Otjiwarongo rou oor regslegende
’n Geliefde prokureur van Otjiwarongo is verlede Sondag in sy slaap oorlede.
Mnr. Neels van der Westhuizen sou op 29 Desember sy 97ste verjaardag gevier het.
In 1948 het hy as prokureur op die dorp begin werk, waar hy later saam met sy vennoot, ene mnr. Greef, die Van der Westhuizen en Greef-praktyk gestig het.
Hy was tot 2014 voltyds as prokureur by dié praktyk werksaam.
Van der Westhuizen het jare lank op die Regsgenootskap van Namibië (LSN) se raad gedien, waarvan hy ook vir een termyn die president was.
Hy was onder meer jare lank een van Standard Bank se direkteure.
Die Otjiwarongo-gemeenskap en Namibië onthou Van der Westhuizen as voorbeeldig en hoflik, en ook as die president van die Otjiwarongo-skouvereniging, wat daartoe gelei het dat hy vir ’n geruime tyd ’n omroeper by dié skou was.
Sy liefde vir boerdery was ’n stokperdjie wat hom bekendheid laat verwerf het as een van Namibië se beste Brahmaan-telers.
In 2016 het hy Otjiwarongo verlaat en by sy kinders in Kimberley, Suid-Afrika, aangesluit.
Sy dogter, me. Evelyn de Villiers, het gesê hoewel haar pa op Grootvlei naby Kamieskroon gebore en getoë is, was hy ’n Namibiër in liggaam, siel en gees.
“Hy is deur mnr. Morné du Plessis, by wie hy sy klerkskap gedoen het, aangeraai om die Duitse taal onder die knie te kry. Tipies hy, het hy dit net béter gedoen, en is hy met die mooiste en beste Duitse vrou, me. Ilse Keppke, getroud. Hy het geleer daar is net een manier om Weihnachten en Ostern te vier, en daarmee saam het hy sy hond en kleinkinders baie goed die betekenis van ‘nein’ geleer.
“Hy was streng en kon onverbiddelik wees, maar hy kon ook tussen sy hele trop Brahmaan-beeste inloop en het geweet waar om die groot bul met sy kierie te kap dat die bul soos putty in sy hande is. Hy kon stories vertel en sy kleinkinders se dorings uit hul voete haal dat die operasie in ’n bederfie ontaard,” vertel De Villiers.
“Hy het baie passies gehad en nuus oor goeie reën, goeie bees- of skaappryse en nuwe ontwikkelings het hom opgewonde gemaak. Hy het elke plaas in die Otjiwarongo-omgewing en byna die hele Namibië op die naam geken, en het passievol daarin belang gestel.
“As ek sy heel beste eienskap moet besing, sal dit sy vrygewigheid en onbaatsugtige liefde wees. Hy is nou weg, maar goeie nuus rakende Namibië se reën en vooruitgang sal vir ons altyd ‘goeie nuus vir Pa’ bly,” het sy gesê.
Van der Westhuizen laat twee kinders, hul gades, vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders na.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie