Ondanks swaarkry, droom sy groot
Terwyl duisende kinders in die land bevoorreg is om skool toe te gaan met 'n kosblik of 'n geldjie om iets by die snoepie te koop, is daar ewe veel kinders wat elke dag met 'n leë maag moet aanpak.
Dit is laasgenoemde wat maniere moet vind om geld te maak sodat hulle kan kos koop – en dit terwyl hulle eintlik op skoolwerk moet konsentreer.
Kinders wie se ouers werkloos is, maak staat op staatskole se kosprogramme en die bietjie kos wat hul ouers kan voorsien.
Een van dié kinders is die negejarige Tanja Tsuses wat op Usakos woon waar sy 'n graad 3-leerling aan die Primêre Skool Elifas Goseb is. Sy hou van Engels en wiskunde en droom daarvan om eendag 'n verpleegster te word.
Sy bly saam met haar ma, me. Biola Tsuses (50), in die Hakhaseb informele nedersetting in 'n sinkhuisie sonder water of krag. Terwyl haar pa op 'n plaas werk, maak me. Tsuses blikkies by die asgate bymekaar om 'n klein inkomste te genereer. Gemiddeld maak sy sowat N$500 per maand deur dié verkope.
Tanja het aan Nampa gesê dit is nie vir haar vreemd om honger te gaan slaap nie.
“Soms gaan ons slaap omdat daar nie kos is nie. Ná skool help ek my ma om blikkies bymekaar te maak sodat ons geld het vir brood,” het sy gesê. Omdat sy van skoolgaan hou, gebruik sy soms geld om potlode te koop.
Andersins maak sy staat op die skool se voedingsprogram vir minstens een ete per dag.
Volgens me. Tsuses dra Tanja se pa ook elke maand N$200 tot die huishouding by.
Nadat die besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts (NWR), me. Zelna Hengari, van Tanja en haar ma te hore gekom het, het sy klere en kos aan hulle geskenk. Sy het ook onderneem om teen die einde van die maand vir hulle 'n ordentlike sinkhuis te bou.
Tanja en haar ma se verhaal is nie uitsonderlik nie, maar die lot van duisende kinders veral op die platteland.
Baie van die kinders druip weens die armoede waarin hulle leef; baie ly honger en gaan nie skool toe nie of kan weens hul leë mae nie konsentreer nie.
Ondanks hierdie moeilike omstandighede, droom Tanja daarvan om eendag wanneer sy groot is, 'n huis vir haar ma te bou sodat hulle uit die sinkhuis kan trek. – Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie