Rittmann-moord: Eksminnaars skuldig

Eksminnaars skuldig

30 August 2019 | Howe
Denver Kisting



Enkele minute nadat Rhyno du Preez (35) en sy 48-jarige eks, Rachel Rittmann, aan die grumoord op haar man skuldig bevind is, het hy aan Republikein gesê hy het geen kommentaar nie.

Geklee in 'n geruite hemp, peperduur jeans en ewe duur sportskoene en sonbril, het hy sy weg kort tevore voor Rittmann uit die hof na die selle gevind.

Gedurende die bykans 90 minute lange uitspraak van regter Christie Liebenberg in die Windhoek-hoërhof gister het hy deurgaans aantekeninge van die verrigtinge sit en maak.

Op die kop 11:27 het Liebenberg die oudminnaars in die beskuldigdebank laat opstaan en ingelig die hof is van mening hulle het saamgesweer om haar man, mnr. Loffie Rittmann (toe 34), te vermoor en het op 23 Augustus 2013 dié plan op Gobabis uitgevoer.

Af en toe het Du Preez 'n sluk water uit 'n bottel geneem, terwyl Rittmann Liebenberg stip dopgehou het.

Naas moord en same­swering, waaraan albei skuldig bevind is, is sy ook aan diefstal en hulle albei aan dwarsboming van die gereg skuldig bevind.

Du Preez het destyds vir mnr. Rittmann met 'n mes toegetakel, wat Rachel in die egpaar se kombuis gaan haal het.

Hulle het die moordtoneel opgeruim waarná Du Preez mnr. Rittmann se lyk in die oorledene se bakkie vervoer en tussen Windhoek en Gobabis met die oorskot daarin van die pad laat loop en aan die brand gesteek het.

Die eertydse paartjie is op Lentedag 2013, sowat agt dae ná die moord, onder die komberse in 'n huis in Otjomuise in Windhoek in hegtenis geneem.

Volgens Liebenberg was drie moontlike motiewe vir die moord ter sprake – om geld in die hande te kry om die klaer in 'n bedrog­saak terug te betaal waarby die oudminnaars betrek was, om te keer dat Rachel terugkeer na haar man wat haar glo mishandel het, en Du Preez se jaloesie.

Liebenberg reken dit was 'n kombinasie tussen die behoefte om vinnig geld te kry – waarvoor wyle Rittmann se gewysigde polisse sou sorg – en Du Preez se jaloerse geaardheid.

Die eertydse minnaars het mekaar in Mei 2012 op Facebook ontmoet.

In daardie stadium was hy in sy 20's en sy reeds in haar 40's.

Teen die volgende maand het hy by haar ingetrek.

Kort voor lank was hulle kollegas by die kontantleningsaak waar sy 'n bestuurder was.

Die oudminnaars het die verhouding meer as een keer sedert hul aanlyn ontmoeting en die moord verbreek, maar het gou weer versoen geraak.

Wyle Rittmann se drie sibbes, mnr. Seth­rick en mee. Leana en Gledis Rittmann, moes gister na die grieselrige besonderhede van hul broer se dood in die uitspraak luister.

Die twee moet op 7 en 9 Oktober vir voorvonnisverrigtinge terug in die hof wees.

Die staat sal dan betoë ter strafverswaring lewer, terwyl die verdediging by die hof om genade sal pleit.

Leana Rittmann het ná gister se uitspraak gesê “albei families” sukkel steeds om afsluiting te vind.

[email protected]

Soortgelyk

 

Teko-trio loop vry uit

9 ure gelede | Howe

Ronelle RademeyerDie drie vermeende skandeerder-bedrieërs is vry.Die twee Namibiërs en hul Chinese sakevennoot wat 'n dekade gelede in verband met die bedrog­skandaal oor die aankoop...

AR wil land uit Windhoek regeer

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) onder sy voorbok, mnr. Job Amupanda, se leiding, wil minstens 50 000 huise bou sodra hy in Windhoek...

Amerika belê groot in nuwe ambassade

9 ure gelede | Internasionaal

Die Amerikaanse regering het byna N$200 miljoen vir sowat ses hektaar grond in Klein Windhoek betaal om hul nuwe ambassade-kompleks te bou. Hier is 'n...

Ligloop vir swendelaars

9 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig'n Reeks video's en tekenprente is gister bekend gestel om bankbedrog te help bekamp.Dit vorm deel van die Vereniging vir Betalings in Namibië (PAN)...

Weer, Donderdag 19 September 2019

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm. Winderige toestande sal oor die binneland heers.KUS: Bewolk en koud tot koel met miskolle in die oggend.GETYE...

Amerika koop Metje-erwe vir byna N$200 miljoen

9 ure gelede | Plaaslik

Francoise Steynberg Die Amerikaanse regering het sowat ses hektaar grond in Klein Windhoek aangeskaf om hul nuwe ambassade-kompleks te bou.Die koopbedrag was byna N$200...

Video’s van NDF-lede verbode

9 ure gelede | Ministeries

Die ministerie van verdediging het lede van die publiek gewaarsku om nie foto’s van lede van die Namibiese polisie of die weermag (NDF) te neem...

Trofee sonder skoot

9 ure gelede | Omgewing

Augetto Graig - Om ’n trofee huis toe te neem, is dikwels sterk aansporing vir ’n bietjie avontuur, en die moontlikheid van avontuur is volop...

Gesondheid kry hupstoot

9 ure gelede | Ministeries

Die Ohorongo Otavi-gemeenskapstrust het in samewerking met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) en Support Ulm e.V ooreengekom om hul samewerkingsooreenkoms vir tegniese...