Rehoboth: Koppe stamp oor abattoir

Slagpale weens opknapping gesluit

15 January 2020 | Landbou
Jemima Beukes – ’n Groep Rehoboth-sakemanne beweer die dorpsraad se uitvoerende hoof, mnr. Simeon Kanime, het “uit sy kantoor gehardloop en hulle onbeskof weggewys,” toe hulle hom oor die toestand van die dorp se slagpale wou spreek.

Kanime beweer egter hy was nie onbeskof nie.

“Ek het bloot hul vrae beantwoord,” sê hy, en wou nie verder oor die voorval kommentaar lewer nie.

Die leier van die besigheidsafvaardiging, mnr. Rudi van Wyk, eienaar van die Aukukams-slaghuis op Rehoboth, sê hulle het die vergadering met Kanime verlede week amptelik versoek om kwessies te bespreek wat plaaslike boere en vleisprodusente bekommer, maar het geen reaksie daarop gekry nie.

Dit het hulle genoop om Kanime se kantoor te besoek.

Die sakemanne sê hul besighede word deur die huidige opknappinng van die abattoir bedreig, omdat produsente nou nie geriewe het om hul diere te slag nie.

“Ons het mnr. Kanime ingelig oor die kwessie en dit aan hom duidelik gemaak hierdie scenario gaan ’n direkte impak op die dorp se ekonomie hê.

“Hy het ons versoek vir ’n vergadering verwerp, en gesê die Rehoboth-abattoir voldoen nie aan sekere standaarde nie, derhalwe is dit tydelik gesluit. Ek vra hom toe hoekom die dorpsraad nie ’n abattoir het nie, aangesien dit ’n noodsaaklike diens is, wat die plaaslike owerheid die gemeenskap moet bied. Kanime het ontsteld geraak en gesê ek moenie druk op hom plaas nie,” sê Van Wyk.

Hy sê hulle het ook die buitensporige verhoging van inspeksietariewe by die Rehoboth-abattoir onder Kanime se aandag gebring, wat sonder beraadslaging met die gemeenskap in werking gestel is.

Volgens Van Wyk het die uitvoerende hoof gesê hy het nie tyd vir hulle nie en “hy is nie oor ’n vergadering met ons begaan nie”.

Hy sê Kanime het hulle die deur gewys en aangeraai om eerder met die burgemeester te vergader.

“Ons het nie aan sy versoek voldoen nie; toe staan hy op en los ons daar in sy kantoor. Ons het besluit om te bly sit, en toe hy later terugkeer, het hy ons heeltemal geïgnoreer. Hy vra toe wat hy vir ons kan doen en ons het hom weer eens vertel ons wil ’n dringende vergadering vir volgende week belê om die kwessie te bespreek en ’n oplossing te vind. Kanime het gesê hy het nie erg aan enige vergadering nie,” sê Van Wyk.

Volgens hom is die Bahnhof-abattoir, sowat 15 km oos van Rehoboth, reeds twee jaar lank in onbruik, ná die dorpsraad die gebruik daarvan verwerp het.

“Hierdie abattoir bestaan uit al die geriewe om vleisprodusente te kan akkommodeer, maar die gebruik van die gerief word streng deur die Rehoboth-dorpsraad se verordeninge verbied.

“Die impak van dié omstandighede op Rehoboth is yslik, nie net ekonomies nie, maar dit hou ook ’n gesondheidsrisiko vir verbruikers in as verskaffers vleis of vleisprodukte bekom, wat nie aan gesondheidsvereistes voldoen nie,” sê Van Wyk.

[email protected]

Soortgelyk

 

Nuwe Psemas-kontrak (weer) uitgestel

5 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Die staat se mediese fonds (Psemas) se nuwe kontrak met gesondheidsdiensverskaffers wat reeds sedert 2017 sloer, is weer uitgestel, die keer tot...

Beeste uit Botswana vul tekort aan

5 ure gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - Sowat vier maande nadat Botswana sy grens vir die uitvoer van lewende slagbeeste na Namibië oopgestel het, kon Meatco op Dinsdag 18...

Boer skiet glo 'mieliedief'

5 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - 'n Boer van Tsumeb het Maandag op ‘n klag van poging tot moord in die landdroshof verskyn nadat hy glo ‘n vermeende...

Weer, Woensdag 26 Februarie 2020

5 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en baie warm weer sal in die Kunene-Wesstreek heers. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met geïsoleerde,...

Samherji-werkers afgelê

5 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word. Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand...

Posisioneer jouself betyds vir groter wins

5 ure gelede | Landbou

Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid...

N$14 miljoen vir kragprojek bewillig

5 ure gelede | Regering

Yandi du Plessis - ’n Sooispitseremonie vir die voorsiening van krag aan die Otjomuise- en Havana informele nedersettings het Vrydag in Otjomuise in die hoofstad...

Houthandel: Bewerings van vuilspel

5 ure gelede | Omgewing

Catherine Sasman – Die ministerie van landbou, water en bosbou het onlangs erken gevalle van onwettige houtoeste het wel plaasgevind sedert ’n moratorium op oeste...

Lesersfoto's 26 Februarie 2020

5 ure gelede | Lesersfoto's

Lesersfoto's 26 Februarie 2020