Ons taal
Soetegoete
Met die somervakansie voor die deur het ek stadigaan oor die naderende luilekkerdae begin fantaseer. Onmiddellik sien ek flikkerende rooi liggies en ‘n strik! Nee, ek verwys nie nou na vrolike kersliggies en linte om geskenke nie. Dis daai strik waarin ek my kop al male sonder tal gesteek het. Lekkerrr – ai, al daai lipleklekkernye van tuisgebak tot al die spesiale bederfies wat hierdie tyd van die jaar pronk in Swakopmund se winkels. (Dis wat winkels doen: winkels wink!)
Oe, ek beter nie te lui wees nie. Ek dink aan die pragtige uitdrukking: Dit gaan so op ‘n sukkeldraffie wat beteken dat dit nie te goed of te sleg gaan nie. Ek reken ek sal hom maar letterlik moet deel maak van my vakansieroetine, want as dit te goed gaan met my smaakkliere, mag dit dalk net te sleg gaan met my kleresmaak, en ‘n knellende knoop is erger as streepsuiker. En ek wil tog nie met ‘n groen hart en geelbaadjie in my eie son staan terwyl ek kyk hoe ander met mooie gemak op die strand baljaar nie.
Dalk moet ek maar by voorbaat my suikertand trek en heeltemal ophou met die soetgoed waarvoor ek my tande slyp. Maar nee, ek wil darem ook nie net met lang tande sit en knaag aan selderystokkies en my komkommer nie.
Die uitdrukking na suur kom soet hou belofte in, want ‘n nagereggie na ‘n gesonde maaltyd is die goue middeweg, anders verander ek dalk net in ‘n ou suurknol.
Petronella F Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie