Parlement ‘bang’ vir LPM-leiers

NV-lede maak kapsie teen duo se terugkeer

23 July 2021 | Howe
Mathias Haufiku –Wetgewers vrees hul veiligheid sal in gedrang kom as die leiers van die Landless People’s Movement (LPM), mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb, weer in die Nasionale Vergadering (NV) toegelaat word sonder enige dissiplinêre maatreëls, het die hooggeregshof Woensdag gehoor.

Dit is vervat in hofstukke wat ingedien is deur die regspan van prof. Peter Katjavivi, die Speaker, waarin hy die vrese van parlementslede uitlig.

“Ek is deur verskeie parlementslede genader wat ernstig vrees vir hul veiligheid, sou die aansoekers toegelaat word om die parlement te betree voordat die tugproses afgehandel is. Hulle beskou die aansoekers se gedrag as onaanvaarbaar,” het Katjavivi in sy beëdigde verklaring van 22 April gesê.

Katjavivi het gesê die LPM-duo sal hul dreigemente uitvoer as hulle weer binnegelaat word, en vandaar sy “tydelike aksie, hangende die betrokke komitee wat die saak hanteer”.

Die Speaker, wat aanvoer die twee parlementslede se gedrag kom op kriminele optrede neer, het gesê hy het nog nooit vantevore “lelike uitbarstings” in die NV aanskou vóór Swartbooi en Seibeb hul verskyning gemaak het nie.

Hy het verder gesê sy besluit om die twee te verwyder word deur parlementêre reëls gesteun.

“My optrede was nie bestraffend nie. My aksies is voorkomend, gebaseer op die applikante se uitsprake tydens 'n mediakonferensie kort ná die voorval, waar hulle gesê het hulle sal nie dié uitdagende houding staak nie, en dat hulle nie spyt is nie,” het hy gesê.

ONSTABIELE SITUASIE

Intussen het die hoof van sekuriteit by die parlement, mnr. Gideon Shuuya, die sekuriteit-situasie in die parlement as “onstabiel” beskryf.

Shuuya is van mening die situasie sal oproerig bly as Swartbooi en Seibeb terugkom sonder dat enige dissiplinêre stappe teen hulle gedoen is.

Hy het verder beweer Seibeb “het iemand met geweld gedreig deur te sê hy ken dié persoon se adres. Dit was skynbaar 'n direkte dreigement teenoor die persoon se veiligheid”.

Die sekretariaat was alreeds vóór die chaos, wat tydens president Hage Geingob se staatsrede in April uitgebreek het, besig om die veiligheidsituasie te beoordeel.

BLY WAAKSAAM

In haar veiligheidsverslag van 12 Maart 2021 wat aan Katjavivi voorgelê is, het me. Lydia Kandetu, die VN se sekretaris, reeds aanbeveel die parlementêre beskermingsdiens moet waaksaam wees om te verseker dat wetgewers nie in fisieke gevegte betrokke raak nie.

Seibeb en Swartbooi wat in ’n woordewisseling betrokke geraak het met die Swapo-woordvoerder, me. Hilma Nicanor, het aanleiding gegee tot dié verslag. Destyds het Kandetu ook beweer die duo het amper in ’n bakleiery met 'n ander Swapo-parlementslid, mnr. Pohamba Shifeta, betrokke geraak.

Kandetu het gesê wat die staatsrede-debakel betref, het die twee Katjavivi se waarskuwings geïgnoreer, vandaar die besluit om hulle uit te skop.
[email protected]

FOTO
Speaker Peter Katjavivi het in hofstukke gesê die chaos wat in April in die Nasionale Vergadering uitgebreek het, het vrees onder parlementslede geskep. Foto Argief

Soortgelyk

 

Ernstige ongeluk tussen Grünau en Keetmanshoop

50 minute gelede | Ongelukke

'n Ernstige ongeluk het 80 km van Keetmanshoop in die rigting van Grünau plaasgevind. Noodpersoneel is op die toneel van die ongeluk wat by 'n...

Geen sterftes, 112 nuwe gevalle

1 uur gelede | Gesondheid

Geen nuwe Covid-sterftes is gister aangeteken nie, terwyl 112 nuwe gevalle, 'n positiewe koers van 8%, aangemeld is. Dit sluit 66 leerlinge, drie onderwysers en...

Kuier saam met Cassidy onder die sterre

1 uur gelede | Kuns en vermaak

By die Night Under the Stars (NUTS)-konsert wat op Vrydag 1 Oktober plaasvind, sal die plaaslike musikant Cassidy op die verhoog te sien wees. Dié...

Mariental-hospitaal kry suurstofaanleg

3 ure gelede | Gesondheid

Die Mariental-hospitaal het 'n skenking van N$7 miljoen van Namib Desert Diamonds (Namdia) ontvang. Die omgewingsvriendelike suurstofaanleg met 'n kapasiteit van 500 liter wat aan...

Kleuter sterf ná pot kookwater op hom val

4 ure gelede | Misdaad

'n Driejarige seuntjie van Mondesa, Swakopmund, is Sondag dood, nadat sy boetie (5) 'n pot kookwater op hom afgetrek het. Volgens die polisie in die...

Bordjies verhang in Duitse verkiesing

9 ure gelede | Internasionaal

Die Sosiaal-demokratiese Party (SPD) het volgens voorlopige uitslae gister se algemene verkiesing in Duitsland met 25,7% van die stemme gewen.Dit beteken egter nie mnr. Olaf...

Klein, maar getrain

16 ure gelede | Landbou

William Klazen junior (5) van Windhoek is gister aangewys as die beste kindertouleier by die Windhoek Skou in die afdeling vir nul tot ses jaar....

Tragedie tref ná rugbywedstryd

16 ure gelede | Plaaslik

Andrew Poolman – Die tragiese heengaan van Edwardo Nell kort ná ’n rugbywedstryd Saterdag is vir FNB Wanderers-klub en die rugbygemeenskap ’n diepe skok.“Ons is...

Nida probeer kraaines oor geldsake ontrafel

16 ure gelede | Ministeries

Jo-Maré Duddy – Die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) is besig om ‘n regsmening in te win oor sy wetlike verpligting om die mediesefondsbydraes...