Omaheke-geldsake lig wenkbroue

Uitvoerende hoof kry skuld

02 September 2019 | Regering
Augetto Graig



Die Omaheke-streek­raad se geldsake is onlangs bevraag­teken toe die staande parlementêre komitee op openbare rekeninge oor die 2017-boekjaar in die soeklig geplaas is.

Die komitee se vrae spruit uit die ouditeur-­generaal se verslag oor die Omahekestreek se rekords vir 2017.

Vrae is gevra oor drie spesifieke bankrekeninge van sowat N$301 000, wat nie in die betrokke jaar se boeke aangeteken is nie.

Die ouditeur-generaal se kantoor het ook 'n verskil van N$1,76 miljoen tussen die streekraad se ­finansiële staat en sy bankrekeninge ontdek.

Omaheke se bateregis­ter was onvoldoende en N$2,48 miljoen se bouwerk kon nie bevestig word nie.

Die ouditeurs se bereke­ning van die streekraad se batewaardes van N$9,2 miljoen was boonop sowat N$900 000 minder as die raad se finansiële jaarverslag-syfer van N$10,1 miljoen.

Nog kwessies wat wenkbroue gelig het, sluit in bankrekeninge wat twee keer ingeskryf is, onvoldoende aantekeninge van inkomste uit elektri­siteitsdienste, dubbele aantekeninge van ander inkomste, en 'n tekort aan ondersteunende dokumente vir die besteding van sowat N$2,4 miljoen.

Mnr. Erwin Katjizeu, 'n Omaheke-streekraadslid en lid van die Nation­al Unity Democratic Organisation (Nudo), het die blaam vir die streek se chaotiese geldsake vroeër vandeesmaand voor die deur van me. Maria Vaend­wanawa, die streek se uitvoerende hoof, gelê.

In 'n voorlegging aan die raad het Katjizeu geëis dat Vaendwanawa geskors word onderhewig aan 'n ondersoek na onreëlmatighede, onbevoegde bestuur en onregmatige uitbetalings.

Katjizeu het spesifiek na die verhouding tussen die streekraad en Integrated Global Business Solutions (IGBS) verwys.

“IGBS het volle beheer van die raad se ­finansiële stelsels gehad. Selfs hul interns kon kom en gaan in die finansieskantoor soos hulle wou, wat vir die Omaheke-streekraad 'n risiko ingehou het.

“Konsultante het die werknemers se inteken-besonderhede gebruik om op die stelsel in te gaan en enige veranderings aan te bring terwyl die werknemers met vakansie was. Dit het die werknemers se integriteit in die gedrang gebring,” het Katjizeu in sy voorlegging gesê.

Volgens hom het die kontrak vir dié konsultante op 31 Mei 2019 geëindig, maar oorbetalings aan IGBS is nog op 21 en 25 Junie 2019 gemaak.

Volgens die oorspronk­like kontrak sou IGBS N$161 000 verdien, en self vir reis- en verblyfkostes verantwoordelikheid neem, maar Katjizeu sê die firma is N$308 200 betaal – wat reis- en verblyfkostes insluit.

Van die verblyfsrekeninge is twee keer geëis, terwyl ander bloot oorbetaal is sonder enige poging om die oorbetaling te verhaal, het hy gesê.

Van 13 tot 15 Augustus het IGBS opleiding aan die streekraad verskaf sonder die goedkeuring van die raad se verkrygingskomitee, het hy gesê.

Katjizeu het die skielike kansellasie op 10 Augustus van die raad se kontrak met Omaka Trading vir vee-aankope ook uitgelig.

Dít skaars twee maande ná 'n kontrak met Vaendwanawa hiervoor gesluit is.

Hy het gesê die streekraad se bedryfsrekening is uitgeput en N$1,7 miljoen is daarná uit die streek se belastingrekening na die bedryfsrekening oorgeplaas.

Volgens Katjizeu is 'n vraghouer gekoop om as kantoor by Buitepos te dien, wat nooit gelewer is nie ondanks die feit dat die kontrakteur reeds betaling daarvoor ontvang het.

Verder is die koste van die bou van 244 toilette nooit aangepas van die oorspronklike kontrak wat 320 toilette vereis het nie, en die verkeerde faktuur het die uitbetaling vergesel, het hy gesê.

Mnr. Tauno Iileka, woordvoerder vir die Omaheke-streekraad, sê Vaendwanawa is steeds in haar pos, en die moont­likheid van dissiplinêre stappe teen haar bly 'n interne saak.

Hy sê die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling betaal maandeliks 'n toelaag in die bedryfsrekening in.

Die Buitepos-kwessie word deur die staat se prokureur-generaal hanteer, asook die gekanselleerde veekontrak.

Iileka het wel bevestig die kontrak met IGBS het op 30 Mei verstryk, en is nooit vir die betaling van reis- en verblyfskostes aangepas nie.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Moenie polisie-, weermaglede verfilm nie

1 uur gelede | Regering

Die ministerie van verdediging het lede van die publiek gewaarsku om nie foto’s of videos van lede van die Namibiese polisie of die weermag (NDF)...

Teko-trio vrygespreek

6 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Die sakevrou, me. Teckla Lameck, en haar twee vennote, mnre. Yang Fan en Jeroboam (Kongo) Mokaxwa, is vanoggend in die hoërhof in...

Dokters wis nie van voorskrifte

16 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht Geen amptelike kennisgewing is aan lede van die twee grootste verenigings vir dokters in die land uitgestuur oor die herske­dulering van medikasie, insluitende...

Regering kry skuld vir SOE-gemors

16 ure gelede | Regering

Denver Kisting Die regering is 'n swak aandeelhouer.Só het die adjunk- uitvoerende direkteur van staatsdiensondernemings, me. Louise Shixwameni, gister op die ontbytprogram Good Morning Namibia...

Teenstropery: 280 polisielede veg saam

16 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg Altesaam 280 polisielede van oraloor die land word in teenstropingseenhede op 'n driemaandelikse roteringsbasis in die Palmwagkonsessie en die Etosha en Bwabwata Nasionale...

Meer as N$350 000 se goedere kry voete

16 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het skelms Woensdag om 14:00 die venster van 'n voertuig in Windhoek se noordelike nywerheidsgebied stukkend geslaan. Die insittende...

Weer vir 18 September

16 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Baie warm toestande sal oor die binneland voortduur.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Suide, andersins sonnig en baie tot bloedig warm.KUS: Bewolk...

Konferensie fokus op gehalte-onderrig

16 ure gelede | Onderwys

Die Nasionale Raad vir Hoër Onderrig het, in vennootskap met die Namibiese Kwalifikasie-owerheid en die Universiteit van Namibië (Unam), die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie...

'n Kolwyntjie vir Nadine

16 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause'n Elfjarige meisie van Windhoek het verlede jaar tydens die Internasionale Dansfees in Suid-Afrika stof in ander deelnemers sê oë geskop, en is hard...