Renosterkalf nog soek
Renosterkalf nog soek

Renosterkalf nog soek

Mnr. Martin Rust sê die soektog na Zanna se kalfie gaan nog steeds per voet voort.
Tanja Bause
Tanja Bause – Die kalfie van die gestroopte renosterkoei Zanna is nog nie opgespoor nie en die soektog per helikopter is afgelas.

Zanna en nog 'n renosterkoei Grosse Kuh is verlede naweek op 'n gasteplaas in die Otjozondjupastreek gestroop. Zanna se karkas is Sondag in die veld gevind; sy is geskiet en onthoring.

Haar 18 maande oue kalfie kon nog nie opgespoor word nie.

Terwyl daar na die kalf gesoek is, het mense op die karkas van Grosse Kuh afgekom. Sy het ook 'n kalf gehad wat intussen gevind en nou saam met haar ouer broer is.

Mnr. Martin Rust het gesê die soektog na Zanna se kalf gaan nog steeds per voet voort.

“Ons het baie ondersteuning van die gemeenskap gekry en die soektog per voet gaan nog steeds aan. Mense help ook met hommeltuie met termiese beeldkameras. Ongelukkig help hulle slegs as die kalf nog lewe. Wat ons bekommer, is dat ons geen vars spore of mis van die kalf vind nie. Ons moet 'n gebied van omtrent vier tot vyf hektaar deursoek en ná die goeie reën maak die dik bos die soektog baie moeilik,” het hy gesê.

'n Beloning van N$50 000 word aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisname en die skuldigbevinding van die skuldiges lei.

“Vir ons gaan dit nie oor die terugkry van die horings nie, maar om stropery in die toekoms te voorkom en dalk netwerke van stropers oop te vlek.”

[email protected]


FOTO
Die kalfie van Grosse Kuh saam met haar ouer broer. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer