Salarisrekening bly kopseer
Tydens die laaste nuuskonferensie van die jaar gister by Staatshuis, het pres. Hage Geingob gewys op die prestasies en die uitdagings wat 2017 opgelewer het.
Estelle de Bruyn - Die reusesalarisrekening van die staat is ‘n bron van kommer vir die regering, maar hoe om dit te verminder, bly ‘n tameletjie.
Ná afloop van ‘n omvattende oorsig oor die hoogte- en laagtepunte van die afgelope jaar by ‘n nuuskonferensie gister by Staatshuis, het pres. Hage Geingob en lede van sy kabinet vrae van die media beantwoord.
Geingob sê vir ‘n land met ‘n bevolking van 2,3 miljoen mense is ‘n staatsdiens bestaande uit ongeveer 110 000 staatsamptenare groot. Om egter die helfte van hulle af te dank, sal reuseprobleme veral ten opsigte van werkloosheid skep.
Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het op haar beurt gesê die salarisrekening bestaan nie net uit salarisse wat staatsamptenare ontvang nie, maar sluit ook betalings van konsultante, die staat se mediese fonds (Psemas), oortydbetalings, en reis- en verblyfkostes in. Die regering is dus besig om ondersoek hierna en ook na moontlike “spookwerkers” in te stel.
Van die maniere wat oorweeg word om die staatsdiens te verklein, is om die vroeë aftree-ouderdom van 55 tot 50 te verlaag. Sy wys egter daarop dat vervroegde aftrede vrywillig is en dat staatsamptenare kan besluit om nie daarvan gebruik te maak nie.
Verpligte uitdienstredings het maatskaplike implikasies en dit sal ook ‘n impak op die staat se pensioenfonds hê. Kuugongelwa-Amadhila het ook daarop gewys dat die staat se salarisrekening ideaal gesproke 25% van regeringsbesteding moet wees en nie die 48% wat dit nou is nie.
Sy sê daar word allerweë besef dat sommige staatsamptenare sukkel om met hul salarisse te oorleef, maar sê ook dat volhoubaarheid van die salarisrekening gewig dra. Sy wil deursigtigheid hê in onderhandelinge met vakbonde, wat staatsamptenare verteenwoordig, sodat verhogings moontlik voortaan aan die inflasiesyfer gekoppel kan word, en dat die bonusproses aan prestasie gekoppel moet word. ‘n Komitee ondersoek tans die moontlikhede.
Vanjaar is aansoek gedoen om meer as 1 000 nuwe poste in die staatsdiens te skep en uiteindelik is net 200 nuwe poste goedgekeur.
Wanneer vakatures gevul moet word, word ernstig besin of daar ‘n negatiewe impak op dienslewering sal wees indien ‘n pos nie gevul word nie. Indien dit nie die geval is nie, word poste vakant gelaat, sê Kuugongelwa-Amadhila.
Geingob het in sy hoofrede gesê doeltreffendheid beteken nie noodwendig doelmatigheid nie en dit geld vir staatsbestuur en die uitvoering van beleid. “Indien die mense wat hieruit moet voordeel trek, dit nie doen nie was ons optrede nie doelmatig nie.”
'VERSTERK VERTROUE'
Hy het ook op die belangrikheid gewys om vertroue in die regering en die staatsdiens te versterk.
Geingob is van mening dat die regering soms nie die krediet kry vir wat hulle reg doen nie. Hy het opnuut op die hofgeding gewys wat die regering oor die tender vir die opgradering van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aanhangig gemaak het, nadat die aanvanklike rekening vir die werk van N$3 miljard tot N$7 miljard gestyg het.
Hy het ook sy regering herverbind tot ‘n “oorlog teen korrupsie.”
Die president sê die miljoene dollar se verliese wat gely is met die bou van brandstofopgaarplekke by die Walvisbaai-hawe omdat die aanvanklike tender in Amerikaanse en nie Namibiese dollar was nie, was “pynlik.”
“Ons volg dit op om uit te vind wie die fout gemaak het. Dit is ‘n voortdurende ondersoek en so ook die ondersoek na die SME Bank en die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC).
Hy het ook sy tevredenheid met die aanvaarding van wetgewing rakende die beskerming van hokaairoepers en getuies asook die nuwe wet op openbare verkryging verwelkom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie