Rand, JSE juig ook ná vordering met VSA-plan

Impak op ekonomie versag

27 March 2020 | Ekonomie
Nellie Brand-Jonker

Die rand het Woensdag effens versterk en die JSE is sowat 7% hoër ná die nuus dat die reuse-aansporingsplan van US$2 000 miljard van die Amerikaanse regering ’n stap nader aan goedkeuring gekom het.

Reuters berig Amerikaanse senators het ’n ooreenkoms bereik oor die reuse- ekonomiese aansporingsplan om die coronavirus se impak op die ekonomie te versag.

Die Amerikaanse senaat stem later Woensdag oor dié US$2 000 miljard-pakket en die huis van verteenwoordigers stem kort daarna hieroor.

“Hierdie is ’n oorlogtydse vlak van belegging in ons land,” het Mitch McConnell, Republikeinse leier in die senaat, gesê in die toespraak waarin die ooreenkoms aangekondig is ná dae se onderhandeling tussen Republikeinse en Demokratiese wetgewers, Steven Mnuchin, minister van finansies, en ander in die topbestuur van pres. Donald Trump se regering.

“Ons gaan die wetgewing later vandag goedkeur,” het hy gesê.

Intussen het Suid-Afrika se Reserwebank ook ’n broodnodige program begin om likiditeit in die Suid-Afrikaanse geldmark in te pomp deur vir die eerste keer staatseffekte terug te koop.

Nadat buitelandse beleggers op die vlug geslaan het uit Suid-Afrika en ander opkomende lande en plaaslike beleggers ook begin staatseffekte verkoop het om kontant te kry, het likiditeit feitlik opgedroog.

Kontant in die mark is nodig sodat die bankstelsel behoorlik kan funksioneer.

Markkoerse in die effektemark het dadelik begin daal ná die bekendmaking van dié nuus.

ONDERSTEUNINGSPLANNE

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Markets Research, sê besonderhede kom stadig maar seker aan die lig oor die ondersteuningsplanne wat die regering aan klein ondernemings, spazawinkels en werkers wil bied.

“Suid-Afrika leer soos baie ander lande dat voorkoming, hoe pynlik ook al vir die ekonomie, die beste geneesmiddel is.”

Volgens haar het die rand effens agtergebly by sy eweknieë in reaksie op die nuus van Amerika af.

Sy sê die mark bly skepties oor die moontlikheid dat buitelandse beleggingsportefeuljes sal moet herbalanseer wanneer Moody’s Investors Service Vrydag sy aankondiging doen oor Suid-Afrika se kredietgradering.

Chuck Schumer, leier van die Demokrate in die Amerikaanse senaat, het die plan “die grootste reddingspakket in die geskiedenis van Amerika” genoem, berig Reuters.

Hy het daarna verwys as “ ’n Marshall-plan” vir hospitale en mediese behoeftes – met verwysing na die Amerikaans gefinansierde program wat Europa ná die Tweede Wêreldoorlog herbou het.

“Hulp is onderweg, groot en vinnige hulp,” het Schumer gesê.

Die geskrewe ooreenkoms sal eers later Woensdag beskikbaar wees.

Die pakket sal tjeks insluit vir Amerikaners wat hul werk te midde van die pandemie verloor sodat hulle hul rekenings kan betaal, sal werkloosheidsversekering uitbrei en noodlenings aan klein ondernemings verskaf.

Dit sal ook “belangrike nasionale bedrywe” help stabiliseer en finansiële hulp vir hospitale en gesondheidsverskaffers gee om mediese toerusting te kry.

Een voorwaarde van die hulp is dat ondernemings wat beheer word deur Trump en sy familie en sekere lede van die Amerikaanse kongres nie lenings of beleggings van die departement van finansies se programme mag kry nie.

JSE HOOGSTE IN MEER AS WEEK

Die JSE se indeks van alle aandele het tot 44 206 punte gestyg.

Dit is die hoogste intradag-vlak sedert Vrydag 13 Maart voordat pres. Cyril Ramaphosa die eerste maatreëls aangekondig het om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

Die indeks het Dinsdagaand 7,5% hoër gesluit. Die indeks vir top 40-aandele het 8% hoër gesluit.

Die indeks van alle aandele was egter ná Dinsdagaand se sluiting steeds 18% laer vir die maand en 24% laer as ’n jaar gelede.

Die opbrengs op die indeks van alle effekte (Albi), wat ’n maatstaf is van die opbrengs van 20 verskillende tipe staatseffekte en skuldbriewe van staatsondernemings, was 17% laer vir die maand en amper 10% laer as ’n jaar gelede.

Die meeste beleggingsportefeuljes en aftreefondse hou staatseffekte, skuldbriewe van staatsondernemings en aandele.



DOW JONES

Amerikaanse markte het Dinsdag baie skerp gestyg namate die hoop toegeneem het dat die stimulusprogram gou ’n werklikheid gaan word. Bloomberg berig die styging van 11% wat die Dow Jones-nywerheidsindeks vir die dag getoon het, is die grootste styging nog sedert 1933.

Die S&P 500 het 9% hoër gesluit, wat sy grootste sprong sedert Oktober 2008 was. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Skouspel by Victoria-valle

3 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Op 27 Maart het ‘n enorme 3,890 m³ water per sekonde by die Victoria-valle afgestort. Dit is 54% meer as die langtermyngemiddeld...

Covid-19: Albertus Aochamub ontslaan

4 ure gelede | Gesondheid

Denver Kisting – Die Namibiese diplomaat in Parys, Frankryk, amb. Albertus Aochamub, is uit die hospitaal ontslaan.Dit kom nadat hy onlangs met Covid-19 gediagnoseer en...

Hoofstad onder inperking

16 ure gelede | In beeld

Lang rye mense staan Dinsdag voor winkeldeure in die hoofstad se winkelsentrums om een vir een ingelaat te word. Dít omdat hoktydregulasies die getal mense...

Te min Covid-19-toetsstelle, ventilators

16 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Die grootste struikelblokke in die stryd teen Covid-19 in Namibië sluit in ’n gebrek aan ten volle toegeruste isolasiegeriewe in die streke...

Noodmaatreëls geld reeds landswyd

16 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gisteroggend by navraag bevestig die Namibiese regering se Covid-19-noodmaatreëls is reeds op die hele land...

‘Trokdrywers ’n nasionale bate’

16 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – “Ons drywers is nou ons belangrikste bate en ons moet na hul welsyn omsien. Soos dinge nou aangaan, kan dit vir hulle...

Weer, Woensdag 1 April 2020

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en warm weer met verspreide donderbuie in die noordelike en sentrale dele van die land. Geïsoleerde tot verspreide donderstorms word op plekke...

Otjiwarongo reg vir Covid-19

16 ure gelede | Plaaslik

Augetto GraigOtjiwarongo is hard besig met voorbereidings om die nuwe ­coronavirus by die horings te pak. Die sakeleier mnr. Theo Borstlap en plaaslike apteker mnr....

Vyf huurvlugte neem Europeërs na Duitsland

16 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - ’n Totaal van 2 039 Europeërs en Britte wat in Namibië met vakansie was of hier werk, het sedert die naweek op...