Reën dis natuurwonders op

Insekte, diere en selfs gesogte sampioene

12 February 2021 | Omgewing
Tanja Bause

Met die goeie reën wat in dele van Namibië oor die laaste paar maande uitgesak het, het talle insekte, diere en selfs gesogte sampioene hul opwagting gemaak.

Sommige van die insekte was in oorvloed en is volgens mnr. Francois Becker, die hoofkurator: Natuurwetenskap van die Nasionale Museum van Namibië, ’n natuurlike verskynsel.

“As daar nie genoeg reën is nie broei baie van die insektegroepe se eiers nie almal uit nie. As dit net bietjie reën, broei net ’n paar uit. Hulle paar en lê weer eiers. Die eiers wat nie uitbroei nie bly in die grond en wag op goeie reën. Wanneer dit ’n paar jaar van droogte was, is daar baie eiers in die grond wat oor die jare opgehoop het. As daar dan ’n goeie reënjaar kom, soos dit vanjaar die geval is, broei al die eiers gelyktydig uit en kry ons ’n ‘ontploffing’ van sekere insekte,” het hy gesê.

FLUWEELMYT

’n Ou bekende soos die rooi fluweelmyt word weer oral in die land gewaar. Die fluweelmyt se naam in Oshiwambo is okanakomvula, wat “God se Koeie” beteken.

Volgens Enzo Amuele mag ’n mens volgens die Oshiwambo-kultuur nie ’n fluweelmyt doodmaak nie.

“Ons respekteer hulle. Jy sien hulle en los hulle uit,” sê hy.

Myte behoort aan die spinnekopagtiges, hulle het agt pote en party mytspesies kan tot sy spin. Hulle kan mikroskopies klein of tot sowat 2 cm in lengte wees, soos die reënfluweelmyt.

Myte vorm seker die grootste groep in die dierewêreld, maar daar is glo net 10% van alle mytspesies al geïdentifiseer en word tans bestudeer.

Myte kom ná goeie reën uit die grond uit op soek na termiete en miere. As die son dan weer bak en die grond nog vogtig is, grawe hulle hulself weer in die grond in en lê en wag vir die volgende goeie reëns.

Die fluweelmyt gaan deur verskillende lewensiklusstadiums.

Die eiers word in hope van tussen 60 tot 100 000 in nat grond gelê. ’n Diertjie kom uit die eier wat nog nie ’n larwe is nie. Gedurende dié tydperk beweeg die myt nie baie rond nie en lê net in die omgewing waar dit uit die eier gekruip het.

Ná sowat twee dae vervel dit en die rooi larwe maak sy verskyning. Die larwe lyk nie soos die volwasse dier nie en het ook net ses pote. Die larwe is vol energie en soek ’n gasheer. Hulle klim op die insek se rug en boor ‘n gat in sy lyf om bloed te suig.

Myte gebruik dikwels sprinkane en word dus ook so versprei.

Ná ongeveer twee weke het die larwe genoeg gedrink en verlaat die gasheer.

Die larwe gaan in ’n slaapstadium en is omring deur 'n kutikula (soos 'n papie) en ontwikkel verder.

Wanneer dié stadium voltooi is, het dit in ’n agtpotige mytlarwe ontwikkel wat alles vreet wat voorkom. Dit is die sogenaamde vreetstadium waarna daar weer ’n onaktiewe russtadium is.

Ná dié stadium is die myt uiteindelik volwasse. ’n Volwasse myt is meestal onaktief en kom net te voorskyn nadat dit gereën het. Dit het hulle ook die bynaam, reënspinnekop, verskaf.

Die fluweelmyt se paringsritueel en parasitiese gewoontes maak dit ’n unieke en ongewone diertjie.

Die mannetjie bou ’n “liefdestuin” deur spermpakkies op blare en gras te sit. Hy lê dan ’n sydraad wat van die liefdestuin af wegbeweeg. Wanneer ’n wyfie op die sydraad afkom, kan sy dit volg en by die tuin uitkom. Soos sy oor die spermpakkies loop, tel sy dit op en word bevrug, waarna sy eiers lê en die hele siklus van vooraf begin.

KORINGKRIEK

Die koringkriek, dikpens of Abraham-boepens is ’n insek wat in Namibië, Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika voorkom. Hulle is omnivore en eet alles van plante, ander insekte en selfs mekaar.

Min mense tel die koringkriek op en probeer hom vryf. Mense gril liewers vir die gepantserde kriek met sy skerp stekels.

Koringkrieke kan nie vlieg nie. Hulle is vet en sowat 5 cm lank wanneer hulle volwasse is en dit maak hulle ’n gewilde happie vir verskillende diere.

Dit is ook die rede waarom hulle verskeie verdedigingsmeganismes het om hulle te beskerm.

Eerste op die lys van verdedigingsmeganismes is hul gepantserde eksoskelet en ’n borskas wat met talle skerp stekels oortrek is.

Koringkrieke het baie sterk kake en 'n byt wat hard genoeg is om mense te laat bloei. Beide die mannetjie en die wyfie sal uit selfverdediging byt, net soos die brulpadda, wanneer hulle bedreig voel.

Die mannetjie maak ’n harde geluid deur dele van sy lyf teenmekaar te vryf. Wanneer hulle aangeval word, sal hulle die geluid maak om die aanvaller te waarsku en af te skrik.

Mense wat al ’n koringkriek opgetel het, het agterna ’n ligte groen/geel vloeistof op hul hande gehad. Dit is die koringkriek se bloed wat hemolimf genoem word. Hulle kan hemolimf uit gleuwe in hul eksoskelet tot 6 cm ver spuit.

Wanneer al die ander verdedigingsmeganismes faal, sal die koringkriek sy maaginhoud opgooi en sy liggame met braaksel bedek.

Koringkrieke is kannibale en mens sien hulle gewoonlik ná die reën op die paaie. Wanneer een doodgery of beseer is, sal ander koringkrieke hom opvreet. Hulle word dan ook doodgery en so word die kol van dooie en vretende koringkrieke al groter.

Nadat hulle die hemolimf in selfverdediging gespuit het, maak hulle hulleself onmiddellik skoon, omdat hulle nie ander koringkrieke wil lok nie.

Hul paringsritueel verskil van ander insekte waar die wyfie meestal die kieskeurige een is, is dit in die geval van die koringkriek die mannetjie.

Die mannetjie gee vir die wyfie ’n “huweliksgeskenk” wat uit kos en sperm bestaan. Dit is ’n groot geskenk veral omdat die mannetjie nie weer kan paar totdat hy nuwe sperm geproduseer het nie.

Wyfies paar een keer voordat sy eiers lê, daarna paar en lê sy eiers lukraak. Dit beteken dit is tot voordeel van die mannetjie om met ’n wyfie wat nog nie voortgeplant het nie te paar en te verseker die volgende generasie is syne.

Wyfies wat nog nie voortgeplant het nie is ligter as dié wat al het, dus kan die mannetjie tussen die twee onderskei.

OMAJOVAS

Meeste Namibiërs is met die Macrotermes michaelseni, ’n termietspesie, vertroud.

Nadat dit gereën het, sien ’n mens duisende van dié vlieënde termiete wat die termietheuwel verlaat om nuwe kolonies te stig. Sommige mense sien die termiete as ’n voedselbron.

Die termiete is egter meer bekend vir die sampioene wat ná goeie reën in die noorde van die land op die termietheuwels groei.

Die sampioen wat in die volksmond as omajova bekend is, is ’n gesogte delikatesse.

Omajova groei nie op alle termietheuwels nie. Hulle groei slegs in die sentrale en noordelike dele van die land. Die termietheuwels is dikwels tussen 4 tot 5 meter hoog en hul bopunt is altyd in ’n noordelike rigting gerig.

Die termiete het ’n simbiotiese verhouding met die Termitomyces-swam. Die termiete verbou die swamme in ’n swamtuin, bestaande uit ’n paar honderd kamers waarin swamme groei, strukture wat uit gekoude gras en hout gebou is en waarop swamspore versprei is.

Anders as die swamme wat deur blaarsnyermiere gekweek word, wat die mierkolonie as voedsel gebruik, help die Termitomyces-kultuur in die termietnes om sellulose en lignien af te breek in ’n voedsamer kompos wat as voedingsbron vir die termiete dien.

Die swamtuin is dus ’n soort spysverteringstelsel buite die liggaam waarheen termiete sellulosevertering “uitkontrakteer”.

Vars materiaal word aan die bokant van die swamkamer bygevoeg terwyl die verteerde materiaal aan die onderkant deur die termiete geëet word. Die simbiose bied optimale toestande vir albei – ’n veilige hawe vir die swamme en vooraf verteerde voedsel vir die termiete.

Wanneer dit genoeg reën, groei die omajova en breek deur die grond. Wanneer dít gebeur, is die paddastoel so groot soos ’n man se vuis. Sodra die paddastoel begin oopmaak kan dit vinnig ’n deursnee van tot 30 cm bereik en kan byna ’n kilogram weeg.

Die wortel vernou afwaarts tot sy oorsprong in die nes. Dit is belangrik dat mense – wanneer die omajova geoes word – altyd ’n stuk van die wortel vir die termiete agterlaat en om te verseker dat hulle volgende jaar weer groei.

Daar kan nie kommersieel met omajovas geboer word nie en dit kan ook nie in winkels gekoop word nie. Plaaslike inwoners verkoop dit langs die pad wanneer dit in seisoen is om ’n ekstra inkomste te verdien.

Omajovas het ’n unieke smaak en ’n ferm tekstuur. Dit word dikwels soos ’n biefstuk of in krummels soos ’n “schnitzel” in botter gebraai.

Die stam word in stukke gesny en in sop of risotto gebruik. Hoe ook al, die omajova is op sy beste met bietjie sout en peper in botter gebraai. Dit is nie net mense wat dié sampioen as ’n delikatesse sien nie. Beeste en bokke is ook gek oor dié seisoenale bederf.

TRIOPS

Triops of varswatergarnale wat ná reën in waterpoele en panne voorkom, word as ’n lewende fossiel beskou.

Fossiele van meer as 300 miljoen jaar gelede toon bykans geen verandering in dié dier se voorkoms nie en dus word hulle as lewende fossiele geklassifiseer.

Volgens Francois kom dié genus wêreldwyd voor. Hulle kom gewoonlik in panne of vloedvlaktes voor wat ná goeie reën vol water is.

“Hulle eet oorblyfsels (detritus) en klein organismes wat in die modder groei, maar vang ook groter diertjies, soos paddavisse, triops en inseklarwes. Hulle lê klein eiertjies wat hulle gewoonlik in die modder begrawe. Die eiertjies, wat soos stofkorreltjies lyk, droog heeltemal uit en kan vir jare lank op en in die grond bly lê voordat hulle weer ná genoeg reën uitbroei. Dit is nog nie duidelik wat alles nodig is vir die eiertjies om uit te broei nie, want hulle broei nie uit elke keer as hulle nat word nie en as dit nie genoeg reën nie, sal almal doodgaan. Inteendeel, sommige van die eiertjies broei net uit as hulle vir ‘n ruk in dieperige water onder die regte omstandighede lê, maar ander sal eers jare later uitbroei. Die eiertjies kan deur die wind gewaai word of deur water weggespoel word, en versprei dan so na ander panne.”

“Daar is tans net twee spesies in Namibië bekend, maar albei word nou beskou as ‘n versameling van klomp verskillende spesies wat amper dieselfde lyk. Daar is dalk nog ‘n klomp wat beskryf moet word en daar is wel verskille in habitat, lewensiklus en grootte wat oor die land gesien kan word. Die triops in die Namibwoestyn is baie klein en leef skaars ‘n week of twee in die vlak poeletjies, terwyl Kalahari-spesies heelwat groter is en langer leef. Die spesie van die Namib het beide mannetjies en wyfies, maar dié in die binneland is blykbaar hermafrodities (tweeslagtig). Die Nasionale Museum is tans besig met navorsing oor hierdie groep,” het Francois gesê.

Soortgelyk

 

Vrou woon in haar motor by hospitaal

6 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

6 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

6 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

6 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

6 ure gelede | Byvoegsels

Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes...

Hof kry Heritage Health voor stok

6 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die mediese fonds Heritage Health het 'n bloutjie in die hoërhof geloop nadat hy sy jaarlikse premies wou verhoog, maar dié stap...

'IEB in nuwe formaat is hier om te bly'

6 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die nuwe leerplan vir skole in Namibië wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-stelsel volg, is vergelykbaar met die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS)...

#Indigiwalk Namibia in die pyplyn

6 ure gelede |

Augetto Graig – Die pad na 'n beter wêreld is eensaam en lank en mnr. Craig (Q7) Beckett, 'n Suid-Afrikaanse Khoisan-jagter, geneser en menseregte-aktivis, sal...

‘Geen personeel betrokke by stropery’

6 ure gelede | Ministeries

Francoise Steynberg Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig dat geen van sy personeel by wildstropery betrokke was nie en stropery het...