Só maak megaboer Mecki Schneider

Vyf geslagte later op Okamutombe

15 October 2021 | Landbou
Elvira Hattingh – ‘n Belangrike aspek daarvan om oor geslagte heen suksesvol te boer, is om jou kennis na die volgende geslag oor te dra. Buiten daarvoor staan ‘n sterk boerdery op volledige, wetenskaplike data.

Só meen die megaboer Mecki Schneider, wat saam met sy vrou, Brigitte, een van die grootste stoet- en kommersiële vleisbeesbedrywe in Suider-Afrika besit. Die Schneiders boer reeds sowat 110 jaar op hul plaas Okamutombe naby Grootfontein.

Mecki se seun, Reimo, en skoondogter, Sonja, het sowat drie jaar gelede by hulle aangesluit en is die vierde geslag Schneiders op die plaas. “En die vyfde geslag loop ook reeds al hier rond,” sê Schneider.

“Sonja hanteer die bemarkingsaspek en dit het reeds baie goeie vrugte afgewerp.”

STOETERYE

Die Schneiders het ‘n groot wit Brahmaanstoet, ‘n kleiner Simmentalerstoet en ‘n groot kommersiële kudde.

Mecki, wat in 2016 ook op kykNET se gewilde Megaboere-reeks verskyn het, verduidelik aanvanklik is daar eers met Simmentalers op Okamutombe geboer.

Die Brahmaankudde het later bygekom toe Mecki en Brigitte in 1987 vier verse gekoop het en mettertyd uitgebrei het. Vandag is dié kudde ook sowat 34 jaar oud.

“Dit is vandag ‘n groot stoetery in Namibië. Ons voorsien diere aan beide die kommersiële en kommunale mark. Ons het ook al beeste na Botswana en vanjaar na Zimbabwe uitgevoer,” het hy verduidelik.

Die meeste van hul vee loop op huurgrond tussen Grootfontein en Windhoek, sê Schneider. “Dit is ‘n ver afstand, maar ‘n mens moet dit bestuur en met ‘n goeie arbeidsmag en ‘n selfoon kan jy dit doen,” sê hy.

Die Schneiders se Simmentalerstoet, Okasim, het ‘n lang geskiedenis en kom uit die vyftigerjare, toe hul plaas sy hoofinkomste uit melk en roomverkope gemaak het. Tydens die droogte is daar na vleisproduksie oorgeskakel – iets waarin die Simmentaler ook goed vaar.

Mecki sê hulle het deurlopend hul Simmentalerkudde suiwer gehou en kon dit in die 90’s as ‘n stoetery registreer.

“Saam met Reimo en Sonja maak ons gebruik van teelwaardes en nuwe tegnologie. Ons het dus ‘n baie goeie, prestasiegetoetste kudde.

“Daar is ‘n ster-toekenning vir stoeterye in Suider-Afrika wat goeie data oor hul teelwaardes hou – en ons het vyf uit vyf sterre,” het Mecki gesê.

GENETIKA

“‘n Stoetteler is altyd opsoek na nuwe bloedlyne en genetika. Vernuwing is belangrik vir vordering en jy moet natuurlik gefokus wees op dit wat jy wil doen,” verduidelik Mecki.

Hy sê hulle het aanvanklik genetika vir hul Brahmaankudde uit Suid-Afrika ingevoer, maar nadat bek-en-klouseer onlangs in die buurland uitgebreek het, moes hulle oor die afgelope jare alternatiewe planne maak.

“Hier is egter goeie Brahmaanstoeterye in Namibië. Ons het van plaaslike stoeterye gebruik gemaak en ander telers het ook van ons gekoop.

“Die voordeel van so ‘n situasie is dat die koppeling tussen plaaslike kuddes versterk het, wat ‘n belangrike aspek vir die berekening van teelwaardes is. Dit kan dus met beter akkuraatheid bereken word,” het hy gesê.

Die Schneiders het oor die afgelope jare gebruik gemaak van semen uit Suid-Afrika en voorheen ook vanuit Amerika, met afstammelinge hiervan wat tans as stoetvaars dien. Daar is ook semen van drie bekende bulle uit Austrailië gebruik – juis om nuwe genetika te kan benut.

“Wat Namibiese Brahmaantelers betref, is ons besig met ‘n internasionale genetiese evaluasie. Dit beteken ons gaan binnekort ons diere geneties kan vergelyk met enige dier in byvoorbeeld Amerika of Australië. Dit is kragtige sagteware en ook sterk bemarkingsgereedskap,” het hy gesê.

Mecki sê as dit by hul Simmentalers kom, het hulle ook meestal van Namibiese genetika gebruik, asook ‘n bietjie van Suid-Afrika. “Ons het plaaslik báie goeie genetika wat binnelands gebruik word.”

Hy sê hulle fokus op struktureel korrekte, maar aangepaste bees en meegaande faktore. “Ons maak baie op teelwaardes staat en koop graag van kuddes wat ‘n gevestigde rekord van prestasietoetsing het. Dit bevestig dat jy kry wat jy koop.”

Mecki sê as dit by sy kommersiële kudde kom, maak hy van sy eie bulle gebruik – beide Simmentaler-en Brahmaanbeeste.

“Dit is ‘n kruisteelprogram, waarvan die F1-kruising die sterkste is. Ons fokus is die slagbeesmark,” het hy bygevoeg.

VEERKRAGTIGHEID

Hy sê hy het nog nooit sy plaas gesien soos dit gelyk het tydens die onlangse sewe jaar van droogte nie. “In 2019 was ons op die punt om ‘n groot besluit in terme van verkope te maak, maar toe het Reimo by ons aangesluit.

“Ons het daagliks minstens by agt of nege poste boskos gevoer. Ons moet tien tot 15 mense bykomend huur om boskos te oes en te maal en die masjinerie daarvoor koop. Ons het beeste verkoop, maar kon eindelik sowat 85% van ons kudde behou. Dit help egter dat ons nou, ná die droogte, in ‘n goeie posisie is om voort te gaan.”

Mecki sê in ‘n land soos Namibië, met gereelde droogtes, is beide ‘n os- en speenkalfproduksiestelsel noodsaaklik.

Hy beskou sy koeikudde as ‘n fabriek. “Veral by stoetkuddes, wat jy oor dekades heen volgens jou visie opgebou het. As jy dit moes verkoop, sou jy weer van voor af moet begin. Ons is gelukkig dat ons die koeikudde deur die droogte kon dra. Hopelik verander die weerpatrone nou,” het hy gesê. - [email protected]

Soortgelyk

 

Vroeë Kersgeskenk vir die Kankervereniging

8 ure gelede | Kuns en vermaak

Die Kollege van die Kunste (Cota) bied eerskomende Sondag (5 Desember) die Christmas Memories-konsert ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN) aan. Jürgen Kriess,...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

9 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Vrou toets positief vir Omicron in Tseggiese Republiek ná...

9 ure gelede | Gesondheid

'n Finale ontleding by 'n hospitaal in die stad Liberec in die Tseggiese Republiek het getoon 'n 60-jarige vrou wat teruggekeer het van 'n reis...

Shifeta: Regering in gesprek oor reisverbod

10 ure gelede | Toerisme

Die Namibiese regering gaan voort om deur middel van diplomatieke kanale met die relevante owerhede in Brittanje, Verenigde Arabiese Emirate, die Europese Unie en sy...

Nasionale Raad hervat sy sitting

10 ure gelede | Regering

Die Nasionale Raad het vanoggend (Maandag) sy sitting hervat, onder meer om die nuwe Wysigingswetsontwerp op Bewilliging te bespreek.Dit is vroeër deur die Nasionale Vergadering...

Veldbrand ‘buite beheer’

1 dag gelede | Ongelukke

Nadat Republikein vanmiddag ondersoek by die veldbrande in die omgewing van Midgard gaan instel het, het mnr. Cornè Kruger intussen laat weet die vuur was...

Wêreld se optrede ‘oneerbiedig, agterbaks, diskriminerend’

1 dag gelede | Gesondheid

Die uitvoerende voorsitter van Ohlthaver & List, Sven Thieme, sê Brittanje, die Europese Unie, Amerika en ander lande se reisverbod op vlugte uit Suider-Afrika is...

G7-lande se gesondheidsministers vergader vandag

1 dag gelede | Internasionaal

Gesondheidsministers van die wêreld se rykste sewe demokrasieë sal Maandag vergader om die nuwe variant van die coronavirus, Omicron, te bespreek.Reuters berig die dringende G7-vergadering,...

Geen sterftes, sewe nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes bly op 3 573, terwyl sewe nuwe gevalle gister aangeteken is. Dit is 'n positiewe koers van 0,6% en sluit 'n student in....