Regering kan nie Erindi beskostig
Regering kan nie Erindi beskostig

Regering kan nie Erindi beskostig

Die kabinet het gelas 'n skikking moet buite die hof met die eienaars van die Erindi-wildreservaat bereik word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die regering het nie die geld om die private wildreservaat Erindi te koop nie.

Só het die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Stanley Simataa, Donderdag tydens 'n nuuskonferensie oor kabinetsbesluite in die hoofstad gesê.

"Die regering het nie die finansiële hulpbronne om Erindi en die plase waaruit die private wildreservaat bestaan - Erindi Nr. 60, Constantia Nr. 58 en Ojimukaru Nr. 62 - te koop nie," het Simataa gesê.

"Die plase is nie geskik vir hervestiging nie en kan volgens die wet op hervorming van landbougrond (kommersieël) nie as 'n hervestigingsplaas gekoop word nie."

Volgens Simataa het die kabinet gelas die minister van grondhervorming moet in konsultasie met die prokureur-generaal in die beste belang van die regering 'n skikking buite die hof met die eienaars van Erindi onderhandel.

“Die reservaat is tans teen sowat N$2 miljard te koop, maar die Namibiese regering meen dit is N$265 miljoen werd,” het Simataa gesê.

Die regering wil 'n situasie vermy "waar eienaarskap van een buitelander na 'n ander buitelander oorgedra word en wil hê dit moet van buitelandse eienaars na Namibiërs gaan".

Simataa se aankondiging volg nadat die ministerie se regsverteenwoordigers Donderdag in die Windhoekse hoërhof aangedui het die partye gaan buite die hof skik en aan regter Thomas Masuku gesê het hulle sal voorts ‘n gesamentlike statusverslag by die hof indien, berig Elvira Hattingh.

Mnr. Paul Joubert, mede-eienaar van die spogreservaat van 65 000 hektaar in die Omaruru-distrik, het gister aan Republikein gesê "ons wag hierdie week vir die regering op finale uitsluitsel".

Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

AGTERGROND

Erindi het in Oktober 2016 reeds regstappe teen die ministerie van grondhervorming gedoen en die hof gevra om die minister van grondhervorming te beveel om alle waardasieverslae te oorhandig waarop die minister staatmaak om ’n aanbod te maak om Erindi teen N$265 miljoen te koop.

Die maatskappy het ook die hof gevra om te verklaar dat die minister sy grondwetlike plig versuim het om billik, redelik en in ooreenstemming met die wet te handel toe hy die aanbod gemaak het om Erindi teen N$265 miljoen te koop.

Erindi wou ook hê die hof moet die minister beveel om die maatskappy van 'n goedkeuringsbrief te voorsien om Erindi aan 'n nie-Namibiese koper te kan verkoop.

In 'n aangepaste aansoek wat in Junie 2017 by die hoërhof ingedien is, wou Erindi hê die hof moet die minister se aanbod ter syde stel om die maatskappy teen N$265 miljoen te koop.

Erindi het ook aansoek gedoen om 'n hofbevel wat verklaar 'n geskrewe ooreenkoms bestaan waarvolgens die regering die maatskappy teen N$1,92 miljard gekoop het.

Alternatiewelik het die maatskappy 'n hofbevel versoek wat verklaar die minister het die maatskappy se aanbod om hom aan die regering te verkoop, van die hand gewys en dat Erindi nou 'n vrystellingsertifikaat het om die landbougrond in sy besit aan 'n private koper te verkoop.

Erindi wou ook hê die hof moet verklaar die reservaat is geregtig daarop om homself as 'n lopende saak te bemark en te verkoop - ook aan moontlike nie-Namibiese kopers.

Mnr. Sisa Namandje, Erindi se regsverteenwoordiger, het voorheen gerugte ontken dat Erindi aan Chinese verkoop gaan word.

Kommentaar

Republikein 2024-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Brighton 0 vs 4 Manchester City | Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth LaLiga: Real Sociedad 0 vs 1 Real Madrid SerieA: Frosinone 3 vs 0 Salernitana | Udinese 1 vs 2 AS Roma European Championships Qualifying: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City English Championship: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City Katima Mulilo: 16° | 33° Rundu: 16° | 33° Eenhana: 16° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 32° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 18° | 30° Henties Bay: 15° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:03, High tide: 05:02, Low Tide: 23:14, High tide: 17:32 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 05:00, Low Tide: 23:12, High tide: 17:30 Walvis Bay: 16° | 26° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 04:59, Low Tide: 23:12, High tide: 17:29 Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 20° | 34° Keetmanshoop: 22° | 34° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 35° Oranjemund: 17° | 30° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 27° Lubumbashi: 11° | 25° Mbabane: 13° | 17° Maseru: 9° | 23° Antananarivo: 14° | 27° Lilongwe: 14° | 26° Maputo: 18° | 25° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 15° | 27° Durban: 17° | 22° Johannesburg: 15° | 23° Dar es Salaam: 23° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 14° | 26° #N/A #N/A