Só vaar ministeries met toegang tot inligting

2020 se deursigtigheidsverslag vrystel

01 October 2020 | Regering
Yandi du Plessis



“Die aanvaarding van aanspreeklikheid, asook deursigtigheid, is van kardinale belang, veral in die situasie waarin die wêreld en Namibië tans verkeer. In die konteks van Covid-19 is volhoubare ontwikkeling en die bogenoemde eienskappe nou belangriker as ooit.

‘Die wêreldwye pandemie het die kwesbaarheid, sowel as die sterk punte van die mensdom blootgelê.”

Só sê mnr. Frederico Links, die voorsitter van Action Namibia Coalition. Hy was aan die woord Maandag tydens die Internasionale Dag vir Universele Toegang tot Inligting.

Action Namibia Coalition het ’n virtuele Zoom-byeenkoms aangebied waartydens die 2020 deursigtigheidsverslag vir Namibië bekendgestel en die wenners van die 2020 Golden Key- en Golden Padlock-toekennings aangekondig is.

Links het gesê die doel van die verslag is nie om regeringsinstansies te verneder nie, maar eerder om hulle aan te moedig om konstant te verbeter en inligting met almal te deel.

“Te midde van die pandemie sien ons politieke, ekonomiese en maatskaplike krisisse saam met die gesondheidskrisis afspeel.”

Onrus en verspreiding van valse inligting vererger steeds, en krisisse soos dié is presies wanneer duidelike, geloofwaardige inligting en kommunikasie benodig word om bekommernisse te kalmeer, vertroue te wek en vyandigheid te verminder. Die pandemie het die swakhede en gapings in nasionale en wêreldwye reaksiestelsels blootgestel, sê Links.

“In Namibië het die gesondheidsowerhede van die regering relatief goed gevaar om die land op die hoogte te hou in die konteks van Covid-19, maar terwyl die siekte woed, is daar steeds inligting- en vertrouensgapings en ’n samelewing wat reeds verswak is deur ’n magdom diepgewortelde sosio-ekonomiese kwale, breek verder af.”

Hy het daarop gewys dat die regering steeds sloer om die wet op toegang tot inligting te implementeer, hoewel dit reeds lankal beloof is.

“Dit is juis in ’n tyd soos hierdie dat toegang tot inligting die nodigste is as ’n gerusstellende meganisme om ons te help verstaan en te hanteer wat met en rondom ons gebeur. Toegang tot inligting is ’n fundamentele mensereg.”

Volgens Links kan toegang tot inligting in hierdie stadium lewens red, vertroue bou en hoop bring.

Action Namibia Coalition het die volgende beroepe op die Namibiese regering gedoen:

• Om die wetsontwerp op toegang tot inligting dringend deur te voer en toe te pas;

• Vir Namibiese regeringsdepartemente en -agentskappe om die aanvaarding van ’n kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid te formaliseer;

• Om alle wette en beleide oor deursigtigheid, soos die Wet op Openbare Verkryging van 2015 en sy regulasies, effektief toe te pas;

• Namibië moet aansluit by die Transparency Initiative van Extractive Industries – die wêreldwye standaard vir goeie bestuur van olie-, gas- en mineraalbronne – of minstens die sleutelaspekte van die EITI aanvaar, insluitend:

Stel ’n openbare register op van eienaars wat voordeel trek uit onttrekkingsbedrywe, insluitend visserye; Openbare amptelike kontrakte en lisensies rakende die ontginning van hulpbronne; Skep prosesse vir openbare deelname aan die opstel van die nasionale begroting en ook om die uitvoering daarvan te monitor en te evalueer; Stel ’n verpligte en openbare stelsel in vir die president en ministers om hul bates jaarliks bekend te maak; Verwerp die geneigdheid om inligting van die media te weerhou; Benader die probleme wat Namibië teister, proaktief en met eerlikheid.

DIE VERSLAG

Die Transparancy Assessment-verslag is bedoel om te dien as ’n ontleding van die owerhede en openbare instellings se bereidwilligheid om inligting met die breë publiek te deel.

Die verslag word gesamentlik deur die Media Institute of Southern Africa (MISA) en die ACTION Namibia Coalition saamgestel.

Dié volgende instellings is vanjaar beoordeel:

• Agt ministeries – onderwys, kuns en kultuur / finansies / visserye en mariene hulpbronne / geslagsgelykheid en kinderwelsyn / gesondheid en maatskaplike dienste / binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit / inligtings- en kommunikasietegnologie / arbeid, nywerheidsverhoudinge en skepping van werkgeleenthede.

• Erongo-streekraad

• Nasionale Jeugraad van Namibië

Volgens me. Emilia Paulus, ’n navorser van Namibia Media Trust en Action, sukkel gewone mense steeds om inligting van openbare instellings soos die bogenoemdes te kry.

Tydens die navorsingsproses, wat tussen Junie en Julie vanjaar gedoen is, is vraelyste met basiese alledaagse vrae wat vele Namibiërs het, aan die betrokke instellings gestuur.

Paulus sê sommige ministeries was baie behulpsaam, terwyl ander se reaksie baie traag was terwyl ander glad nie eens op die inligtingsversoek gereageer het nie.

“Die staatswye kommunikasie-strategie is ’n probleem. Daar moet gewerk word aan konsekwentheid tussen al die instansies,” het sy bygevoeg.

Deel van die navorsing was ook om die aanlyn platforms van die onderskeie instansies te monitor. Paulus het benadruk dat dit uiters belangrik is om platforms wat die publiek ingelig moet hou, gereeld opgedateer word en relevante inligting deel. Dit sluit amptelike webblaaie, Facebook-profiele en ander platforms soos Twitter en Instagram in.

Daar moet in eenvoudige, verstaanbare taal met die breë publiek gekommunikeer word. In die algemeen moet die Namibiese regering, SADC-lande en die Afrika Unie (AU) meer proaktief inligting deel, het sy gesê.

DIE TOEKENNINGS

Die arbeidsministerie het vanjaar die Golden Key-toekenning ontvang. Volgens Paulus het hulle binne sewe dae op die inligtingsversoek gereageer en was hulle baie bereidwillig om vrae te beantwoord.

Dié ministerie se sosiale media-platforms is op datum en deel gereeld relevante inligting met die publiek.

Die ministeries van inligting, geslagsgelykheid en gesondheid het ook goed gevaar tydens die evaluering, het Paulus gesê.

Die Nasionale Jeugraad het vanjaar die Golden Padlock-toekenning ontvang. Anders as die Golden Key is dit nie juis ’n eer om dié toekenning te ontvang nie. Volgens Paulus is dié instansie met tye baie traag om inligting te deel en met ander tye bloot tjoepstil. Sy sê hulle het glad nie op die inligtingsversoek gereageer nie.

“Hul webblad is nie op datum nie en hulle doen geen moeite om interaksie op hul Facebook-blad aan die gang te hou nie. Dít terwyl juis die jeug dié is wat ingelig moet bly.”

Die jeugraad is wel glo besig om aan ’n kommunikasiestrategie te werk, wat volgens Paulus ’n “stap in die regte rigting is”.

[email protected]

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

10 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

10 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

10 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

10 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

10 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...