Samherji-werkers afgelê

Namibiese aandeelhouers in die duister

26 February 2020 | Misdaad
Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word.

Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand gelaat nadat albei vaartuie enkele dae uitmekaar Namibiese waters verlaat het. Die eienaar, Samherji, sê die Saga het Namibië vir herstelwerk in Spanje verlaat, terwyl die Geysir in Mauritanië gaan visvang het.

Tydens ’n ontmoeting vandeesweek tussen die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), die Namibiese Vakbond vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) en Saga Seafood is bevestig die werkers gaan afgelê word.

Die NUNW se visepresident, mnr. Phillip Munenguni, sê die werkers sal vandag hul kennisgewings in die verband ontvang.

“Die maatskappy het nie enige kwotas ontvang of enige ooreenkomste vir vangste met enige ander Namibiese maatskappye onderteken nie. Saga Seafood sal sy werksaamhede op 31 Maart 2020 in Namibië staak,” het hy gesê.

Volgens Munenguni sal konsepvoorstelle in terme van die arbeidswet vir werknemers opgestel word om hul afleggingspakkette te ontvang.

“Ons gaan amptelik met die werknemers oor hul afleggingspakkette vergader en bespreek hoe dit volgens ons wet betaal moet word,” het hy gesê.

Munenguni sê 32 werknemers is saam met die Geysir na Mauritanië. Dit is egter onduidelik wat met dié werknemers gaan gebeur.

“Ons wou van Geysir se bestuur weet of die werkers ook afgelê gaan word. Hulle het gesê dit hang van hul indiensnemingskontrakte af. Tans het ons geen idee wat gaan gebeur nie. Ons probeer met hulle kontak maak. Ons is bang die Yslanders gaan hulle aflê daar waar hulle is. Ons weet nie waar hulle is of wat met hulle gebeur nie, maar ons probeer ons bes om hulle op te spoor.”

Tydens nog ’n vergadering het die twee unies met ArticNam, ’n gesamentlike vennootskap tussen Namibiese aandeelhouers, en Samherji vergader, wat op die afgelegde werknemers van die Heinaste gefokus het.

Die Heinaste is tans in die besit van die Namibiese polisie nadat daar vir die tweede keer daarop beslag gelê is.

Die eerste beslaglegging was in Desember 2019 toe die vaartuig onwettig in Namibiese water visgevang het. Die kaptein, mnr. Angrimur Brynjolfsson (67) het skuldig gepleit en is vroeër vandeesmaand tot ’n boete van N$950 000 gevonnis. Die Walvisbaaise landdroshof het opdrag gegee die vaartuig moet met al sy dokumente aan sy eienaars terugbesorg word.

Die tweede beslaglegging was ingevolge artikel 28 van die wet vir die voorkoming van georganiseerde misdaad uitgevoer. Volgens die vereistes van die artikel word die vaartuig verbind met Samherji se beweerde omkopery van Namibiese amptenare, van sowat N$150 miljoen.

Werknemers van die Heinaste is verlede jaar afgelê, maar het nie die regte afleggingspakkette in ooreenstemming met die arbeidswet ontvang nie.

“Nie een van Samherji se verteenwoordigers het die vergadering bygewoon nie, maar verteenwoordigers van die Namibiese aandeelhouers, wat Epango Fishing en Synco Fishing insluit, het wel. Die idee was om vas te stel hoekom die werkers nie ten volle betaal is nie, hoewel daar ’n aantal voorstelle vir afleggingspakkette was.

Die Namibiese verteenwoordigers het aangedui hulle was onder die indruk die werkers het die vergoeding gekry wat hulle toekom. Hulle (die verteenwoordigers) is ook nie ingelig wat met die Heinaste en sy bemanning gebeur het nie.”

Munenguni sê dat hulle maniere ontwikkel het om saam met die Namibiese aandeelhouers van ArticNam te werk, om die owerhede oor die Heinaste te nader.

“Ons wil seker maak die vaartuig bly in Namibië en word tot voordeel van ons mense gebruik.”

ArticNam het aangedui hulle wil hul vaartuig terug hê en sal die afgelegde werkers weer aanstel. - [email protected]

Soortgelyk

 

Etosha Sondagmiddag deur aardbewing geskud

3 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Aardbewing van 4,7 op die Richterskaal het Sondag om 16:42 in die Etosha nasionale park voorgekom.Me. Gloria Simubali, adjunk uitvoerende direkteur...

Is groot Beethoven-feesjaar van die baan?

3 ure gelede | Kuns en vermaak

Groot feesvierings is wêreldwyd en veral in Duitsland en Oostenryk beplan ter herdenking van die komponis Ludwig van Beethoven se 250ste geboortejaar. Elretha Britz van...

Naam bekend van Namibiër wat in Engeland aan Covid-19...

4 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - Die Namibiër wat Saterdag in Nottingham, Engeland, aan die coronavirussiekte (Covid-19) dood is, se naam is bekend gemaak.Hy is die 56-jarige mnr....

Paspoorte: Lorriedrywers kry voorkeur

5 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het by monde van sy woordvoerder, mnr. Sakeus Kadhikwa, ontken hulle reik tans...

Meer as 3 000 vir Covid-19 getoets

5 ure gelede | Gesondheid

Die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste me. Esther Muinjangue sê 3 186 weefselmonsters is tot op hede vir Covid-19 getoets. Namibië het tans 21...

Moody's-klap voor begroting

16 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Op die vooraand van finansminister Iipumbu Shiimi se debuutbegroting sit die regering nie net kniediep in die rommel nie, maar verskraal sy...

Kwarantyn-drama ry lorriedrywers

16 ure gelede | Gesondheid

Leandrea Louw op Walvisbaai – Die vragmotorbestuurder wat die afgelope naweek positief vir Covid-19 getoets het, sê sy voormalige werkgewer het hom en sy kollega...

Man voor hof ná 'hardhandigheid'

16 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – 'n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, wat aanvoer 'n beampte van die stadspolisie het hom verlede week aangerand, is Vrydag...

Weer, Dinsdag 26 Mei 2020

16 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue tot baie koue toestande word in die Suide, die Weste en oor die Khomas- en Omahekestreek verwag. Tref voorsorg.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud...