Sal laer rentekoerse regtig die ekonomie help?

Klem moet op beperking van uitgawes wees

16 April 2019 | Ekonomie
Ulrich Joubert - Die afgelope tyd het die ekonoom dr. Roelof Botha verskeie artikels die lig laat sien oor die wenslikheid dat die Reserwebank rentekoerse moet verlaag sodat ekonomiese groei kan versnel.

Hiermee kan nie fout gevind word nie, maar die vraag is of laer rentekoerse voldoende sal wees om ekonomiese groei aan te wakker.

Ek is van mening dat laer rentekoerse opsigself, en selfs báie laer rentekoerse, nie genoeg sal wees nie.

Fiskale omgewing

Eerstens moet fiskale beleid groei stimuleer en nie soos tans baie beperkend wees nie.

Fiskale beleid moet vertroue in die bestuur van die ekonomie herstel. Dit moet die staat se betrokkenheid in die ekonomie beperk sodat hulpbronne doeltreffender aangewend word en groot en kleiner maatskappye aangemoedig word om weer plaaslik te investeer.

Terselfdertyd moet maatskappybelasting mededingend word sodat maatskappye aangemoedig word om eerder hier sake te doen.

Doeltreffende fiskale beleid sal indringend kyk na die voortbestaan, bestuur en aanwending van hulpbronne deur staatsondernemings. Dit sal die bestuur van alle provinsiale en veral plaaslike owerhede onder die loep neem.

Die meeste munisipaliteite het ernstige finansiële probleme of is bankrot. Tans word hierdie probleme gehanteer deur belastings en tariewe elke jaar met meer as die inflasiekoers te verhoog, wat dit al hoe moeiliker maak om sake te doen en indiensneming dus so beperk.

Fiskale beleid sal die klem moet plaas op die beperking van uitgawes eerder as om bykomende belastingbronne te ontdek. (Is soutbelasting dalk die volgende inkomstebron?) Veral korrupsie, wanbesteding en vermorsing van belastinggeld moet onder beheer kom.

Arbeidsbedeling

Die arbeidsbedeling moet indringend hervorm word om indiensneming en private verbruiksbesteding te verbeter. Die huidige arbeidsbedeling skep die indruk dat slegs omgesien word na die belange van diegene wat reeds werk het. Dit beperk indiensneming in die algemeen.

Die oormatige beklemtoning van werkreservering het eweneens ’n beperkende impak op die doeltreffende aanwending van mensehulpbronne.

Wanneer sal ons uiteindelik die volle potensiaal van die plaaslike arbeidsmag kan ontgin? Tans beperk die arbeidsbedeling die groeipotensiaal van die ekonomie.

Terselfdertyd beperk immigrasiebeleid die verkryging van “goedkoop” internasionale kundigheid deur die invloei van hierdie persone te kniehalter.

Onderwys

Die gebrek aan goed opgeleide en kundige persone beperk die groeipotensiaal van die plaaslike ekonomie tot minder as 1,5%.

’n Plooibare arbeidsbedeling sonder goed opgeleide, kundige arbeid, sal min verskil maak aan die groeipotensiaal van die ekonomie. ’n Matriek- of ander opleidingsertifikaat wat iemand steeds nie geskik maak vir die arbeidsmark nie, gaan nie die groeipotensiaal verbeter nie. Die indruk wat tans geskep word, is dat die gehalte van onderwys en opleiding ondergeskik gemaak word aan die aantal persone wat opleiding en sertifikate ontvang. Dít is ’n resep vir langtermynprobleme.

Ongelukkig verloor ons steeds kundige en goed opgeleide persone aan die buiteland weens emigrasie.

Dít is een van die grootste moontlike vermorsings van belastingbetalers se geld en beperk die langtermyn-groeipotensiaal van die ekonomie al hoe meer. Elke opgeleide persoon wat die land verlaat, beperk indiensneming en laat werkloosheid op lang termyn verder styg – terwyl daardie persoon ’n ander land se ekonomie help groei.

Dienslewering

Een van die redes waarom mense emigreer, is die agteruitgang in dienslewering.

As ’n munisipaliteit toelaat dat infrastruktuur verswak en water, riolering, vullisverwydering en elektrisiteit nie op ’n volhoubare wyse gelewer kan word nie, het dit ’n negatiewe impak op die sakesektor en op indiensneming.

Is ons polisie en weermag steeds in staat om te verseker dat sake in ’n veilige omgewing gedoen kan word?

Blykbaar nie, as die onlangse berigte oor die konstruksiebedryf waar is.

Kan ons kinders in veilige omgewings skoolgaan? Vind stakings en betogings plaas sonder geweld en intimidasie?

Wat is die standaard van ons onderwys en opleiding?

Kan die gemiddelde inwoner nog klinieke en staatshospitale besoek en verseker wees van spoedige en kundige versorging? Of verkas ons maar na die buiteland waar gesondheidsdienste ook maar hul probleme het?

Uitsprake oor grondonteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank het baie negatiewe reaksies in die finansiële sektor ontlok.

Dit skep onsekerheid en beperk investering deur die sakesektor. Die onsekerhede wat deur die Mynbouhandves geskep is, het investering in dié sektor geweldig geknou. Kan ons die verlore geleenthede ooit inhaal?

Achilleshiel

Ek dink dat wankelrige politieke leierskap, die hoë belastinglas, swak dienslewering, ook deur staatsondernemings wat terselfdertyd staatsgeld dreineer en ons kredietgradering verswak, die heersende arbeidsbedeling en emigrasie eerder as nét rentekoerse die Achilleshiel van die plaaslike ekonomie is.

Sal 8 Mei ’n waterskeiding vir die land se ekonomiese beleid wees?

Nie volgens my waarneming nie!

Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. – Netwerk24/Sakesiening

Soortgelyk

 

'n Seder val in Swapo

9 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

9 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

9 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

9 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

9 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...

Water: Hou rekord van elke druppel

9 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh - Tot 90% van die water in Windhoek wat onnodig weens lekkasies of buitensporige waterverbruik verlore gaan, sou gespaar kon word indien huishoudings...

Semifinalis onttrek aan Mej. Namibië

9 ure gelede | Gebeure

Tanja Bause - 'n Semifinalis in die Mej. Namibië 2019-kompetisie, ­Michelle Pretorius, het aan die geleentheid onttrek. Volgens haar ma, me. Anke Pretorius, het Michelle...

'Millenniërs werk anders'

9 ure gelede | Ministeries

Augetto Graig - Werkloosheid onder die jeug is 'n nasionale krisis wat op alle vlakke, nie net deur die regering nie, dringend aangespreek moet word....