Opsies ná jou sportdae ondersoek

Geldsake

16 May 2019 | Sport
Andrew Poolman - 'n Eendaagse slypskool volgende maand is spesiaal daarop gerig om aan kwesbare, uitgetrede Namibiese sportlui in hul beroeps­loopbane praktiese rigtingwysers te bied nadat hul stewels opgehang is.

Die identifisering van geleenthede vir indiensneming en akademiese of beroepsopleiding is van die sentrale temas wat op Saterdag 15 Junie by die konferensiesentrum van Am Weinberg in Klein-Windhoek ter sprake sal wees.

Gaby Ahrens, voorsitter van die Namibiese Atletekommissie en raadslid van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee, het die leiding met die bekendstelling van hierdie projek geneem.

Net 40 plekke is beskikbaar vir die eerste van die reeks slypskole getiteld “Career Outreach Workshops: Preparation for Lifelong Excellence”.

Bywoning is kosteloos, maar volgens Ahrens is dit noodsaaklik dat belangstellendes vooraf hul plekke bespreek om teleurstelling te voorkom.

Prioriteit word gegee aan gewese sportlui wat op internasionale vlak meegeding en sodoende gewys het dat hulle oor dryfkrag beskik. Plekke sal nietemin verteenwoordigend toegeken word om byvoorbeeld ook afrigters van internasionale presteerders, lede van spansporte, gestremde atlete of reisigers van streke buite Windhoek in te sluit.

Ahrens sê sedert onafhanklikwording in 1990 en Namibië se debuut twee jaar later in Barcelona, het altesame 41 sportmanne en -vroue die land by Olimpiese Speles verteenwoordig.

Die meeste van hulle woon steeds in Namibië, met die marathon-hardloper Elizabeth Mongudhi, middelafstandatleet Agnes Samaria, fietsryers Dan Craven, Erik Hoffmann en Marc Bassingthwaighte onder die enkele uitsonderings.

Ahrens was self 'n driemalige Olimpiese deelnemer in kleiduifskiet. Volgens haar was sy nooit in haar sportloopbaan ten volle professioneel nie en moes altyddeur ook werkverpligtinge balanseer. “Dit was uitdagend, maar dit het my gehelp om ná my uittrede die oorgang na 'n werklewe gladder te laat loop.

“Die positiewe ding is dat sportmense van nature nie vir 'n uitdaging terugdeins nie. Olimpiese atlete dien as rolmodelle en behoort die rol van mentors in hul eie lande te vervul. Deelnemers in individuele en span­sporte kan leer uit mekaar se ondervindings,” sê sy.

Beplanning vir die toekoms ná uittrede as aktiewe atleet kom onder die soeklig by volgende maand se slypskool.

“Atlete word gedurende en ná hul sportloopbane in die gesig gestaar deur die vraagtekens om hul nuwe lewensdoel te vind en om in die professionele sakewêreld in te pas. Dikwels is hulle sodanig op hul doelwitte in sport gefokus dat hulle oor jare nie professionele vaardighede ontwikkel nie, wat dit moeilik kan maak om aanstellings in die beroepswêreld te vind wanneer hul dae verby is.”

Die aanbieder van die slypskool is Kady Kanouté Tounkara, wat die onderkaptein van Mali se nasionale vrouebasketbalspan by die 2008 Olimpiese Spele in Beijing was.

Sy het ook vir etlike jare op professionel vlak by Europese klubs (Spanje, Frankryk en Oostenryk) gespeel en was vyf keer 'n lid van die kampioenklub in Frankryk. Sy het 'n graad in bemarking en bestuur aan Fordham-universiteit van New York verwerf en het ook suksesvol in die Amerikaanse studenteliga gespeel.

Die 40-jarige Malinees werk steeds as vrywilliger, afrigter en promotor van die Career Outreach-program wêreldwyd en veral in Afrika.

Die koste van die aanbieding word deur die Olimpiese Solidariteitsbeweging gedra, wat ook tot die koste van akkommodasie vir bywoners van buite Windhoek sal bydra.

Die aanduiding by gister se bekendstelling was dat meer werkskole oor hierdie onderwerp later ook op ander plekke in Namibië beplan word.

• Vir navrae kan Gaby Ahrens by e-posadres [email protected] bereik word.

Sy het ook die hulpbronne en werklike stories van inspirasie deur uitgetrede sportlui op die webblad www.olympic.org/athlete365 as 'n goeie beginpunt aanbeveel.

Soortgelyk

 

'n Seder val in Swapo

9 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

9 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

9 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

9 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

9 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...

Water: Hou rekord van elke druppel

9 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh - Tot 90% van die water in Windhoek wat onnodig weens lekkasies of buitensporige waterverbruik verlore gaan, sou gespaar kon word indien huishoudings...

Semifinalis onttrek aan Mej. Namibië

9 ure gelede | Gebeure

Tanja Bause - 'n Semifinalis in die Mej. Namibië 2019-kompetisie, ­Michelle Pretorius, het aan die geleentheid onttrek. Volgens haar ma, me. Anke Pretorius, het Michelle...

'Millenniërs werk anders'

9 ure gelede | Ministeries

Augetto Graig - Werkloosheid onder die jeug is 'n nasionale krisis wat op alle vlakke, nie net deur die regering nie, dringend aangespreek moet word....