat “alle munisipaliteite spesiaal ontwerpte bestuursmetodes moet instel wat daarop gemik is om deur grondlewering en die voorsiening van grondregte die maatskaplike welstand van hul gemeenskappe spoedig te verbeter om die veiligheid van verblyfreg en behuisingsontwikkeling vir almal te verseker.”



GEMEENSKAPSBETROKKENHEID

NHAG en SDFN se jaarverslag van 2019-'20 beklemtoon dat die gemeen­skapsgedrewe behuisingsprogram die totale koste van die wooneenhede “aansienlik verlaag. Die gebruik van winsgedrewe private kontrakteurs jaag kostes onnodig op wat deur individue gedra moet word.”

Mnr. Heinrich Amushila, mededirekteur van NHAG, sê ten spyte van die toenemende struikelblokke tydens die pandemie het SDFN-lede landswyd 784 huise tussen Julie 2019 en Junie verlede jaar voltooi.

Hy sê Covid-19 het die dringende behoefte aan grond vir behuising en gedienste erwe beklemtoon om die reeds hoë risiko's verbonde aan informele nedersettings te verminder.

Die organisasie het sedert sy stigting in 1998 6 000 huise gebou en tans word meer as 900 spaarskemas met meer as 26 000 lede in al 14 streke gedryf.

Me. Anna Muller, mededirekteur van NHAG, het onlangs gesê hoewel die SDFN se benadering toenemend erkenning kry en daar “baie goeie samewerking” is tussen nasionale en streekregerings, asook plaaslike owerhede, “sou ons meer dialoog en strategieë wou moontlik maak om die omvang van informele nedersettings se opgradering te vergroot. Dis nood­saaklik dat ons hulpbronne kombineer om meer mense te bereik.”

“Namibië het steeds 'n onopgeloste behuisingskrisis en ons gemeen­skapsgedrewe benadering kan aansienlik bydra om dit op te los,” sê sy.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!