Oproer oor olifantjag

28 April 2021 | Omgewing
Francoise Steynberg – 'n Storm het weer op sosiale media losgebars toe 'n olifantbul Saterdag naby Waterberg gejag is nadat dit as probleemdier deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme verklaar is.

Die professionele jagter Jofie Lamprecht is op sosiale media valslik daarvan beskuldig dat hy die jagtog waargeneem het en moes daarna vure doodslaan deur 'n mediaverklaring uit te reik.

“Ek ontken dat ek die probleemolifant Saterdag gejag het. Hoewel ek deel van die fasiliteringsproses was, was ek slegs administratief betrokke,” het Lamprecht gesê.

Volgens 'n verklaring van die ministerie het die olifant met 'n buiteband om sy regtervoorpoot amok op plase tussen Otjiwarongo en Otavi gemaak.

“Beamptes het die olifant vir die afgelope twee weke gemonitor, waar hy verlede Woensdag die Waterberg-platopark binnegegaan en skade aan die heining berokken het,” het die ministeriële woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, gesê.

“Die ministerie het die heining herstel, maar die olifant het ook skade aangerig aan heinings op plase waardeur hy geloop het.”

Vanweë die sowat duisend buffels en ander waardevolle wildspesies in dié park, het die ministerie besluit om die olifant van kant te maak “weens sy voortdurende teenwoordigheid in en rondom die park”.

Muyunda sê die risiko van 'n stukkende heining is dat die buffels kon ontsnap, wat kan meebring dat 'n bewegings­verbod op vee ingestel word.

Lamprecht sê op sy beurt die “siektevrye” buffels kon deur beeste met bek-en-klouseer besmet word.

Lamprecht het bevestig die bul was nie met 'n nekband toegerus nie en absesse het reeds aan sy poot met die buiteband gevorm.

“Verskeie mense meen die buiteband sou nie vanself kon afkom nie. Hy sou teen groot koste verdoof moes word om die buiteband te verwyder,” verduidelik Lamprecht.

“Hierdie poot het erge pyn vir die olifant veroorsaak en hy sou 'n aaklige, uitgerekte lydingsdood gesterf het.”

Lamprecht bevestig dat die olifant eties onder leiding van 'n Namibies geregistreerde professionele grootwildjagter van 'n ander maatskappy, met sy internasionale kliënt gejag is.

“'n Totaal van N$127 500 is uit die olifantjag verkry waarvan N$20 000 aan die ministerie se Wildprodukte-trustfonds gaan en N$107 500 aan die Platveld Boerevereniging vir skade wat deur die olifant aangerig is.”

Volgens Lamprecht sal die geld deur 'n regsverteenwoordiger se trustfondsrekening hanteer word en volle verrekening kan daarvoor gegee word.

Muyunda sê dit hou vir die ministerie geen plesier in om enige dier as 'n probleemdier te verklaar nie en “die besluit is ook nie weens finansiële redes geneem nie”.

Hy sê daar is nog twee olifante in kommersiële boerderygebiede tussen Otavi en Grootfontein wat grootskaalse skade aangerig het.

“Die ministerie monitor die situasie en kyk na die moontlikheid om hulle te vang en na 'n nasionale park of ander geskikte habitat te verskuif waar hulle nie konflik met mense sal veroorsaak nie,” het die woordvoerder gesê.

“Die ministerie vermoed die drie olifante kom van die Grootfontein/Mangetti-plaasgebiede, die Tsumkwe-distrik of die Khaudum Nasionale Park.”

Intussen het anti-jagters gister steeds vergeefs probeer om die grootpoot se lewe te red deur vyf keer meer as die jagprys aan te bied, maar die spreekwoordelike koeël was reeds deur die kerk.– [email protected]

Soortgelyk

 

Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

10 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – Huldeblyke het gister uit onderwys- en ander kringe ingestroom nadat die skoolhoof van Pro-Ed Akademie se hoër­skool op Swakopmund, mnr. Henry McCarthy,...

ReconAfrica voor hof gedaag

10 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer – Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) het sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur 'n familie by Mbambi...

Weer vir 10 Mei 2021

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en warm...

Nog NBC-werkers keer terug

10 ure gelede | Arbeid

Hoewel die NBC-staking landswyd voortduur, het 74 werknemers intussen teruggekeer werk toe en is die Engelse radiodiens, National FM, weer terug op die lug. Die...

Noodkreet teen misdaadvlaag

10 ure gelede | Misdaad

Tunohole Mungoba op Oshakati – Die Oshakati-stadsraad het Donderdag 'n openbare vergade­ring in Okandjengeni-Suid op dié dorp gehou waar verskeie veiligheidskwessies geopper en klagtes teen...

Dwelms van amper N$2 miljoen gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie is in April meer mense in besit van dwelms in hegtenis geneem as gedurende Maart. In Maart is 106 mense in...

Nuwe lewe in onooglike kraghuis geblaas

10 ure gelede | Kuns en vermaak

Claudia Reiter – Die kunstenaars Kat en Lens het die mure van 'n transformator-substasie in Conrad Ruststraat in Klein Windhoek geverf en verfraai. “Ons ry...

Geen partytjie vir Nujoma

10 ure gelede | Gemeenskap

Die kantoor van die stigterspresident Sam Nujoma het aangekondig hy gaan nie op 12 Mei sy 92ste verjaardag met 'n openbare byeenkoms vier nie. Dié...

Betaaldag hier vir Air Namibia se personeel

10 ure gelede | Vervoer

Ogone Tlhage – Die minister van openbare ondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het bevestig die regering het 'n gedeelte betaal van die N$278 miljoen wat...