SA tieners bou vliegtuig, land gou in Windhoek

Bevorder vernuwing, tegnologie, entrepreneurskap

31 May 2019 | Mense
Elvira Hattingh



Lugvaartgeskiedenis word gemaak wanneer 'n groep Suid-Afrikaanse tieners op 17 Junie op Windhoek se Eros-lughawe land – met 'n selfgeboude Sling-4- ligte vliegtuig.

Dié vliegtuig, wat hulle self in net twee weke gebou het, gebruik dieselfde brandstof as motors.

Die bou van die vliegtuig het onder die toesig van Suid-Afrika se Airplane Factory-personeel, U-Dream-mentors en Denel Aviation-spanleiers plaasgevind.

Die vliegtuig sal op 8 Junie vir die eerste keer van Johannesburg af opstyg, waarná die span van 20 tieners beurte sal maak om oraloor Afrika te vlieg.

Hulle beplan om 'n maand lank van Kaapstad af tot in Kaïro en terug te vlieg.

Afrikalande wat besoek gaan word, sluit in Namibië, Zimbabwe, Malawi, Tanzanië, Kenia, Ethiopië, Eritrea, Egipte, Uganda, Rwanda en Zambië.

Megan Werner, tienervlieënier, skrywer en motiveringspreker, wat U-Dream Global gestig het, het die projek van stapel gestuur om jongmense aan te moedig om hul drome te volg en te bewys die onmoontlike is met die regte span en fokus wél moontlik.

“Die projek stel ons in staat om tieners uit verskillende agtergronde in te lig en met lewensvaardighede toe te rus wat hulle die toekoms kan inneem,” sê Werner.

“Ons hoop om oor die hele Afrika duisende jeugdiges, wat die vasteland se toekoms is, te beïnvloed,” sê sy.



IN NAMIBIË

Werner se pa, Des, ook 'n vlieënier en direkteur van U-Dream Global, het Woensdag aan Republikein gesê hoe laat hulle in Windhoek land, sal van weerstoestande afhang, maar as alles volgens plan verloop, kan dit tussen 11:00 en 12:00 wees.

Hy nooi Windhoekers en veral skoolkinders uit om hulle op die lughawe te ontmoet.

“Ons sal eers by Lüderitz aandoen om die nodige papierwerk af te handel. Daarná gaan ons Sossusvlei toe, waar ons twee dae sal deurbring voor ons Windhoek toe vlieg. Ons sal net 'n paar uur in die hoofstad wees om mense op te laai en brandstof te kry voor ons na die Victoriavalle vertrek,” sê Des.

“Ons het soveel plekke om te sien en het net 'n maand vir die reis. Sossusvlei is vir my baie spesiaal omdat ek baie daar gevlieg het.”

Des sê hy het tydens sy opleidingsjare in die laat 90's twee jaar lank in Windhoek gewoon.

Hy sal deel van die bemanning vorm wat met 'n tweede vliegtuig saam sal vlieg.

Die bemanning van die ondersteuningsvliegtuig sal bestaan uit ervare vlieëniers met uitgebreide lugvaartondervinding, wat besluite oor weerstoestande sal maak, asook vlug- en brandstofbeplanning sal doen en na algemene risiko's sal omsien.

Hulle sal die tienervlieëniers help om betyds ingeligte besluite oor landings te neem.

Ses tienervlieëniers sal beurte maak om die vliegtuig te stuur.

Die vliegtuig was onderworpe aan 'n paar finale inspeksies en vlugsertifikasies.

Die Sling-4-prototipe is gekies omdat dit al twee keer vantevore rondom die wêreld gevlieg is.

Die reis sal ook deur spesiaal aangepaste en selfgemaakte hommeltuie verfilm word.

U-Dream Global se Kaap-tot-Kaïro-program is 'n ambisieuse lugvaartuitreikprogram vir tieners, wat toegewy is aan die bevordering van vernuwing, tegnologie en entrepreneurskap as noodsaaklike elemente vir Afrika se ontwikkeling en om­skepping.

Die hoop is dat dit die jeug van Afrika sal inspireer, bemagtig en tot entrepreneurskap sal aanspoor.

Soortgelyk

 

Voertuie deur Löwen meegesleur

12 ure gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer – Twee toeriste én 'n barmhartige samaritaan moes gister hulpeloos toekyk hoe beide hul voer­tuie deur vloedwater in die Löwenrivier meegesleur word.Dié twee...

Boer slag huurbeeste glo self

12 ure gelede | Misdaad

Elvira Hattingh – 'n Boer uit die Windhoek-omgewing het Donderdag sy vierde verskyning in die landdroshof in Windhoek gemaak op aanklag dat hy 'n boer...

Weer vir 19 Januarie

12 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word oor die binneland verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Namib en verre suide met 'n paar buie, andersins gedeeltelik...

Voëlgriep dalk in Namibië

12 ure gelede | Omgewing

Adam Hartman en Erwin Leuschner – Nadat voëlgriep in Suid-Afrika in die Wes-Kaap etlike maande gelede uitgebreek het, bestaan die vrees tans dat seevoëls langs...

Mense keer op keer uit riviere verskuif

12 ure gelede | Regering

Tanja Bause – Talle huise aan weerskante van 'n rivier wat parallel met Istanbulstraat in Otjomuise loop, het Sondagnamiddag oorstroom. Baie van die betrokke mense...

Pedofielsaak skuif na hoërhof

12 ure gelede | Howe

Kristien Kruger – Die vermeende pedofiel wat daarvan beskuldig word dat hy verskeie jong seuns in Windhoek verkrag en vir pornografies doeleindes misbruik het, se...

Reënseisoen skop buitengewoon swak af

12 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Ofskoon Namibië se weerkantoor opnuut wydverspreide donderbuie vir vandag oor die binneland voorspel, het die eerste helfte van die reënseisoen “baie swak”...

Noorde wag vir reën

12 ure gelede | Weer

Terwyl die sentrale en suidelike gedeeltes van Namibië hoë neerslae die afgelope paar dae aangeteken het, moet die noorde van die land nog volgens die...

Verslag: Verskaffers het Agribusdev droog gemelk

12 ure gelede | Ministeries

Mathias Haufiku – ’n Forensiese verslag oor Agribusdev se sakebedrywighede voer aan verskaffers het voorkeurbehandeling ontvang om sake met die maatskappy te doen deur prysvasstellingstaktieke...