Om te stem, of nie te stem
JOHN FREDERICKS SKRYF:
Stemreg is een van die fundamentele regte wat geen mens net moet laat vaar omdat die persoon met verloop van tyd moedeloos geword het met 'n bestaande regering of politieke stelsel nie.
'n Persoon se reg om te stem vir 'n politieke kandidaat of party van sy keuse kan 'n verskil maak in die politieke en ekonomiese rigting van 'n land, ongeag of die party of kandidaat verloor of wen.
Ons land ervaar baie uitdagings, en die afgelope jare het die land swaar gebuk gegaan onder wanbestuur, wanbesteding en wanpraktyke wat 'n algehele gees van wanhoop onder die burgers van die land meegebring het. Landsburgers het mismoedig geword met die slakkepas van implementering van die mees basiese besluite wat geneem was, maar jare later nog nie tot uitvoering gekom het nie.
Dit is 'n feit dat ons 'n geweldige tekort het aan opgeleide, professionele leierskap, en wanneer mense tot leierskapsposisies verkies word, weet hulle nie hoe om die nuwe status te verwerk nie, en uit onkunde onstaan arrogansie.
Ek was erg geskok en verneder toe die president die stelling maak dat “Namibiërs net kan kla, en hoekom kla hulle”. Dit het my tot die besef laat kom dat leierskap, ongeag of die persoon verkies of aangestel is, 'n enorme verantwoordelikheid aan die leier gee. Baie van ons leiers faal omdat ons nie beskik oor die mees elementêre beginsel van leierskap nie, naamlik menslikheid.
Ons politieke penarie en gepaardgaande leierskapkrisis is 'n situasie wat met goed beplande en uitvoerbare, realistiese idees verander kan word. Ons kan ons land, ons gemeenskappe en ons toekoms op die regte pad plaas, maar dan moet ons vasbeslote wees in ons plig om die party of leiers waarin ons glo, en wat ons oortuig het dat hulle ons mense en ons land se belange en prioriteite eerste stel, tot verantwoording te roep.
Die antwoord is om te gaan stem, ongeag die gees van moedeloosheid en selfs woede teenoor sekere leiers en partye. Jou stem is jou wapen, ongeag hoe stom dit mag wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie