Oud-Namibiër slaan reuseslag in hof

Skadevergoeding van N$39 miljoen

07 July 2021 | Howe
Henriette Lamprecht – Vier jaar nadat ’n oud-Namibiër se skadevergoedingseis vir onregmatige aanhouding teen die visepresident van Ekwatoriaal-Guinee (EG) geslaag het, het hy nou ook die appèlsaak gewen.

Daniel Janse van Rensburg het 549 dae in die berugte Black Beach-gevangenis deurgebring.

Teodoro Nguema Obiang het appèl teen Janse van Rensburg se suksesvolle eis aangeteken, maar het dit nou verloor. Dit beteken twee van Obiang se peperduur eiendomme in Kaapstad kan nou opgeveil word sodat skadevergoeding van miljoene rande aan Janse van Rensburg betaal kan word.

Een van dié bates, 'n spoghuis in Clifton, Suid-Afrika, is in 2004 deur Obiang vir N$23,5 miljoen gekoop. Volgens die hofstukke het Obiang erken hy het nooit in dié huis óf nog 'n eiendom wat hy in dieselfde jaar in Bishop's Court vir N$26 miljoen gekoop het, tuisgegaan nie.

Volgens die Wes-Kaapse hoërhof moet Obiang meer as R39 miljoen aan Janse van Rensburg in skadevergoeding betaal.

Janse van Rensburg (51) is vir 423 dae in die Black Beach-tronk in Malabo in Ekwatoriaal-Guinee en ook vir 126 dae in 'n huis in dieselfde stad aangehou. Hy is in Augustus 2015 uiteindelik vrygelaat. Janse van Rensburg, wat tans in Hoekwil in Suid-Afrika woon, se aanhouding het gevolg nadat 'n regter opdrag gegee het hy was vry om die land te verlaat. Hy is aangehou sonder dat enige aanklagte teen hom ingedien is, of dat hy verhoor of gevonnis is.

Die eerste respondent in sy skadevergoedingseis van N$75 miljoen was mnr. Teodorin Nguema Obiang, tweede visepresident van dié land vir veiligheid en sekuriteit, politieke hoof en in beheer van die land se gewapende magte, polisie, tronke en aanhoudingsgeriewe.

In 2012 is beslag op Obiang se herehuis in die Franse hoofstad Parys gelê, en 'n internasionale lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik.

Janse van Rensburg is van 18 Desember 2013 tot 28 Februarie 2014 in die Black Beach-gevangenis aangehou. Hy is 'n tweede keer hier aangehou vanaf 4 Julie 2014 tot 26 Augustus 2015. In 2014 is hy tussen 28 Februarie en 4 Julie in haglike omstandighede op 'n eiendom in Malabo aangehou waar hy voortdurend dopgehou is.

Janse van Rensburg se skadevergoedingseis was aanvanklik vir N$65 miljoen wat gespruit het uit sy onregmatige aanhouding, gevangenskap en marteling in geriewe onder beheer en bevel van Obiang.

In hofstukke sê hy daar was op enige gegewe oomblik sowat 400 gevangenes in die tronk met net twee badkamers. Volgens hom was hy die getuie van “afgryslike” voorvalle in Black Beach waaronder medegevangenes wat aangerand en verkrag is, sommige wat deur ’n vuurpeloton geskiet is en gewapende magte wat mekaar skiet wanneer hulle gedrink was. Hy sê elke gevangene het verwag hulle kan enige oomblik sterf.

Luidens hofstukke is dit baie duidelik dat Janse Van Rensburg se gevangenskap en marteling hom “geweldig” geraak het en ly hy onder meer aan posttraumatiese stres wat dit vir hom moeilik maak om weer in sy professionele veld te werk. Die geluid van ’n hek wat toegaan en sluit, veroorsaak onder meer geweldige angs; hy sukkel om te konsentreer en te fokus en kry soms tot ’n paar keer per dag paniekaanvalle.
Volgens ’n kliniese en forensiese sielkundige sal hy nie in staat wees om in ’n mededingende werksomgewing te funksioneer nie. Ten spyte van verdere behandeling is dit ook hoogs onwaarskynlik dat sy kognitiewe vermoëns beduidend sal verander. Volgens die sielkundige het Janse Van Rensburg se kanse om in die vrye arbeidsmark te werk “permanent en onherstelbaar” verander.

Volgens nog ’n sielkundige is sy lewenskwaliteit “erg verlaag” as gevolg van sy psigiatriese afwykings. Volgens haar wil dit voorkom asof hy sy lewenslus, belangstelling in die wêreld en sy vermoë om met waagmoed, vertroue en entoesiasme die wêreld in die oë te staar, verloor het.
Janse van Rensburg skryf tans ’n boek waarin hy sy verhaal en die hel van die berugte Black Beach vertel.
[email protected]

Soortgelyk

 

Forklifting failure

2 ure gelede |

Natasja ByleveldAre you OK thinking about unconventional ideas that could uplift society and norms to a higher standard? Do you like a challenge, or do...

Big thinker who is not afraid of taking risks

2 ure gelede | Mense

Contrasting with his considered, analytical, and steady approach to life, Rolf Mendelsohn is an undisputed adventurer. Together with the other founders of Paratus, Rolf...

'Polisiebeampte' pers dokter glo af

2 ure gelede | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Windhoekse dokter is glo afgedreig totdat hy N$30 000 opgedok het nadat hy na bewering deur ’n klaarblyklike polisiebeampte van die...

Miss Aston dra die kroon

2 ure gelede | In beeld

Cobus van der Merwe van St. Blaize Brahman & Sussex Studs gister by die Gobabis Skou saam met sy “Kampioen van kampioene”, Miss Aston 134-12....

Plaaslike skatte nou aanlyn ­beskikbaar

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Kuns- en kunsvlytliefhebbers kan nou handgemaakte Namibiese produkte aanlyn via die nuwe Namibia Craft Shop-webwerf aanskaf. Dié platform sal as die aanlyn katalogus van die...

An easy ride-hailing platform

2 ure gelede |

Wetumwene Shikage The everyday experience for many Namibians of getting a taxi to from different locations has been made more convenient. TaxiConnect provides an easy...

A knack for things that are pleasing to the...

2 ure gelede | Mense

Wetumwene Shikage Madeline Heyman, who trained as a fashion designer, has turned her many years of experience to interior design. She says...

Sacrifices worth making

2 ure gelede | Mense

Tunohole MungobaBorn in Windhoek, Leokadia Jacob is a finance administrative officer of Dolomite Camp, which is part of Namibia Wildlife Resorts (NWR).After completing her studies...

Verkiesingskommissie tel weer: Swapo wen steeds

2 ure gelede | Politiek

Augetto Graig – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het gister die stembriewe van die streekraadsverkiesing vir die Ndonga Linena-kiesafdeling – wat op 25 November 2020...