'Robocop' vir pille

14 November 2018 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – In ’n hospitaal in Namibië is ’n robot met die naam Eva wat binne sekondes sorg dat elke pasiënt met sy of haar medisyne geholpe raak.

Die Rhino Park Private Hospitaal in Windhoek is die eerste hospitaal in Namibië om ’n dispenseringsrobot vir medikasie te installeer. In die hospitaal se apteek duur dit ’n skrale 30 sekondes vandat Eva haar opdrag vir ’n voorskrif kry, totdat dit by die apteker beland.

Die Oshakati-apteek was sowat twee jaar gelede die eerste in die land om dié dispenseringstegnologie aan te skaf wat die “arbeid uit dispensering haal” en verseker dat meer op pasiëntesorg gefokus word.

“Jy hoef nie meer rond te hol om voorraad te soek nie, maar kan tyd met die pasiënt bestee. Mense is so gefokus op werk, maar nou het jy meer interaksie met die pasiënt wat eintlik ons hooffokus is,” verduidelik me. Esmé Botes, direkteur van Rhino Park.

Volgens Botes word die robot in Spanje aanmekaargesit, getoets, uitmekaargehaal en dan na die betrokke land verskeep.

“Aanvanklik word ’n tegniese persoon saam uit Spanje gestuur wat oor drie dae help met die bou van die robot. Op dag 2 arriveer die programmeerder en hier is ook ’n plaaslike verteenwoordiger,” sê Botes.

Laasgenoemde is nie ’n tegniese persoon of ontwerper nie, sê Lubbe, en om met haakplekke te help, is daar vier kameras binne Eva wat “elke sekonde van elke dag” haar aksies monitor.

“Dit stuur ’n video vir die ou in Spanje om te laat weet daar is ’n probleem en dit word oor ’n afstand reggestel.”

Vyf van dié dispenseringsrobotte het nou in Namibië aangekom en is almal klaar opgestel, sal die land met twee by hospitale en vier by apteke spog.

Botes verduidelik elke verpleegstasie of afdeling in die hospitaal is deur middel van ’n faktuurstelsel met die mediese stoor verbind.

“Alles wat vir ’n pasiënt gebruik word en wat medikasie insluit, word op die pasiënt se kaart aangeteken. Elke pasiënt het ook ’n unieke strepieskode wat beteken jy kan nie een se medikasie met ’n ander verwar nie,” verduidelik Botes.

Medikasie wat vir die betrokke pasiënt gebruik moet word, word gevolglik uit die mediese stoor verhaal.

“Die medikasie word direk op die rekeningstelsel geskandeer en verskyn gevolglik op die pasiënt se rekening.”

Doktersvoorskrifte word ook direk na die apteek gestuur waar dit aan die betrokke saal vir die pasiënt uitgereik word.

“Die voorskrif word uitgetik en die robot gaan haal dit!”

Volgens Esmé word alle voorraad in die robot se geheue gestoor.

“Dit help met voorraadopnames en ook vervaldatums. Die ‘oudste’ medikasie word altyd gebruik en ons kry ook ’n daaglikse lys van medikasie wat gaan verval. Dit is ons keuse om drie maande voor die vervaldatum te besluit of ons die medikasie gaan dispenseer of dan besluit om ‘stadige’ medikasie wat min gebruik word, eerder na die vervaardiger of verspreider terug te stuur. Dit help geweldig baie met voorraadbestuur en dat jy nie verliese ly nie.”

’n Gebeurlikheidsplan is opgestel, sou die krag afgaan en Eva moet steeds met haar belangrike take voortgaan. Hiervoor word ’n ononderbroke kragvoorsiener (UPS) en ook ’n kragopwekker ingespan.

Esmé beklemtoon hoewel Eva haar deel doen, is daar steeds altyd ’n gekwalifiseerde personeellid wat toesig hou en alles nagaan.

Volgens haar kan vier persone vir Eva opdragte gee, maar word voorkeur altyd aan ’n voorskrif gegee.

“Jy kan soveel inligting laai as wat jy wil. Sy sal altyd na die ‘eerste’ voorskrif gaan en dit eers volledig voltooi, voordat sy na die volgende opdrag beweeg. ’n Mens maak altyd seker alles is reg, maar die robot doen die hardloopwerk!”

Om Eva in aksie te sien, is doeltreffendheid en spoed in aksie. Wanneer medikasie hul plek op die rakke in die medisynestoor en Eva se tuiste moet vind, word die strepieskode van die betrokke medikasie geskandeer. Eva se brein neem onmiddellik die mates en grootte van byvoorbeeld die pakkie pille. Al op die soom van rakke in die stoor wys Eva ’n sekonde of wat later met die hulp van ’n streep rooi liggies wat aangaan, waar die pakkie pille geplaas moet word. Jy wou nog kyk, en Eva is reg om dit te kom haal en op die regte plek in die medisynestoor te bêre.

“By die presiese gaatjie kry die pille sy plekkie!”

Soortgelyk

 

Verskeie staatskole in Windhoek sonder water, krag

1 uur gelede | Onderwys

Meer as tien staatskole in Windhoek is reeds vir dae sonder krag en water, nadat toevoer deur die munisipaliteit afgesny is. Die skole wat geraak...

Hardapkrane lóóp

1 uur gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Watertoevoer in die besproeiingskanaal op die Hardapskema het reeds 05:00 vanoggend weer afgeskop. Dit volg nadat NamWater se uitvoerende hoof, mnr. Abraham...

‘Skaapdiefstal’ lei tot treurspel ...

11 ure gelede | Howe

Francoise Steynberg - Die beweerde diefstal van 30 skape by ’n bekende ruskamp buite Keetmanshoop het Maandag glo tot die dood van ’n vermeende skaapdief,...

’n Uitspansel vol belofte

11 ure gelede | In beeld

Mnr. Ettienne Rossouw het dié foto gistermiddag om 15:00 in Suid-Namib geneem en op die Facebook-blad “Namibië Reënval” gedeel. “Kyk hoe bou die wolke. Belowend!”...

Itula slyp sy tande opnuut

11 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Dae nadat die hooggeregshof beslis het Namibiërs keer nie terug stembus toe nie, het die voormalige onhafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula,...

Corona draai in parlement

11 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die Swapo-agterbanker en parlementslid me. Pendukeni Iivula-Ithana het gistermiddag die minister van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, oor die...

Krokodil val man aan

11 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg Omstanders het tevergeefs probeer om 'n 45-jarige man uit die kake van 'n krokodil in die Zambezirivier by Impalila-eiland te red. Volgens die...

Weer, Woensdag 12 Februarie 2020

11 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met enkele tot geïsoleerde donderbuie in die Oshikoto-, Kavango-, Zambezi-, Otjozondjupa-, Omaheke-, Khomas-, Hardap- en //Kharasstreek. Elders...

Oudonnie weer in Maart voor hof

11 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Tydens ’n bondige verskyning in die Rehoboth-landdroshof Maandag het ’n 69-jarige, wat daarvan beskuldig word dat hy sy agtjarige dogter verkrag het,...