Potloodtekeninge laat perde lewe

Perde is haar passie, teken haar genot

04 September 2020 | Kuns en vermaak
Tanja Bause – “Ek is verlief op dié land. Ek dink dit is die mooiste plek in die wêreld en die bes bewaarde geheim waarvan ek weet.

“Daar is iets magies in die lug, in die ruimte en die stilte, in die stof en die lig – veral die lig. Ek kan nie genoeg van die land kry nie en dit sal my inspirasie vir my tekeninge wees vir baie jare. Trouens, ek kan myself nie indink om enigiets anders te teken nie.”

Só praat die bekende potloodkunstenaar Gisela Marnewacke.

Met 'n lootjietrekking van haar ­potloodtekeninge van die wilde perde van die Namib het sy in April vanjaar meer as N$31 000 vir die voedings­program van die Namib Wild Horses Foundation ingesamel.

Gisela is nie in Namibië gebore nie, maar sy het vir 'n paar jaar in die land gewoon en gewerk.

“Ek het in die klein landelike gemeen­skap van Constantia in Suid-Afrika grootgeword. Ons was weggesteek langs die Tokaiwoud en 'n vleiland wat ons klein vallei van ontwikkeling beskerm het.

“My ma was 'n plaasmeisie vanaf Namibië en ek het baie vakansies by my familie in Namibië op hul bees- en wildplase bestee. Ek dink dit is waar my diep verhouding met die land begin het.”

Sy het by die Constantia Waldorf School skoolgegaan.

“Ek was baie gelukkig dat ek in 'n skool was waar kuns baie belangrik was. Van die begin af in primêre skool was die illustrasie van konsepte en verhale 'n ­daaglikse verwagting.

“Ek was van kleins af mal oor teken en ek kan goed onthou toe ek 'n lang 'prente­storie' geteken het. Dit het bestaan uit 'n klomp A4-prente wat ek bymekaar gegom het om 'n lang groep kunswerke te maak wat die opwindende verhale uitbeeld wat aan ons vertel is.”

Volgens Gisela was dit egter op ­hoërskool, toe sy die eerste keer met 'n grafietpotlood kennis maak, dat sy geweet het dit is waarvan sy hou.

“Ek was dol oor die dramatiese kontras wat deur hierdie medium beskikbaar gemaak is. Ek het aangehou met potlood teken lank nadat my vriende na abstrakte skilderye en olieverf oorgegaan het. Ek gebruik vandag nog die gewone grafietpotlode wat kinders in die skool gebruik. Oor die jare het ek duurder kunspotlode probeer, maar ek gaan altyd weer terug na my ou getroue Staedler-potlode.”



RUITERKUNS

Gisela is nie net 'n kunstenaar nie, maar ook 'n instrukteur in ruiterkuns.

“Ek dink aan my tekeninge as 'n vaardigheid wat ek geniet. Ruiterkuns is my ware passie en dit was nog altyd. My ouers vertel dat ek voordat ek nog kon loop na die perde se kamp toe gekruip en by hulle gesit het. Ek kan nie 'n tyd in my lewe onthou waar ek nie absoluut en totaal gek oor perde was nie.”

Sy het baie jonk geleer perdry.

Dit was eers in haar twintigerjare toe sy ruiterkuns ontdek het, wat haar wêreld opnuut verander het.

“'n Nuwe wêreld het oopgegaan, 'n wêreld waarin ek die diep sensitiwiteit en ongelooflike intelligensie van perde begin ontdek het. Ek beskou dit as my lewenswerk om hierdie ­bewustheid te versprei – of dit nou deur kuns is, of deur perde op te lei of mense te leer hoe om perde op te lei en met hulle op 'n ­respekvolle, spesie-gepaste manier te kommunikeer.”



NAMIBIË

Nie net die liefde vir perde het 'n impak op haar tekeninge nie, maar ook die ­Namibiese landskap en woestyn.

“Jy kan nie lief wees vir perde sonder om verstom te wees oor hul skoonheid en grasie nie. Daarom dink ek my waardering vir skoonheid is al van jongs af by my gekweek deur die teenwoordigheid van perde in my lewe. Ek teken nie iets as ek nie dink dit is mooi nie; dit is skoonheid wat ek in my skilderye probeer vasvang.

“Vir my is Namibië die land van lig en donker. Die woestyn is mooi weens die dramatiese skaduwees van die berge en die sagte heuwels en die asemrowende gradiënt van tone sigbaar in die sand- en rotssediment. Dit – in kontras met die skoon, sagte lig – sorg vir die mees ontsag­wekkende en dramatiese natuur­skoon.

“Daar is soveel skoonheid in daardie kontras en balans tussen lig en donker. Ek dink my waardering vir die balans tussen lig en skaduwee is van die ­Namibiese woestyn afkomstig.”



WILDE PERDE

Jare gelede is Gisela deur me. Christine en mnr. Piet Swiegers van Aus genader om tekeninge van die wilde perde te doen.

“Dit was die begin van 'n lang vriend­skap en ek het 'n groot ondersteuner van die perde geword. Hulle is spesiaal in hul eie reg, maar dien ook as 'n herinnering van wie die perd regtig is en hoe hulle streef om te leef, naamlik in ruimte en in geselskap.”

Dit was gedurende die Covid-hoktyd dat sy met die idee van 'n ­lootjietrekking vorendag gekom het om die perde met kos te help.

“Die reaksie was ongelooflik. Die Desert Mustangs-motorfietsklub het ­byvoorbeeld meer as 200 ­kaartjies gekoop. Hulle het boonop al die ­tekeninge wat hulle gewen het, aangebied vir 'n tweede trekking wat later die jaar ten bate van die perde gehou sal word.”



KUNSPRYSE

“By die Bank Windhoek ­Triënnale het ek die tweede plek met 'n tekening van 'n ou doringboom in 'n droë ­rivierbed by Aus gewen. Die drie tekeninge wat ek ­ingeskryf het, is gekoop vir 'n ­permanente uitstalling getiteld Namibia: Art of a Young Generation by die Wurth Museum of Art in Wurth, Duitsland.”

Haar tekening Kraal Sunset, van 'n tipiese kraal op 'n plaas by Brakwater waar sy met haar honde gaan stap het, is deur die Nasionale Kunsgalery vir hul permanente versameling gekoop.

Dit is maar twee hoogtepunte in haar lang kunsloopbaan.

“Ek werk vir die afgelope ses jaar aan my uitstalling oor die wilde perde van die Namib. Ek het 'n sesjarige seun wat my baie besig hou, maar sodra dit klaar is, sal ek my eerste solo-uitstalling in ­Windhoek hou.”

Mense wat haar werke wil sien, kan by haar webwerf wildartt.com gaan inloer.

Soortgelyk

 

Min kans vir vlieg na SA

1 uur gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer - Hoewel Suid-Afrika Donderdag sy grense vir besoekers uit goedgekeurde lande, waaronder Namibië, heropen, moet Namibiërs vir eers verlief neem met die feit...

Remaining powerful through education

1 uur gelede | Mense

Ester Kamati With a key interest in space science and the history of science, watching videos on these topics is Hosea Hashili’s favourite pastime. Hasili...

Weer, Dinsdag 29 September 2020

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm, maar baie warm in die Noorde. Enkele wolke sal na verwagting oor die Zambezistreek voorkom.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Vroeggebore tweeling sterk goed aan

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Twee maande nadat hulle te vroeg op 27 weke in die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek gebore is, kan die ouers...

Nuwe Fenata-voorsitter vanuit ontluikende toerismebedryf

1 uur gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Geskiedenis is gemaak toe die nuwe voorsitter van die Namibiese Toerismevereniging (Fenata), me. Netumbo Nashandi, vir die eerste keer uit die geledere...

Onopgeloste verdwynings, moorde stapel op

1 uur gelede | Misdaad

Ellanie Smit – Terwyl die familie van die 22-jarige me. Shannon Darlikie Wasserfall met die trauma van haar verdwyning ses maande gelede worstel, dreig die...

One ­Africa TV ­partners with NMH

1 uur gelede | Onderwys

Distributed through Namibia Media Holdings' (NMH) youth brand, My Zone, the newly added grade zero to seven lessons form part of a ­collaboration with the...

A look at National Readathon, Heritage Week

1 uur gelede | Onderwys

Enzo AmueleThe National Readathon and Heritage Week, which were launched by the minister of education, arts and culture Ester Nghipondoka, took place last week.The Readathon...

Dagboek vir die landbouer

1 uur gelede | Landbou

Agra ProVision se kursusseAgra ProVision bied van 5 tot 8 Oktober 'n kursus oor plaasbestuur in Windhoek aan en daarna van 6 tot 8 Oktober...