Party se LP’s ‘herroep’

Die nasionale voorsitter sê die sentrale komitee het die volste reg gehad om die twee parlementslede te verwyder wat nie voor 'n dissiplinêre verhoor verskyn het nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die Workers Revolutionary Party (WRP), wat reeds in wanorde gedompel is, beleef algehele chaos ná die verwydering van sy twee parlementslede, mnre. Benson Kaapala en Salmon Fleermuys.

Mnr. August Maletzky het op 17 Mei in sy hoedanigheid as die party se nasionale voorsitter ’n brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering, prof. Peter Katjavivi, gerig.

Hierin het Maletzky gesê tydens ’n vergadering van die sentrale komitee, wat op 28 April gehou is, is besluit dat die twee LP's nie meer lede van die WRP is nie en dat hulle hul parlementêre setels “onmiddellik moet ontruim”.

Die brief is op 23 Mei deur Katjavivi se kantoor ontvang.

Mnr. David Nahongandja, parlementêre woordvoerder, kon nie bevestig of die twee LP's inderdaad gevra is om hul setels te ontruim nie, maar kon wel sê hulle het nie hul parlementêre salarisse verlede maand ontvang nie.

Volgens dokumente het die sentrale komitee-vergadering van 28 April in Maletzky se kantoor, die African Labour & Human Rights Centre, plaasgevind.

Tydens dié vergadering sou Kaapala en Fleermuys rekenskap gee van geld wat die party van die parlement af kry, die opening van die party se First national Bank-rekening, sowel as die aanstelling van Fleermuys en mnr. Klaus Weichhaus as onderskeidelik die visepresident en die waarnemende sekretaris-generaal.

Kaapala en Weichhaus het dié vergadering nie bygewoon nie.

Volgens die besluit wat by die vergadering geneem is, wat Maletzky by sy brief aan Katjavivi aangeheg het, is die twee LP's toe met onmiddellike effek geskors en vyf dae gegee om daarop te reageer.

Daar is verder besluit hulle sou uit die party geskors word indien hulle nie kennis gee dat hulle hul skorsing gaan teenstaan nie.

Dié besluit is deur 16 van die 19 sentrale komitee-lede onderteken.

Kaapala noem dit bedrog

Kaapala, wat by 'n betwiste vergadering, wat op 17 Mei 2015 gehou is, tot die party se president verkies is, beweer die ondertekening van die besluit is vervals.

Hy het bygevoeg die vergadering is nie behoorlik gehou nie, omdat die topvier-leiers (die president, visepresident, sekretaris-generaal en tesourier) nie teenwoordig was nie.

"Ons is nooit na dié vergadering uitgenooi nie," het Kaapala gesê.

Hy het bygevoeg: "Hoe kan ek as president van die party afgesny word? Dit kan slegs by 'n buitengewone vergadering gedoen word. Dit is vervalsing; dit is bedrieglik gedoen. Dit is 'n misdaad. Maletzky behoort in hegtenis geneem te word. Hierdie is regtig sleg vir die land.”

Kaapala het gesê die parlement het 'n bespotting van homself gemaak deur gehoor te gee aan Maletzky se bevele.

“Prof. Katjavivi weet die party is aan die stry. Waar het hy die instruksies vandaan gekry? Hy het die sogenaamde herroeping aanvaar," het hy gesê.

Kaapala het gesê sy regsverteenwoordiger, mnr. Slysken Makando, het reeds briewe aan die parlement gerig om die herroeping te betwis.

Katjavivi het gesê hy ondersteun nie die herroeping van LP's nie, maar het erken hy het die brief ontvang.

Maletzky ‘nie nasionale voorsitter’

Kaapala het verder gesê die posisie van nasionale voorsitter is by die 2015-kongres aan Maletzky gegee bloot omdat die party destyds 'n regsadviseur nodig gehad het.

Hy het gesê Maletzky is intussen as regsadviseur verwyder en kan dus nie meer die nasionale voorsitter wees nie.

"Hy (Maletzky) is nie deel van ons nie. Die mense wat aan die nasionale verkiesing van 2014 deelgeneem het, was voormalige SWATF- en Koevoet-soldate. Dit is skokkend dat hy my van die party kan verwyder," het Kaapala gesê.

Kaapala het gesê Maletzky is "net 'n dromer wat nie 'n dissiplinêre verhoor kan uitroep as die hele party in konflik is nie”.

‘Nie honger vir parlement’

Maletzky het ontken dat hy Kaapala en Fleermuys van die parlement wou verwyder sodat hy een van die WRP se parlementêre setels kan vul.

"Ek het geen behoefte daaraan om in die parlement te wees nie. Ek is nie honger vir die parlement nie," het hy Woensdag gesê.

"August Maletzky wil nie parlement toe gaan nie. Die mense wat regmatig in die parlement hoort, is Attie Beukes (president van die Kommunistiese Party) en sy volgelinge," het hy gesê.

Hy het ook ontken dat hy ooit as die party se nasionale voorsitter verwyder is en het beklemtoon hy het streng by die instruksies van die April-vergadering gehou.

Maletzky het gesê beide Kaapala en Fleermuys is ingelig dat hulle voor 'n dissiplinêre verhoor moes verskyn en is uit die party ontslaan toe hulle nie verskyn het nie.

Hy het gesê die twee is voor die vergadering deeglik oor die klagte teen hulle ingelig.

Maletzky ontken dat die handtekeninge aangeheg by besluit wat by dié vergadering geneem is, vervals is.

Hy het gesê die sentrale komitee-lede wat dié besluit onderteken het, “is bereid om parlement toe te gaan en Kaapala te verwyder”.

“Ons het die reg gehad om hulle te ontslaan, maar ons het hulle in kennis gestel van alle prosedures wat die grondwet aan hulle beskikbaar stel," het Maletzky gesê.

Hy het Kaapala daarvan beskuldig dat hy die party soos sy "individuele eiendom" bestuur het en gesê Kaapala het Weichhaus “uitgekies” om as sekretaris-generaal op te tree, terwyl die party me. Heidi Beukes by sy 2015-kongres tot sekretaris-generaal verkies het.

Kommentaar

Republikein 2024-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United | Liverpool 4 vs 2 Tottenham Hotspur | Brighton 1 vs 0 Aston Villa | Chelsea 5 vs 0 West Ham LaLiga: Rayo Vallecano 0 vs 1 Almería | Sevilla 3 vs 0 Granada | Valencia 0 vs 1 Deportivo Alaves | Celta Vigo 3 vs 2 Villarreal | Osasuna 0 vs 2 Real Betis SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta | AS Roma 1 vs 1 Juventus | AC Milan 3 vs 3 Genoa | Empoli 0 vs 0 Frosinone | Hellas Verona 2 vs 1 Fiorentina | Cagliari 1 vs 1 Lecce #N/A Currency: GBP to NAD 23.22 | EUR to NAD 20.01 | CNY to NAD 2.58 | USD to NAD 18.62 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.67 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.64 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.42 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.64 | USD to EGP 47.54 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1382.9 | USD to ZAR 18.63 | USD to ZMW 27.3 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 76929.5 Up +0.20% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1715.92 Up +1.01% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13375.47 Up +0.10% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26429.69 Up +1.21% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 316.97/OZ UP +0.07% | Copper US$ 4.50/lb DOWN -0.0112 | Zinc US$ 2 903.50/T DOWN -1.71% | Brent Crude Oil US$ 82.84/BBP DOWN -0.0085 | Platinum US$ 971.32/OZ DOWN -0.0074 #N/A