Regering moet, soos landbou, radikaal transformeer

28 February 2017 | Landbou
Dr. Kobus Laubscher



Daar is 'n interessante verband tussen die nuwe filosofie wat die regering gaan rig in nuwe beleid onder die vaandel van die 2017-begroting, en die reaksie van landbou op verbeterde produksie-omstandighede.

Die droogte was lank en erg genoeg om boere nie net taaier te maak nie, maar die gebrek aan daadwerklike hulp van die staat was grootliks 'n bedekte seën. Die gedwonge speen het die kalf vroeg genoeg leer eet om nou uit te skiet op nuwe, groen gras.

Radikale transformasie was 'n gegewe, want boere moes sente omdraai en bankbestuurders vir nog 'n kans smeek. Die heel beste gevolg was dat dit van hulle koelbloedige kostebestuurders gemaak het.

Wanneer omstandighede­ dit toelaat, is versnelde­ vermenigvuldiging 'n normale aksie vir boere. Niemand hoef hulle aan te moedig om meer met minder te doen nie. Dié staal het al verlede jaar gewys toe kort groeiers laat in die seisoen geplant is om kos op die tafel te kry en 'n paar rand in sy sak waarmee weer begin kon word.

Radikale transformasie strek verder as die opneem van nuwe toetreders tot die bedryf - dit gaan oor hoe om aan te pas en die pas aan te gee in mededingende markte midde in beleidsonsekerheid.



Vyfpuntplan

Enige boer beplan vorentoe op grond van onder meer 'n deeglike bestekopname van wat gewerk het of nie gewerk het nie, en hoekom.

Die feit dat 'n groeiende deel van die landbou-aanbod plek beding het op oorsese winkelrakke en mededinging bied teen ingevoerde produkte op plaaslike winkelrakke, beteken gewoon dat sulke boerderye gevolg gee aan 'n eenvoudige vyfpuntplan.

Eerstens moet daar deeglik besin word oor die huidige stand van sake van die boerdery. Dit omvat 'n eerlike ontleding om die eksterne en interne omgewing te verstaan. Dit is egter belangrik dat die klem ook moet val op die boerdery se sogenaamde interne realiteit. Tweedens is 'n duidelike visie van waarheen die boerdery op pad is net so belangrik as om te verstaan presies wat die boerdery behels, en wat die boer bydra of kan bydra. Selfs al sou oorweeg word om op te hou boer, is 'n strategiese padkaart daarvoor ook nodig.

Die derde element is hoe om te maak om uit te kom by wat vir die boerdery in die vooruitsig gestel word.

Die uitdaging is om bestaande kennis, vermoëns en eksterne voorskrifte te gebruik vir die doeltreffende herbou of strategiese herposisionering.

Dié element kan net tot sy reg kom as die strategiese drywers van boerdery reg benut word. Die veerkragtigheid in die herstel ná normale reën is sprekend.

Die vierde element is die antitese van doeltreffende analises, naamlik om te waak teen analitiese verlamming en om die reis na die nuwe bestemming te begin.

Analise bly die kritieke beginpunt van strategiese denke, maar boerderye wat suksesvol herposisioneer, sal getuig van die waarde van die bou van die nuwe pad terwyl jy daarop loop. Die vyfde en laaste element behels die deurlopende meting van vordering teen die nuutgestelde doelwitte.



Beweging kan die regte aksie wees, maar die vraag of reg beweeg word, betrek doeltreffendheid en produktiwiteit.



Kommersiële landbou

Kommersiële landbou se onafhanklikheid van die staat met selfs die vermoë om leiding te neem in noodsaaklike bilaterale onderhandelinge om landbou beter te maak, is die gevolg van daadwerklike implementering van werkbare strategieë.

Indien mens mooi lees wat gesê is deur onder andere pres. Jacob Zuma en ook in die begrotingsrede oor radikale transformasie, kom dit eerstens neer op 'n dreigement, terwyl dit tweedens die kompas na 'n beter môre voorstel.

Om radikaal te kan transformeer, is revolusionêre leierskap nodig.

Kommersiële landbou se leierskap openbaar sulke kwaliteite, maar daar is tekens van erosie van voortreflikheid in die geledere van die regering, veral as die stryd vír en téén bewese staatkaping ontleed word.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie vergelyk met 'n dam met drinkwater vir vee. Meer geld vir 'n sterker pomp is vermorsing as die boorgat nie sterk genoeg is nie; veral as geleende geld vir die pomp moet betaal.

Te min drinkwater bly ook ontoereikend as te veel diere daarop aangewese is. Wanneer die dam uiteindelik vol is, kan lekkasies nie bekostig word nie. Slim vang sy baas as 'n pypleiding van die dam na 'n tweede suipplek ondergronds lek.

Die regering wil spreekwoordelik meer water in 'n groter dam kry om meer te laat drink, maar as lekkasies en bestuur van die vermoë van die boorgat nie verreken word nie, is dors almal se voorland.

Die verdere negatiewe is dat die regering geld moet leen vir die sterker pomp en die energie wat dié pomp moet aandryf. Radikale transformasie is gevolglik afhanklik van revolusionêre leierskap wat verstaan waarheen die land op pad is, maar in staat is om die pad te bou terwyl daar gestap word na die beter toekoms.

Sodanige transformasie is nie die versiersuiker op die koek nie, maar moet 'n dwarssnit van die samelewing betrek. Wat reeds werk, moet beter werk en wat sukkel om aan die gang te kom, moet gemobiliseer word.

Die 2017-begroting het op 'n elegante manier probeer om hierdie werklikheid te verduidelik. Dit sal slegter gaan voor dit beter gaan. Landbou kan intussen stukrag gee met positiewe groei.

As landbou groei, groei die platteland as gevolg van basiese kragte. Daar is 'n groeiende vraag na insette, volhoubaarheid herstel en indiensneming bly bekostigbaar. Plaaswerkers verdien geld wat aan die plaaslike ekonomie bestee word en die produkte wat die plaashek verlaat, verskaf die brandstof vir waardekettings om te kan werk.

So vind radikale transformasie ongedwonge plaas. Hoe wonderlik sal dit nie wees as die staat sy kwynende fiskale vermoë hierby kon aanhaak en so sy inkomste laat groei nie?

Soortgelyk

 

Hardap-sluise nóg groter getrek

17 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Hardapdam se sluise is om 10:30 nóg groter oopgetrek sodat dit nou 300 m³ water per sekonde uitlaat – ‘n aanpassing...

La Niña skop dalk nóú in

17 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl die weerkantoor ‘n weerwaak vir vandag vir wydverspreide donderbuie oor die westelike helfte van die binneland uitgereik het, meen ‘n weerkenner...

Selfdegeslaghuwelike ly neerlaag … vir nou

17 ure gelede | Howe

Jana-Mari Smith – Drie hoërhofregters het hulle gister sterk ten gunste van die wetlike erkenning van selfdegeslaghuwelike in Namibië uitgespreek, maar het nietemin die aansoeke...

Elisenheimrivier sleep motors weg

17 ure gelede | Weer

Augetto Graig – Die Elisenheimrivier het Woensdagaand motorvoertuie saamgesleep toe dit verby die Farmers Kitchen restaurant by Gastefarm Elisenheim oorstroom het. Me. Rentia van der...

Hardap loop gou vol

17 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die Hardapdam sou na verwagting laat gisteraand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié suidedam se sluise sou oopgetrek moes word....

kykNET se ‘Wat Dit Vat’: Hier’s die kunstenaars

17 ure gelede | Byvoegsels

Dit was pret, dit was plesier en dit was ’n malligheid op note. Toe die briljante musikant en musiekvervaardiger Loki Rothman gesê het hy gaan...

Fees van klassieke musiek ten bate van kanker

17 ure gelede | Byvoegsels

Een van die mees begaafde pianiste in Namibië, Johann van der Merwe, bied môre (22 Januarie) 'n uitvoering aan om geld in te samel om...

Working with high standards of technology

17 ure gelede | Mense

Wetumwene Shikage Not expecting to find a smooth and easy way of work, Romario Arnat describes his working experience as an eye-opener as to how...

Taking steady growing curves

17 ure gelede | Mense

Wetumwene Shikage Timothy Olivier’s passion and dedication has been a key driver in his success not only within Old Mutual, but throughout his...