Onderwyskrisis sny diep

Khomas spook hard

21 January 2019 | Ministeries
Denver Kisting – Die Khomasstreek benodig “baie dringend” agt hoërskole en vier laerskole om die onderwyskrisis in dié streek te besleg.

Aan die einde van verlede week moes 707 voornemende graad 8’s nog plek in ’n hoërskool in Khomas vind.

Daarnaas was 143 voornemende graad 1’s – amper twee weke nadat die 2019- akademiese jaar reeds afgeskop het – steeds nie geholpe nie.

Mnr. Gérard Vries, die direkteur van onderwys in Khomas, sê sy streek het tans 54 laerskole en 30 hoërskole.

Dit is ver van voldoende om in die toenemende vraag na plek in ’n skool te voorsien, sê hy.

Op die 15de skooldag – ’n aanvaarde maatstaf – was daar verlede jaar 89 346 leerlinge in totaal in skole in die streek, sê Vries.

“Die Khomasstreek beleef jaarliks ’n toename van tussen 5% en 7% in leerlinggetalle. Dié werklikheid, wat ’n ooraanbod van leerlinge teweegbring, plaas druk op die beskikbare fisieke geriewe, soos klaskamers, ablusiegeriewe en koshuise.”

Volgens hom is die plasinguitdaging vererger deur duisende graad 8’s en 9’s in die streek wat, teen die agtergrond van die inwerkingstelling van die hersiene leerplan, nie geslaag het nie.

“Dit het tot opeenhopings in graad 8 en 9 gelei,” het hy Vrydagoggend aan Republikein gesê.

Van die 6 613 leerlinge, wat verlede jaar in die streek in graad 8 was, was 1 761 onsuksesvol. Dít verteenwoordig meer as 26%.

Op die graad 9-front lyk die prentjie eweneens somber: Van die 4 838 leerlinge wat verlede jaar in graad 9 in die streek was, was 1 119 onsuksesvol – sowat 23%.

“Hierdie leerlinge hou die plekke van graad 8’s wat moet aanbeweeg,” verduidelik Vries.

Hy het opnuut klem geplaas op ouers se verantwoordelikheid om ook eienaarskap te aanvaar vir hul kinders se opvoedingsreis.

Onder meer, sê hy, moet ouers en voogde toesien dat hulle reeds tydens die vorige akademiese jaar aansoek doen om plasing by laer- en hoërskole.

Vries het voorts gevra ouers moet die streekdirektoraat aan die hand vat en in daardie verband streng by aansoekspertye hou.

Wat die 2019- akademiese jaar spesifiek vir graad 8 betref, het die streekdirektoraat reeds in Julie 2018 met sy beplanning begin. Hy hou ’n volledige databasis by om plasings te monitor.

Maar, sê hy, ouers laat weet dikwels nie die ministerie as hulle elders geholpe geraak het nie.

Hy het ook ’n beroep gedoen op die private sektor en semistaatsinstellings om hulle by moontlike oplossings te skaar “deur klaskamers en ablusiegeriewe as deel van maatskaplike verantwoordelikheid en nasiebou op te rig”.

Vries sê vyf tente is reeds opgerig en een klaskamer ingerig om die las van graad 1’s vir vanjaar ligter te probeer maak.

Hiernaas sal die graad 3-leerlinge van die Monte Christo-projeklaerskool van 28 Januarie af smiddae by die Havana Laerskool onderrig word.

Graad 4- tot 7-leerlinge aan die Laerskool Dr. Abraham Iyambo sal in tente op dié perseel klas loop sodra watertoevoer en tydelike ablusiegeriewe beskikbaar word, sê hy.

Me. Sanet Steenkamp, die permanente sekretaris van onderwys, kuns en kultuur, het verlede week opnuut by ouers gepleit om geduld aan die dag te lê.

Sy het gesê amptenare van die ministerie probeer hul bes om die situasie te bestuur.

Soortgelyk

 

Honderde miljoene vir veevoer nodig

18 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Die 2019 droogte is ‘n omvangryke ramp en ten minste N$170 miljoen is nodig om net 5 persent van die nasionale veekudde...

Min of geen handboeke vir nuwe leerplan

18 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Óf drupsgewys óf glad nie. Dit is volgens verskeie skole oraloor die land die huidige stand van handboeke vir die nuwe leerplan...

Regional council must account for vandalised buildings

18 ure gelede | Infrastruktuur

AUSSENKEHR – The //Kharas Regional Council must account for government buildings that are vandalised and left to become white elephants, the minister of urban and...

Swapo beslis dorpsraadslede se lot

18 ure gelede | Politiek

Dorpsraadslede van Okahandja en Rundu moes Maandag ure lank by Swapo se hoofkantoor in Windhoek wag om te hoor wat hul lot is. Verskeie nasionale...

Groeiende stad druk rioolstelsel

18 ure gelede | Infrastruktuur

Elvira Hattingh - Die Windhoekse munisipaliteit erken sekere rioolpype in die stad moet opgradeer word om die groeiende getal stadsbewoners te akkommodeer. Terselfdertyd beloof hulle...

Weer vir 19 Februarie 2019

18 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Bloedige hittetoestande word vir die res van die week in die binneland verwag.BINNELAND: Mooiweer en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik...

Gammams staan steeds stil

18 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh – Windhoek se munisipaliteit (CoW) sê hul Gammams-watersuiweringsaanleg staan steeds stil nadat swaarbrandstofolie meer as twee weke gelede in die stad se rioolstelsel...

‘Vroue is sterk’

18 ure gelede | Maatskaplik

Mariselle Stofberg – TrueKrav Namibia het Donderdag, in samewerking met die Namibiese Vrouevereniging en Kosmos, ’n praatjie oor geslagsgeweld in die hoofstad aangebied.TrueKrav bied...

Namcor wil vry van sekere wette wees

18 ure gelede | Energie

Elvira Hattingh - Namibië se Nasionale Petroleumkorporasie (Namcor) het ‘n aansoek by die Namibiese Kompetisie-kommissie ingedien om vir die volgende 10 jaar vrygestel te wees...