Ons Taal: Militu00eare range
Ons Taal: Militu00eare range

Ons Taal: Militêre range

Herman Beyer
In hierdie bydrae kyk ons verder na die etimologie van die benaminge van militêre range in die leër. Ons sal – soos altyd in ’n weermag – heel onder begin, oftewel by die ranglose troep.

Teen 1583 het die Nederlandse woord “troep” verwys na “gesamentlike manskappe”, soos die Etimologiewoordeboek van Afrikaans aandui. Dié woord kom van die Middel-Franse woord troupe, wat in die dertiende eeu die betekenis “groep mense, skare” sou dra.

(Ons vind die uitgebreide betekenis vandag in Engels in die versamelnaam troop, soos in a troop of monkeys.) Verder die verlede in begin ’n waas die oorsprong van dié woord omvou.

Moontlik kom dit van die Frankiese woord throp, wat “versameling, byeenkoms van mense” sou beteken, of dit hou verband met die Ou Engelse ±dorp of Ou Noorse thorp, wat ons vandag natuurlik as “dorp” ken.

Die betekenis “soldaat sonder rang” het in Afrikaans self ontwikkel.

Die rangnaam “korporaal” is van Nederlands geërf, maar kom van die Middel-Franse corporal af, wat op sy beurt aan die Italiaanse caporale ontleen is.

Dit is ’n afleiding van capo, wat “hoof” beteken, en op sy beurt kom van die Latynse caput af, wat “hoof, kop” beteken (van die Proto-Indo-Europese wortel kaput - “hoof, kop”).

Die rangnaam “korporaal” stam dus uit die feit dat die korporaal die hoof is (of was) van ’n groep (corpus “liggaam”) manskappe.

Verwante Afrikaanse woorde is “korporasie”, “korps”, “kapitaal”, “kaptein” en “kapituleer”.

Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer